Kort ontleding: Nog bewyse van inperking se uitwerking op plaaslike ekonomie

(Foto: M. B. M./Unsplash.com)

Nota: Die volgende grafieke is ontleen uit die Definitive Lockdown Presentation wat onlangs deur Business for Ending Lockdown in samewerking met ETM Macro Advisors, Transunion en Pandemic Data and Analytics (Panda) aangebied is. Die grafieke is vertaal deur Sakeliga.  Sien die volledige voorlegging hier.

Die Suid-Afrikaanse regering het een van die strengste en langdurigste Covid-19-inperkings ter wêreld afgedwing. Die volgende grafieke wat deur ETM Macro Advisors saamgestel is, bevestig weereens dat die plaaslike regulatoriese inperkingsmaatreëls relatief van aard en waarskynlik hewiger as in ander lande was.

Daarom, meen Russell Lamberti van ETM Macro Advisors, kan ʼn hewiger trefslag ten opsigte van groei verwag word. Lamberti stel ʼn belangrike punt: Die ekonomie is as’t ware ʼn lewensondersteuningstelsel. Om dit summier met reusagtige eensydige dwang af te skakel rig ontsettende skade aan lewens en lewensmiddele.

Reuse-ekonomiese onsekerheid en ander voortspruitende gevolge is nou die werklikheid vir baie mense.

(Grafika: Sakeliga.)

Vreesindeks

Wanneer die strengheid en die inperking van beweging (mobiliteitsdata) saamgevoeg word in ʼn “vreesindeks” sien ons dat Suid-Afrika relatief bo ander lande, nader aan 100 (ʼn bykans volledige inperking) beweeg het.

Dit is redelik om te verwag dat ʼn strenger inperking ʼn hewiger invloed op ekonomiese bedrywighede sal hê, selfs erger as wat sommige verwag het en veral in konteks van Suid-Afrika wat eintlik ʼn armer land is met bestaande maatskaplike probleme soos werkloosheid.

Die tweede grafiek druk dieselfde data effens anders uit en dui ook daarop dat ʼn streng plaaslike staat van inperking relatief ten opsigte van ander lande selfs tot in die derde kwartaal gehandhaaf is.

Daarom moet die strengheid en tydsduur van die staat van inperking in ag geneem word wanneer skattings oor die BBP, veral K2 en K3 se BBP-syfers, gemaak word.

Deel 2 van hierdie ontleding beskou die denkbare invloed op ekonomiese groei.

(Grafika: Sakeliga.)

Die regering het Suid-Afrika nie vinnig uit die gedwonge afsonderingstydperk laat beweeg nie. Daarom verwag ETM Macro Advisors in ʼn onlangse voorlegging dat die uitwerking op BBP-groei erger sal wees as wat byvoorbeeld die Suid-Afrikaanse Reserwebank verwag het.

Die volgende grafiek druk kwartaal-tot-kwartaal-BBP-“groei” (vertikale as) uit teenoor die strengheid van die inperking (horisontale as).

Die groen blokkie is ETM se skatting oor waar BBP-groei kan val in die tweede kwartaal van 2020 (syfers word later in September vrygestel). Die skatting word gemaak deur syfers van ander lande wat soortgelyke vlakke en tydsduur van inperkings gehandhaaf het, te vergelyk.

(Grafika: Sakeliga.)

Die skatting skets glad nie ʼn goeie beeld vir die ekonomie se uitset nie. ETM meen dat die tweede kwartaal maklik ʼn daling van tussen 20% en 30% kan sien teenoor die eerste kwartaal. Dit sal beteken dat Suid-Afrika ʼn reële BBP-inkrimping vir die geheel van 2020 van tot 13% kan sien. Die SARB verwag ʼn daling van sowat 7%.

Syfers soos motorvoertuigverkope (volgende grafiek) is ook illustratief; dié syfers dui daarop dat, hoewel dinge ná vlak 2 verbeter het, verkope steeds ver onder die vlakke van die verlede bly. Soortgelyke tendense word in ander sektore verwag.

Die denkbare uitwerking van die streng en uitgerekte staat van inperking op werkloosheid, armoede, die fiskus, die rand en selfs gesondheid is onrusbarend en sal nog lank verreken moet word.

(Grafika: Sakeliga.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaco ·

Kort na inperking begin het, het ramaphosa hard gepraat oor hoe kwaai ongelykheid in SA is en dat wit mense se sterk rol in die ekonomie moet stop. So wit besighede wat weens inperking bankrot speel en wit werkers wat hulle werk verloor, is seker te verwagte en seker wat die ANC wil hê. MAAR, wat van swart besighede? Hulle eienaars en werkers se velkleur en BEE is dan klaar reg. Waarom word hulle dan ook “gestraf” as hulle nie skuldig is aan die “misdaad” van apartheid nie. Weet die ANC ook dat, terwyl hulle lekkerkry oor wit besighede wat vou, VERLOOR daardie besighede se swart werkers hulle werk? Iets maak nie sin nie.
Nog iets: is inperking die nuwe normaal? Is toe gimnasiums, toe kerke, dra van maskers en lang toue mense by winkels alles dinge wat permanent, vir jare, so gaan bly?

Wielspore ·

Uit ‘n betroubare bron het die volgende inligting uit ‘n groot klere winkel groep, wat landswyd takke het gekom. Die totale verlies aan inkomste tot einde Aug 2020 agv Covid 19 staan op 27%. Dit wil voorkom of die syfer nog bietjie laer kan daal aangesien die huidige verkope bokant normaal is.
Ander interresante opmerking is dat hierdie daling hoofsaaklik net in Gauteng/Noord Vrystaat voorgekom het en by die groter winkels (oppervlakte). By die kleiner winkels in onder meer dorpe soos Newcastle, Bethlehem en Kimberley het verkope by van die kleiner winkels tot 200% gestyg.
Dit beteken dat omtrent 27% van die mense wat in Gauteng werk eintlik van kleiner dorpies afkom want hierdie mense was tuis toe hulle geld uit die Covid 19 noodfonds ontvang het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.