Onteiening: Van instrument tot die lat wat almal gaan slaan

Deur Moira-Marie Kloppers

(Argieffoto: pixabay)

Onteiening word nêrens in die demokratiese wêreld as ’n vorm van straf beskou nie. Sedert die Grondwet van Suid-Afrika in die negentigerjare aangeneem is, was dit ook hier die geval. Tot nou toe.

Benewens die veelvuldige kommerwekkende bepalings in die nuwe Onteieningswetsontwerp wat op 9 Oktober 2020 gepubliseer is, is dit duidelik dat die regering ’n heeltemal nuwe konseptualisering van onteiening aanvaar het.

“Onteiening word nie meer beskou as ’n verskriklike ongerief waarvoor onberispelike eienaars vergoed moet word nie, maar eerder as ’n kru beleidsinstrument wat die regering selfs kan gebruik om Suid-Afrikaners selektief te straf,” meen Martin van Staden, regsgenoot by Sakeliga. Hy beklemtoon dat hierdie konseptualisering heeltemal onversoenbaar is met ons grondwetlike demokrasie.

Onder Sakeliga se uitgebreide kommentaar oor die omstrede wetsontwerp, sê die sakeorganisasie dat die oogmerk van die Onteieningswetsontwerp, dat die regering privaat eiendom kan onteien, streng beperk en duidelik omskryf moet word. Die wetsontwerp moet eiendomsreg eerbiedig en staatsmag beperk.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, meen dat die wetsontwerp met internasionale beste praktyk belyn behoort te word:

“Beste praktyk beskou onteiening as ’n ernstige, baie ontwrigtende en duur inbreuk op lewensbestaan, individuele en gemeenskapsoutonomie, sowel as ekonomiese produktiwiteit. Die meganismes van onteiening en ontneming van regte is skadelik en moet, indien enigsins, baie spaarsamig toegepas word. In die geval van onteiening, word staatsmag buitengewoon ten gunste van die staat en sy politieke agente gekantel en teen eienaars wat aan die wetgewing onderwerp word. Dit vra vir ernstige beperkings op staatsmag.”

’n Middel, nie ’n wapen nie

Onteiening is ’n instrument in enige regering se arsenaal om sy oënskynlike tweelingrolle te vervul: die lewering van basiese dienste en die skepping van ’n omgewing wat bevorderlik is vir welvaart deur, onder meer, die deur die bou van infrastruktuur.

Soms staan privaat eiendom in die weg van die regering om dit te doen, en daarom is die opsie beskikbaar om daardie eiendom te onteien – maar byna uitsluitlik as ’n laaste uitweg. Dit beteken nie dat die eienaar iets verkeerd gedoen het nie. Hulle is nie misdadigers nie. Hulle het geen delik – ’n siviele skade – teen iemand gepleeg bloot deur hul besit van eiendom nie.

Eienaarskap is so oud soos die mensdom self en is ’n belangrike dryfveer vir welsyn en menslike vooruitgang. Daar is niks verkeerd aan eienaarskap nie.

Daar is wette wat handel oor eiendom wat vir kriminele oortredings gebruik word (soos bateverbeuring) of delikte (soos om gelas te word om slagoffers te vergoed vir enige skade wat aangerig is). In beide gevalle word die individuele oortreder gestraf met die hoop dat hy/sy in die toekoms nie weer sy/haar onregmatige gedrag sal herhaal nie. Hier is daar bewyse en regsprosesse wat uitspeel.

Onteiening en onteieningswetgewing het niks met ieder van hierdie gevalle te doen nie. Onteiening gaan eerder oor die neem van eiendom wanneer dit noodsaaklik is vir die bevordering van die publieke belang, sonder om die onberispelike eienaar te straf of te benadeel.

“Dit is duidelik dat die wetsontwerp dit so maklik as moontlik wil maak vir die regering om na eie goeddunke eiendom te onteien. Hierdie agenda is in stryd met die doel van die onteieningsreg, naamlik om die regering se onteieningsbevoegdheid effektief, prakties en wesenlik te beperk. Onteieningswetgewing se doel is juis die veiligheid en beskerming van private eiendomsreg wat in die openbare belang is, selfs volgens die Grondwet, gesonde ekonomie en die tydlose beginsels van konstitusionalisme.”

Die wetsontwerp stel onteiening sonder vergoeding (of teen nil vergoeding) of ’n dramatiese afwyking van die markwaarde voor deur middel van ’n proses om artikel 25 van die Grondwet te wysig. Onteiening sonder vergoeding, veral op die openlike manier wat in die wetsontwerp bedink word, sal rampspoedig wees vir die Suid-Afrikaanse ekonomie en vooruitsigte op groei en belegging.

In besonder herdefinieer die wetsontwerp byvoorbeeld wat abandonnering (om ’n eiendom verlate te laat) in die Suid-Afrikaanse eiendomsreg beteken vir die doel van onteiening sonder vergoeding. Die gemeenregtelike standpunt is dat eiendom as geabandonneer beskou sou word as die eienaar nie meer die eiendom beheer nie en nie meer ’n duidelike voorneme het om die eiendom te besit nie.

Die wetsontwerp verwyder die laasgenoemde vereiste, wat beteken dat die regering eiendom as geabandonneer sal beskou as die eienaar “nie beheer daaroor uitoefen nie”. Die implikasie van hierdie nuwe definisie is dat, as ’n eienaar onwettig van sy eiendom verdryf word – byvoorbeeld deur middel van grondgrypery – die regering die situasie kan beskou as dat hy die eiendom kan onteien sonder om vergoeding aan die verontregte eienaar te gee.

Dit is slegs een van die tiental bepalings rakende die wetsontwerp. Die ekonomiese impak van sulke gebrekkige wetgewing as geheel moet ook in gedagte gehou word. Gerhard van Onselen, senior ontleder van Sakeliga, merk op: “Sonder duidelik afgebakende privaat besit en beskermde eiendomsreg, is niemand seker wie mag met reg hulpbronne gebruik en beheer, daarin belê of daarmee handel dryf nie. Sonder sekerheid van eienaarskap word ekonomiese bedrywighede belemmer, potensieel konflikgeteisterd en kan ‘dooie’ en onproduktiewe kapitaal veroorsaak. Deur die sekerheid van private eienaarskap te benadeel, sal die staat die ekonomiese potensiaal benadeel.”

  • Moira-Marie Kloppers is verantwoordelik vir bemarking, kommunikasie en ledeverhoudings by Sakeliga.
  • Die artikel is verskaf deur Stigter,’n Afrikaanse e-tydskrif wat jóú help om ’n beter leier, entrepreneur en bestuurder te wees. Elke uitgawe is tussen 28-34 bladsye en artikels handel oor finansies, leierskap, bemarking en vertel die stories en lesse van suksesvolle Suid-Afrikaanse entrepreneurs. Teken hier in en ontvang maandeliks jóú Stigter-tydskrif

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.