Nene nie net ‘goeie nuus nie’

Nhlanhla Nene. Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie

Nhlanhla Nene, die nuwe minister van finansies, meen die begroting wat verlede week deur sy voorganger Malusi Gigaba gelewer is, sal waarskynlik nie ver genoeg gaan om verdere kredietafgraderings te verhoed nie.

Nene is nou die tweede persoon ná Pravin Gordhan om vir ʼn tweede termyn as finansminister te dien. Sy afdanking in Desember 2015 het tot groot onstuimigheid op finansiële markte gelei en finaal die stryd oor staatskaping in die openbaar gebring.

Gigaba was verlede week nog vol vertroue dat die begroting, waarin BTW vir die eerste keer in 25 jaar verhoog is, genoeg sal doen om graderingsmaatskappye vir eers te paai.

Intussen word daar verwag dat die rand Dinsdag eindelik deur R11,50 sal breek teenoor die Amerikaanse dollar. Bianca Botes van Peregrine Treasury Solutions meen die rand se reaksie was gedemp in vergelyking met die reuseverswakking toe oudpres. Jacob Zuma verlede jaar sy kabinet geskommel het.

“Markte het grootliks die skommeling verwag. Die samestelling van die kabinet weerspieël die druk wat pres. Cyril Ramaphosa ervaar om ʼn “verenigde” party voor te hou. Omstrede plasings soos David Mabuza as adjunkpresident wys die balanseertoertjie wat Ramaphosa probeer uitvoer. Dit dui aan dat hoewel getransformeerde leierskap plaasgevind het, die party as geheel nie getransformeer is nie.”

Mike Schussler, hoofekonoom by economists.co.za, meen dat Ramaphosa in sekere opsigte beter keuses kon gemaak het. Hy betreur egter die grootte van die kabinet. “Daar is waarskynlik ʼn kompromis aangegaan om sekere ministers en portefeuljes te behou,” het hy bygevoeg.

Schussler waarsku egter dat Nene waarskynlik nie goeie nuus is soos wat baie mense dink nie. “Die land se skuldvlakke het onder hom gestyg. Ofskoon die vorige president, Jacob Zuma, druk op hom geplaas het, moes hy as minister sy mandaat beter gerugsteun het.”

Boonop sê Schussler dat die euforie rondom die Ramaphosa-presidentskap waarskynlik nou sal afneem. Hy wys daarop dat die eerste groot toets in April kom wanneer BTW, die brandstof- en padongelukkefondsheffing en die aksynsbelasting sal styg.

Hy sê die aanwysing van Gordhan as minister van openbare ondernemings was ʼn goeie besluit.

“Gordhan het intieme kennis van die staatskaping wat in ondernemings soos Eskom, Transnet en Denel aangegaan het. Hy het die kennis goed gebruik in die portefeuljekomitee op openbare ondernemings,” sê hy.

Gwede Mantashe. Foto: Verskaf

Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, meen die skommeling kan oor die algemeen goed wees vir die ekonomie. “Die prestasie van die nuwe kabinet sal egter teen hoë standaarde van skoon regering gehou word. Met die verkiesing wat volgende jaar plaasvind, sal die nuwe kabinet egter nie veel tyd hê om die nodige uitkomste te bereik nie en sal uitdagings dringend aangepak moet word.”

Ontleders meen die aanstelling van die ANC se nasionale voorsitter, Gwede Mantashe, as minister van minerale hulpbronne was nie juis ʼn groot verrassing nie. Een ontleder wys daarop dat Mantashe in die mynwese gewerk het voordat hy tot nasionale president van die NUM gevorder het.

Ná sy uittrede by NUM is hy aangestel as nie-uitvoerende direkteur van Anglogold. Mantashe se eerste twee groot toetse volgens ontleders is om die Mynbouhandves uit te sorteer en die chaos by die Optimum-myn op te los.

Dennis George, hoofsekretaris van Fedusa, sê hulle sal steeds druk toepas dat die kabinet verklein word. “Te veel geld word aan die kabinet bestee. Dit is ʼn vermorsing van hulpbronne,” sê George.

Die kabinetskommeling is ook deur NKC Research Economics verwelkom. Die maatskappy sê dit was die eerste fase van Ramaphosa se skommelinge en nóg kan in komende maande verwag word. Die maatskappy merk op dat daar nog te veel ministers in die kabinet is oor wie ʼn skaduwee hang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

jjobson ·

Verduidelik asb vir my die brandstofheffing. Ekke vestanie. Word die heffing van 32cent maandeliks eers bygevoeg en die petrolprys daarna gewysig afhangend van i daling of styging.

hm ·

Dit werk op dieselfde beginsel as enige heffing of belasting (aanpassings word gemaak voordat die heffing in berekening gebring word).

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.