Neem só beheer van jou finansies

Argieffoto (Foto: Sabine Peters/Unsplash)

Dit is makliker om beheer van jou finansies te neem as jy ʼn duidelike plan het. Hier is ‘n paar wenke wat jou kan help om ‘n begrotingsplan op te stel en jou finansies doeltreffend te bestuur.

Maak ʼn lys van jou inkomste en uitgawes
Die eerste stap om jou persoonlike begroting op te stel, is om vas te stel hoeveel geld elke maand in jou rekeninge betaal word en hoeveel jy uitgee.

Bereken eers al die netto inkomste (wat jy na belasting verdien). As jy ʼn gesamentlike begroting vir jou en ʼn geliefde of gesin opstel, tel die inkomste wat hulle verdien ook hier by.

Maak dan ʼn lys van al jou uitgawes en maandelikse aftrekkings. Vaste uitgawes is byvoorbeeld jou huur of huisverband, motorpaaiement, versekering, mediese fonds, pensioen, skoolgelde of lidmaatskapgelde. Terwyl aanpasbare uitgawes goed soos kruideniersware, brandstof, water en elektrisiteit, geskenke, klere, vermaak en luukshede, insluit.

Maak ʼn paar somme
Neem die bedrag wat jy na belasting verdien, trek al die uitgawes af en bepaal hoeveel geld jy oor het.

Maak dit ʼn spanpoging
Betrek jou man, vrou of kinders en stel ‘n lys saam van die gesin se behoeftes en begeertes. Dit sal jou gesin, maar veral kinders, help om belangrike huishoudelike benodigdhede en lekker dinge te prioritiseer.

Wees realisties en verantwoordelik
Moenie enige uitgawes uitlaat nie, veral as jy reeds daarvan weet. Jou begroting sal nie werk nie as jy nie eerlik is oor al die klein uitgawes wat elke maand opduik nie.

Skeduleer jou debietorders vir so gou as moontlik nadat jou salaris inbetaal is en gee voorkeur aan jou skuld. Rente op skuld sal jou op lang termyn baie meer kos. Die beste manier om dit te voorkom is om meer as die minimum bedrae op enige skuld te betaal.

Stel duidelike doelwitte
Dit is makliker om getrou aan jou begroting te bly as jy ʼn duidelike plan het. Hetsy dit ʼn oorsese vakansie, ʼn gesinsuitstappie, kaartjies vir ʼn groot geleentheid of iets kleins soos ʼn ekstra bederf vir die gesin is. Skryf hierdie doelwitte neer en hersien dit gereeld as ʼn aansporing om by jou begroting te hou.

Bly op hoogte van jou finansiële sake
Stel elke maand ʼn persoonlike begroting op. As dinge nie verloop soos jy beplan het nie, moenie moed opgee nie. Oorweeg dit dalk om iets soos ʼn begrotingsapp te gebruik wat jou sal help om op hoogte te bly van jou daaglikse uitgawes. En onthou, jou begroting moet voortdurend aangepas en bygewerk word om by jou lewenstyl in te pas.

Bronne: Sanlam Reality, Discovery, Old Mutual Limited (OML)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jerry ·

Sal help om eers n Werk te kry alvorens jy by die Spaar Varkie uitkom in hierdie wonderlike nuwe SA

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.