Nog druk op verbruikersinflasie

ekonomie-finansies-geld-sakrekenaar-knyp-spaar

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Een van die land se voorste ekonome waarsku dat verbruikers hulself sal moet staal vir hoër lewenskostes. Dit is te wyte aan stygende brandstofpryse wat tot duurder kospryse en vervoer lei.

’n Senior ekonoom by First National Bank (FNB), Dawie Maree, sê die huidige ekonomiese prentjie lyk nie baie mooi nie. Hy sê twee faktore, ruoliepryse en die rand/dollar-wisselkoers, word deur buitelandse faktore aangedryf.

Maree sê teen die huidige pas sal boere se insetkostes styg wat sal meebring dat voedselpryse sal styg .

“Dit is veral die hoër brandstofpryse wat boere hard gaan slaan. En iewers sal hulle die kostes moet verhaal,” sê hy.

Volgens Maree het voedselinflasie waarskynlik sy draaipunt bereik en sal dit verbruikersinflasie verhoog. Hy is ook bekommerd oor die effek van hoër brandstofpryse op inflasie.

“Verbruikers is in die spervuur. Hul kos raak duurder en hul brandstof kos meer as ’n jaar gelede. Dit is soos ’n kruitvat,” het hy gesê.

Volgens Maree is ’n groot probleem die sterker Amerikaanse dollar.

“Omdat kommoditeitspryse in dollars bepaal word, beteken die sterker dollar dat pryse styg.”

Van die kommoditeite wat in dollars betaal word en plaaslik ’n impak het, sluit in ruolie, mielies, koring en soja.

Maree sê die tendens skets ’n perfekte prentjie vir hoër verbruikersinflasie – wat beslis nie  goed is nie.

“Stygende inflasie beteken net een ding – dat rentekoerse vanjaar bestendig sal bly,” sê hy.

Maree wys daarop dat die randwisselkoers waarskynlik ʼn groot rol sal speel om duurder lewenskostes aan te vuur.

Die plaaslike geldeenheid het verlede week skerp verswak in afwagting op die Amerikaanse Federale Reserweraad (Fed) se besluit op Amerikaanse rentekoerse. Ofskoon die Fed nie aan rentekoerse gepeuter het nie, bly die rand onder druk.

Dit het Maandagoggend teen R12,54 teen die dollar verhandel.

En daar is nóg ’n skok op pad vir verbruikers. Volgens die jongste gegewens van die Sentrale Energiefonds, is daar ’n onderverhaling van 81 sent per liter op alle grade petrol. Op diesel is die onderverhaling tussen 92 en 93 sent per liter. Paraffienverbruikers kan hulle ook staal vir ’n groot verhoging. Die onderverhaling op die produk is tans 91 sent.

Markontleders wys daarop dat oliepryse gestook word weens Amerika se woordoorlog met Iran oor dié se kernwapenprogram. ’n Ooreenkoms is in 2015 tussen die vorige Amerikaanse president Barack Obama en Iran oor die program gesluit. Donald Trump het die ooreenkoms ter syde stel, ten spyte van die druk van Westerse lande soos Frankryk, Duitsland en Frankryk om dit nie te doen nie.

Brent-ruolie het vroeër die week teen 75 dollar per vat verhandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Francois ·

Ja ……snaaks hoe Suid-Afrika altyd oorsese faktore en selfs Trump blameer vir die styging in inflasie etc.
Maar eintlik le die fout by ons disfunksionele regering…..

Stem ·

Wat van die BTW wat verhoog is en die brandstofheffing? Dit het mos ook ‘n negatiewe uitwerking op die kospryse en gevolglik verhoogde inflasie.

Judge Dredd ·

Nee, maar toe kla die meeste mos oor die 1% BTW verhoging, en vergeet skoon dat die brandstof verhoging ‘n groter invloed gaan he.

jd ·

Stem 100% saam francois!
Hulle moet ook in aanmerking neem v d boere se trokke met produkte wat gebrand word deur hul betogings en optogaksies. Dit skiet ook die inflasie koers in sy @$#? In. Dit word nie in ag geneem nie want hulle doen mos als reg.

Outoppie ·

Uiteindelik ! Almal huil en kerm oor 1% meer op BTW, maar niemand het tot dusver iets gesê oor die 50 sent-plus per liter belasting op brandstof , en die volgende maand se 50-plus sent per liter verhoging agv die ruolieprys, wat myns insiens erger gevolge kan hê as die 1% op BTW. Alle produkte, nie net kos nie, word per dieselaangedrewe trokke na die winkels aangery – moenie vir my vertel dat ‘n verhoogte dieselprys nie daardie produkte se verkoopprys gaan affekteer nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.