Oorlogpraatjies laat Warren Buffett aandele verkoop

Thys van Zyl, hoof van produkontwikkeling by Everest Wealth (Foto verskaf)

Deur Thys van Zyl, hoof van produkontwikkeling by Everest Wealth

Warren Buffett se Berkshire Hathaway het onlangs sy aandeel in Taiwan Semiconductor Manufacturing Co. (TSMC), die wêreld se grootste mikroskyfievervaardiger, verkoop.

TSMC vervaardig onder meer al die skyfies wat in die iPhone en ander Apple-toestelle gebruik word. Die 92-jarige Buffet se Amerikaanse beleggingsreus Berkshire Hathaway het slegs ʼn paar maande gelede ʼn allemintige $4,1 miljard se aandele in TSMC gekoop.

Buffett het egter nou ongeveer 85% van sy aandele in die Taiwannese maatskappy verkoop en uitgewys dat “internasionale handelspanning” ʼn rol gespeel het in die verkoop van die aandele. Buffett het ook aan CNN gesê dat hy en Berkshire Hathaway hul kapitaal op meer doeltreffende beleggings kan aanwend.

Die rede hoekom die transaksie so interessant is, is omdat Berkshire gewoonlik aandele koop en dit vir lang periodes hou. Die besluit het koppe laat draai in die beleggingswêreld aangesien Berkshire nie gewoonlik dié tipe beleggingsmodel toepas nie.

Die transaksie en die onsekerheid wat dit in die mark skep laat baie beleggers met die vermoede dat Buffett en sy span iets weet wat die algemene belegger nie weet nie. Dit is bloot weens die feit dat Berkshire al vir dekades lank so suksesvol is.

Die spanning tussen Amerika en China is nie nuwe nuus nie, maar die skielike verkoop van so groot aandeel in so ʼn betroubare internasionale maatskappy dui daarop dat die geopolitieke spanning selfs meer ernstig is as wat mens sou dink.

TSMC word as uiters waardevol vir die wêreldekonomie beskou en namate spanning tussen Taiwan en China toeneem, het TSMC se deurslaggewende rol in die wêreldwye mikroskyfieverskaffingsketting na vore gekom as een van die grootste risiko’s vir die wêreldekonomie.

China maak aanspraak op Taiwan as sy eie grondgebied. Daar is vroeër berig dat TSMC nie bedryf sal kan word indien China Taiwan sou binneval nie aangesien die skyfievervaardiger op wêreldwye voorsieningskettings staatmaak.

Dit het die vraag laat ontstaan oor voorsieningskettings wat wêreldwyd ontwrig kan word indien Taiwan, die wêreld se grootste vervaardiger van mikroskyfies vir derde partye, nie kan voortgaan met die vervaardiging van mikroskyfies nie en die ekonomiese impak wat dit tot gevolg kan hê. Die afgelope twee jaar se skyfietekort het onder meer kapasiteitsbeperkings en wêreldwye onderbrekings in verskaffing veroorsaak.

Vir Berkshire Hathaway om sulke drastiese stappe te doen en sy beleggingsmodel by die venster te laat uitvlieg, is verseker iets wat beleggers nie moet miskyk nie.

Dit is dus uiters belangrik om ten volle bewus te wees wat in die wêreld en in die markte aangaan en watter invloed dit op beleggings kan hê. Goeie finansiële diens en gereelde opvolgsessies rakende jou beleggings is noodsaaklik in hierdie bedryf.

  • Indien jy meer wil uitvind oor die impak van die huidige markte op jou beleggings, stuur gerus die woord “EVEREST” na 45906 of besoek ons webtuiste by everestwealth.co.za. SMS’e kos R2,00. B’s & V’s geld. Everest Wealth is ’n geregistreerde finansiële dienste verskaffer (FSP 795 CAT I & II & IIA).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.