Moody’s meen Mynbouhandves, gronddebat strem ekonomie

land-kristalbal-toekoms-McKylan-mullins-op-pexels

Die kredietgraderingsagentskap Moody’s sê die gronddebat, Mynbouhandves en NGV kan die ekonomie in die toekoms verder strem. Foto: McKylan Mullins/Pexels.com

Suid-Afrika is weer oor die vingers geraps oor dit wat beleggers as ’n populistiese beleid en -uitsprake beskou. Die graderingsmaatskappy Moody’s het uitspraak oor die Mynbouhandves en gronddebat gelewer.

Volgens Moody’s sal die land se ekonomiese vooruitsigte deur die twee aangeleenthede gestrem word.  Die kredietgraderingsagentskap sê die ekonomiese vooruitsigte sal verder verswak word deur swakker sakevertroue wat aangeblaas word deur die gronddebat en die hoogs omstrede Mynbouhandves.

Moody’s se onsekerheid oor hoe die gronddebat opgelos gaan word kan die land duur te staan kom. Ontleders sê die nasionale gesondheidsversekering sou hierby getel kon word, maar dit is so pas bekend gestel.

Die hoofekonoom by economists.co.za, Mike Schussler, sê dit is duidelik dat die regering nie luister en kop hou nie.

“Die regering is lief om die bal aan te slaan. Wat hy nie besef nie, is dat ‘n afgradering steeds moontlik is.”

Schussler maan dat die regering nou koppe bymekaar moet sit en by nugtere beleid moet uitkom waarby die land kan baat vind. Hy sê die populistiese uitsprake en beleid voor volgende jaar se algemene verkiesing die land onskatbare skade aandoen.

Volgens die ekonomiese agentskap NCK African Economics het Moody’s daarop gewys dat daar nie voor die verkiesing iets daadwerkliks met grondhervorming sal gebeur nie.

Maar Moody’s se senior kredietbeampte, Lucie Villa, het daarop gewys dat die onteiening van grond sonder vergoeding beleggings in Suid-Afrika nadelig kan raak.

“En Suid-Afrika het beleggings broodnodig,” het Villa gesê.

Die graderingsmaatskappy wys ook daarop dat die huidige regeringsrigting hoogs waarskynlik verbruikers en beleggersentiment nadelig kan raak.

Moody’s het in Maart die land se gradering behou nadat president Cyril Ramaphosa by Jacob Zuma oorgevat het.

‘n Vorige opposisieleier, Tony Leon, sê volgens die regeringsuitsprake en aksies lyk dit of Ramaphosa al hoe meer links beweeg.

Die optimisme wat Ramaphosa se leierskap begroet het, het ook afgewyk.

Ontleders sê daar is buitelandse faktore wat hiervoor te blameer is, maar Ramaphosa het nog nie ‘n sterk ekonomiese rigting ingeslaan nie. Dit het veral die rand en kapitaalmark hard geslaan.

Ontleders meen sover is sy enigste pluspunt sy optrede teen korrupsie en staatskaping.

Villa sê die gronddebat gaan by Ramaphosa spook omdat hy nog nie met dergelike oplossings gekom het nie.

Volgens ontleders het Ramaphosa in ’n groef verval.

“Pleks om aan Suid-Afrika te dink, bly hy populistiese retoriek steun,” het een ontleder gesê.

En daar is kommer dat die twee ander graderingsagentskappe, Fitch en Standard & Poor’s hul siening oor Suid-Afrika kan verander.

Ontleders sê sou een van die agentskappe Suid-Afrika afgradeer, die ander twee daarop sal volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Paul ·

Vir die regering gaan als net om volgende jaar se verkiesing, dit is die enigste manier wat hulle van weet hoe om ‘n wortel voor die hoopvolles se neuse te hou. Hulle het nie ‘n idee van hoe mens ‘n land bestuur nie. Eers moet die verkiesing gewen word, daarna sal hulle kyk of hulle die wrakstukke van die land weer aanmekaar gesit kan kry, maar as ons kyk na die streep mislukkings en wanorde wat hulle tot dusver met hul probeerslae agtergelaat het, is ek nie hoopvol nie.

Eish ·

Dit is nog nie eens middernag nie.
Die donkerste uur lê nog voor.

Pieter ·

Ek hoop VF+ het teen daardie tyd al vir ons ‘n eie staat geskep.

Grondkonsolideer ·

Is dit toelaatbaar vir ‘n groep boere om, soos ‘n conservancy, hulle grond saam te groepeer en aansoek doen om ‘n onafhanklike land te word?

breindood ·

Dink jy vir een oomblik dat die regering dit gaan toelaat? As ons ins eie land wil he, sal ons moet besluit waar dit gaan wees en dan baklei daarvoor.

Manie ·

Boere gaan inelkgeval hulle grond verloor, dalk is dit ‘n manier om dit te probeer keer, daar is mos voorsiening in die grondwet en ander wette daarvoor, dit sal nie maklik wees nie maar is tog moontlik en wettig.

White Rhino ·

Nouja daar het jy dit – uit die perd se bek.
Hoop dit bring die paddapot-koker tot besinning alhoewel ek dit betwyfel .
Bly die wereld het dit begin saaksien.
Miskien onttrek MBenz dalk nou.

Willem ·

Die ANC regering het nou nog net die die berge en dale gebreek nie, dis omtrent al wat van die land oor is.

Jan ·

Met Ramaphosa aan die voorpunt is die ANC regering besig om verwagtinge by die mense te skep wat nie haalbaar is nie. Ongekende kragte gaan in hierdie land losgelaat word. Ek wil nie naby wees nie as hulle die mense se woede moet kalmeer wanneer tot daardie besef gekom word.

Neil ·

Grondkonsilideer se voorstel kan werk vir self beskikking, as dit wettig is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.