Onsekerheid oor toekoms van mynreus

angloplatinum

Argieffoto.

Daar heers nog onsekerheid oor die toekoms van die mynreus Anglo American. Luidens markgerugte vry die Indiese maatskappy Vedanta Resources kliphard om Anglo te bekom.

Vedanta se eienaar, Anil Argawal, besit reeds 20%-aandeelhouding in Anglo. Volgens berigte in die Londense Financial Times beplan Argawal om Vedanta en Anglo saam te voeg. Dit is veral die Suid-Afrikaanse bates, wat Amplats en Kumba insluit, waaroor die Indiese maatskappy gaande is.

Anglo American was tot met die verskuiwing van sy primêre notering in Londen ’n staatmaker in die Suid-Afrikaanse ekonomie. ’n Oudminister van finansies, senator Owen Horwood, het altyd na Anglo verwys as die land se ekonomiese slagaar.

In daardie dae was sy hoofkantoor by die ikoniese 44 Main Street. Die maatskappy, wat grootliks op goud en diamante gekonsentreer het, het deur diversifikasie belange in ander nywerhede bekom soos staal, kleinhandel, ingenieurswese, eiendom, plofstof en ander dergelike nywerhede. Om dié rede is daar na die maatskappy as SA Ingelyf verwys.

En van die land se voorste sakeleiers het by die trappe by 44 Main Street opgestap. Dit sluit in, Julian Ogilvie Thomson, Leslie Boyd, Tony Trahar en die man wat as The Little One bekend was – Harry Oppenheimer.

Die Oppenheimers is nie meer van Anglo se prominente aandeelhouers nie en die maatskappy het ook homself van diamantreus De Beers ontknoop.

Ontleders beraam dat ’n samesmelting tussen Anglo en Vedanta ’n entiteit ter waarde van 7 miljard dollar op die been kan bring. Tog is daar vrae oor die samesmelting juis omdat Anglo nie meer ’n direkte belang in De Beers het nie.

Boonop was Anglo se eerste tree in die buiteland onstuimig terwyl hy maatskappye soos Billiton en ander mynreuse prontuit wou pak. Een van sy eerste aankope, Tarmac, het hy inderhaas verkoop net ná sy Londense notering.

Volgens Investec maak dit nie sin vir aandeelhouers om hul belang in Anglo te verwater nie. Ondanks die talle vrae het Anglo vandeesweek ʼn sterk lopie op die Londense Aandelebeurs gehad. Dit het in ’n stadium tot 17 pond per aandeel gestyg.

Sy platinumfiliaal, Angloplat, het bevestig dat Rustenburg Platinum ’n aanbod van Royal Bafokeng Platinum goedgekeur het om die 33% in die Bafokeng Rasimone gesamentlike projek vir R1,9 miljard te verkoop.

In nog mynverwante nuus voorspel Sibanye-Stillwater dat sy halfjaarlikse wins gaan krimp weens die getal sterftes wat by die groep se myne voorgekom het. Daar was meer as 20 sterftes by die groep se myne vanjaar.

Sibanye sê dat goudproduksie tot met 6% kan daal. Die groep het ook sy vooruitsigte afgeskaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

marous ·

En die regering wat alles bee gil keur dit nie af dat ‘n buitelandse maatskappy beheer neem oor die natuurlike hulpbronne waarop hulle hande wil slaan nie ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.