Grafiek: Data oor likwidasies en insolvensies kommerwekkend

Argieffoto

Ontleders by Momentum het gevind daar was ’n styging in die getal likwidasies en insolvensies in 2019.

Die volgende grafieke gee ’n oorsig van Statistieke SA se data oor die likwidasies van maatskappye en beslote korporasies (BKs). Vir Sakeliga se eie verwerking het hulle die totale sluitings van maatskappye en beslote korporasies (BKs) eenvoudig saamgetel en die persentasieverandering teenoor die jaar vantevore bereken en in die volgende twee grafieke voorgestel.

In die eerste grafiek sien ons inderdaad ’n styging in die getal van verpligte en vrywillige likwidasies van maatskappye en BKs in 2019. Volgens die data is die vlakke van die getal sluitings ook hoër as in die klompie jare tevore.

Dit is verder ook noemenswaardig dat die likwidasies in 2019 ’n tendens van dalende sluitings omgekeer het en beduidend positief gedraai het (sien die tweede grafiek). Dit beteken eenvoudig dat likwidasies aansienlik in 2019 toegeneem het.

Grafika: Sakeliga.

Wat kan dit beteken?

Gegewe die stand van die plaaslike ekonomie is die data kommerwekkend. Soos die ontleders by Momentum tereg noem, ondernemings beleef tans plaaslike en globale uitdagings.

’n Ekonomiese rol van likwidasies moet wel ook hier genoem word. Die likwidasie van ondernemings speel ’n sinvolle en nodige rol waar ondoelmatige ekonomiese bates en ondernemings deur die proses vrygestel word vir dringender gebruike in produktiewe bedrywighede. (Dit skaad uiteraard die ekonomie wanneer skaars hulpbronne byvoorbeeld in ondoeltreffende ondernemings, soos oorbodige en wanpresterende staatsondernemings, opgesluit bly.)

Tog is dit redelik om te dink dat die belemmerde aard van die plaaslike ekonomie – deur markonvriendelike beleid en rompslomp – juis sodanige heraanwending moeiliker en duurder sal maak. In daardie opsig is toenemende likwidasies nie goeie nuus nie.

Grafiek: Sakeliga.

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.