’n Styging in rentekoerse dalk SA se voorland

rand-ekonomie-suid-afrika

Argieffoto.

Ekonome voorspel dat vuisvoos Suid-Afrikaanse verbruikers waarskynlik hulself sal moet staal vir nog ‘n finansiële skok. Dié keer verwag markkenners ‘n styging in rentekoerse.

Die hoofekonoom by economists.co.za, Mike Schussler, sê die rand het die afgelope ruk onder druk gekom. Van die faktore wat die geldeenheid gepootjie het, sluit in die sterker Amerikaanse dollar en hoër ruoliepryse.

‘n Styging in rentekoerse kan volgens Schussler verbruikers met ‘n bloedneus laat.

“Vanjaar was ‘n treurmare vir verbruikers. Brandstofpryse het tot rekordvlakke opgeskiet, belasting op toegevoegde waarde is verhoog en nou is daar die moontlikheid dat rentekoerse kan styg,” het hy gesê.

Schussler sê rondom R13 teenoor die dollar kan die Reserwebank nog asemhaal. Hy sê egter indien die geldeenheid die R14-kerf gaan verbysteek, die Reserwebank sal moet ingryp.

Die Reserwe Bank se volgende monetêre beleidskomitee is vanaf 17 tot 19 Julie. Die sentrale bank is egter, volgens die Grondwet, geregtig om op enige stadium in te gryp met ‘n koersverhoging of verlaging.

Schussler sê hoër rentekoerse sal op hul beurt weer steun vir die rand gee.

“Enige verhoging in rentekoerse sal die opbrengste op randbates verhoog. Dit kan die geldeenheid uitkoms gee.”

Ontleders wys daarop dat die Reserwebank waarskynlik oorweging aan ’n rentekoersverhoging sal gee juis omdat die huidige wisselkoers waarskynlik inflasie kan stook.

Die repokoers beloop tans 6,5%, terwyl verbruikersinflasie 4,5% beloop. Dit is binne die inflasieteiken van tussen 3 en 6%.

Volgens valutahandelaars kan Suid-Afrika se eerste kwartaal se groeikoers waarskynlik ‘n tydelike demper op ’n rentekoersverhoging plaas. Die ekonomie het in die eerste kwartaal met 2,2% teruggesak en ’n koersverhoging sal waarskynlik as negatief beskou word.

Die Reserwebank het reeds aangedui dat sy rentekoersmodel op een verhoging van 25 basispunte in die laaste kwartaal dui, terwyl nog ’n verhoging in die eerste kwartaal van 2019 verwag word.

Volgens die bank het inflasie ook afgeplat. Daar is nou verwagtinge dat hoër brandstofpryse en voedselkoste verbruikersinflasie kan stook.

Ontleders wys ook daarop dat die land tans fiskale- en lopende rekening-tekorte het, wat deur ’n rentekoersverhoging vererger kan word.

Volgens markkenners word die rand grootliks beïnvloed deur gebeure rondom die Amerikaanse dollar. Die Amerikaanse Federale Reserweraad het ’n houding ingeneem om Amerikaanse rentekoerse te verhoog wat ontluikende geldeenhede soos die rand skerp laat daal het.

Tog is daar optimisme oor die rand se vooruitsigte. Onder die Brics geldeenhede vaar die geldeenheid die tweede beste naas die Chinese yuan.

Intussen sê NKC Economic Research dat die rand se huidige swakheid ook verwant is aan die Amerikaanse handelsoorlog oor staal en verwante produkte. Die agentskap se beleggers verkoop riskante bates om veilig te bly. Die rand het Vrydag tot sy swakste vlak in ses maande gedaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jaco ·

Het rentekoers verhogings ooit gewerk om die rand oor die langtermyn te verstewig?? Dit noop fabrieks eienaars soos ek om minder te kan kapitaliseer in my jong onderneming siende dat dit te duur raak wat ly tot laer produksie, laer indiensneming verminderde uitvoere van produkte wat op so n mate ons ekonomie NOG seerder sal maak oor die langterym…Die regering moet dalk ophou om grondgrype te wil bewerkstellig, ons misdaad onder beheer kry en drakoniese wetgewing soos BEE mee wegdoen dan sal meer mense in ons land belê, die ekonomie begin floreer en die rand op so n mate sal verbeter….ag maar hier klae ek op n plek waar mense wat Maroela Media lees almal reeds slim genoeg is om dit te besef….sug….

Koos ·

Om die plaaslike rentekoers te verhoog, omdat dit sal lei tot hoër opbrengste op randbates, is bloot onsinnig om die minste daarvan te sê!!!

Wie baat by hoër opbrengste op randbates?
Hoofsaaklik buitelandse beleggers.

Daar is byverre beter metodes om buitelandse beleggers te lok om in die hoër randbates te deel, SONDER om die plaaslike bevolking te straf met hoër rentekoerse!!!!!

In hierdie uiters pap ekonomie gaan hoër rentekoerse net bo en behalwe die pyn vir die plaaslike bevolking, die ekonomie nog verder strem en afrem.

Word wakker!!!!!!
Raak ontslae van die negatiewe effek wat “grond onteiening sonder vergoeding” aan hierdie land se ekonomie doen EN buitelandse beleggers weerhou om plaaslik te belê en sodoende ekonomiese groei te laat plaasvind.

Dít om maar net een aspek te noem.

Raak dan verder behoorlik ontslae van ander politieke negatiewes wat hoogty vier hier in ons pragtige land en sien hoe alle mense baat sal vind by die verhoogde ekonomiese groei wat outomaties sal volg.

marous ·

Die waarskuwings oor die ghaos wat die land gaan tref word nou so stuk vir stuk bewaarheid …..

John ·

……soos ‘n herfsblaar in die wind kraak en dwarrel SA met draaistrategiee in rommelhope en deur stakings en betogings en staatskapings, Sassa-sissie-slimstories en Eskom-kapater-mannewales… net te lekker… so voor die winter sy koue kloue genadeloos inslaan. Die Kaap van Goeie Hoop se ‘slegte’ ou Jan het duidelik al sy goed gepak en geloop… ek ok.

What a joke! ·

Jip ou John hul gaan nog toyi toyi op hul eie ashoop tot die stof so staan! En wanner die stof gaan le sal hul sien als is vetrap tot n barre landskap wat onbewerkbaar sal wees soos die bellegers groener weivelde gaan soek!! Maar die lot ai die lot sal hulself tot in hul eie afgronde toe in toyi toyi…

Medicynman ·

Medicyne –

Verpligte geboortebeperking. Verpligte en ordentelike kursusse op ‘n redelik vlak in beginsels van ekonomie en bestuur van openbare finansies met ‘n moet om te slaag met minstens 70% in die eksamen en dit voorafgaandelik vir elke kandidaat wat wil deelneem aan die verkiesings vir munisipaliteite en op nasionaal vlak., ‘n Kleiner getal politici met ook ‘n kleiner vergoeding vir die “diens “aan de gemeenskap. ‘n Stop in die aanstelling van amptenare met ‘n beperking in die salarisse. Onmiddellik en streng optrede teen korrupsie.
Afskaffing van kapitaalwinsbelasting . Respek vir eiendom van watter aard ook en nooit enige onteiening sonder vergoeding teen objektiewe markwaarde. Geen beperking in die in- en uitvloei van kapitaal. Die beleggers sal kom na die land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.