Paniekaankope raak hele wêreld: Wat van SA?

Foto: Maroela Media

Talle Suid-Afrikaners het winkels gestormloop in ’n poging om huishoudelike benodighede aan te koop voor die tydperk van afsondering begin het.

Hierdie paniekaankope het reeds begin nadat pres. Cyril Ramaphosa die nasie op 15 Maart 2020 toegespreek en die Covid-19-pandemie as nasionale ramp aangekondig het. Die kwessie van paniekaankope is toe verder aangehits deur die aankondiging van ʼn drie weke lange nasionale afsonderingstydperk.

Waar laat hierdie paniekaankope Suid-Afrikaanse voorsieningskettings en hul verskaffers?

Die koronavirus (Covid-19) is ʼn ontwrigting vir voorsieningskettings, ʼn onbeplande gebeurtenis wat die vloei van goedere, inligting, dienste en finansiële hulpbronne in en tussen ondernemings inperk. Hierdie ontwrigting veroorsaak dat landsburgers paniekbevange raak, en gevolglik is daar ʼn doelbewuste toename in vraag en aankope vir produkte en dienste.

Almal (dit sluit verskaffers, klein- en groothandelaars, en kliënte in) gebruik hul eie diskresie – en soms bevooroordeelde opinies – wanneer hulle vooruitskattings maak vir die tipe en aantal goedere wat aangekoop word. ʼn Tekort aan goedere lei tot vraag wat die hoogte inskiet. Kommoditeitsverskaffers (veral verskaffers en handelaars vir handreinigers en toiletpapier) hardloop inderhaas rond om so vinnig as moontlik voorraadvlakke weer te herstel, sodat kliënte beskikbare voorraadvlakke kan geniet.

Figuur 1: Illustrasie van die sogenaamde ossweep-effek.

Hierdie verskynsel staan bekend as die ossweep-effek (bullwhip effect), en het ʼn indringende impak op voorsieningskettings. Hierdie effek is een wat ons plaaslik en wêreldwyd moontlik vir maande lank steeds in verskaffingskettings sal voel, en ʼn invloed sal hê op verkopers (verskaffers, klein- en groothandelaars) en kopers.

Dié verkopers sal moontlik oortollige voorraadvlakke op sekere kommoditeite hê indien daar nie maatreëls ingestel word om goeie en effektiewe vooruitskattings te maak nie. Gevolglik is dit noodsaaklik om planne te beraam en in werking te stel wat uitpluis hoe ons almal te werk kan gaan om die effek van verskaffingskettingontwrigtings te minimaliseer. Hierin word ook gefokus op die rol wat kommunikasie en verhoudinge tussen belanghebbendes in verskaffingskettingontwrigtings kan speel.

Wat kan belanghebbendes doen in hierdie tyd van onsekerheid en paniek?

Die belangrikste komponent van goeie besigheid is die aanwending van deurlopende en voldoende kommunikasie. Effektiewe kommunikasie is voordelig omdat daar deursigtigheid ontstaan tussen lede van die voorsieningsketting, wat die drastiese gevolge van die ossweep-effek kan minimaliseer. Dit is van kardinale belang vir klein- en groothandelaars om inligting te deel met verskaffers en vervaardigers van produkte wat tydens dié tydperk uitermatig baie verkope gehad het. Inligting soos voorraadvlakke en huidige verkoopsyfers moet gedeel word om te voorkom dat die verskaffers en vervaardigers te veel (of moontlik te min) van hierdie produkte vervaardig.

Goeie samewerking tussen verskeie belanghebbendes kan verder verbeter word deur besluit­nemingsprosesse te deel. Indien ʼn kleinhandelaar nou byvoorbeeld ʼn dubbele bestelling van langlewemelk plaas, moet hy ook aan die vervaardiger verduidelik waarom dit die geval is en onder watter omstandighede dit weer kan gebeur. Sodoende seëvier deursigtigheid en kan verskaffers en vervaardigers ʼn plan van aksie saamstel om die impak van die huidige ontwrigting te minimaliseer – en verdere ossweep-effekte in die toekoms te minimaliseer.

Verder ontwikkel goeie verhoudings tussen belanghebbendes wanneer daar ʼn wedersydse belang tot ʼn spesifieke kwessie is. Dit is dus belangrik om uit te lig dat goeie verhoudinge tussen belanghebbendes tydens die Covid-19-ontwrigting in voorsieningskettings noodsaaklik is om sodoende die groot impak van die ossweep-effek hok te slaan. Verhoudinge tussen belanghebbendes skep ʼn platform vir die aaneenlopende kommunikasie en verspreiding van inligting tydens die verskaffingskettingontwrigtings. Belanghebbendes is meer buigsaam tydens die ontwrigting en dit stel hulle in staat om vinniger op die ontwrigting te reageer en die gevolge daarvan in te perk. Uiteindelik word aandag gegee aan probleme soos, onder meer, onakkurate vooruitskattings, en spoedig opgelos.

Die handhawing van goeie verhoudinge is ook voordelig omdat belanghebbendes van verskillende voorsieningskettings aan mekaar verbind is en hulle juis in hierdie tyd afhanklik van mekaar is. Hierdie verbintenis stel belanghebbendes in staat om innoverende oplossings te vind om die impak en gevolge van ontwrigtings te verminder. Dit is hiér waar interdissiplinêre samewerking en ooreenkomste tussen belanghebbendes die primêre doel moet wees.

Die Covid-19-krisis het weer eens belig dat ons almal aan mekaar en aan die buitewêreld gekoppel is. Die besluite en aksies wat jy uitvoer, gaan lankal nie net meer oor jouself nie, maar strek heelwat verder. Elke persoon is deel van die groter voorsieningsketting, ongeag of jy die rol as ʼn verskaffer, klein- of groothandelaar of ʼn kliënt aanneem. Dit is baie belangrik vir ons elkeen om ʼn daadwerklike poging aan te wend om die voorsieningsketting so volhoubaar as moontlik te hou deur verantwoordelike optrede.

Probeer om nie nou paniekerig te raak nie en dink eers na oor wat die uiteindelike gevolge van jou aankope vir die toekoms inhou.

  • Geskryf deur Carla Schutte en Salomien Boshoff, dosente aan Akademia se fakulteit ekonomiese en bestuurswetenskappe.

Bronne:

Porterfield, T.E., Macdonald, J.R. & Griffis, S.E., 2012, ‘An Exploration of the Relational Effects of Supply Chain Disruptions’, Transportation Journal 51(4), 399–427. https://doi.org/10.5325/transportationj.51.4.0399

Rood, C., Van den Berg, D., Niemann, W. & Meyer, A., 2018, ‘The Role of Personal Relationships in Supply Chain Disruptions: Perspectives from Buyers and Suppliers of Logistics Services’, Acta Commercii 18(1), a608. https://doi.org/10.4102/ ac.v18i1.608

Wins, M. 2018. Understanding The Bullwhip Effect in Supply Chains. https://www.supplychain-academy.net/understanding-the-bullwhip-effect-in-supply-chains/ [Datum van gebruik: 02.04.2020].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Michael 1 ·

Ek dink die probleem in SA is daar is te veel mense wat eet en te min wat werk om te eet,ek voel geensins sleg dat ek genoeg gekoop het om my familie in die inperking tydperk te kan voed en veilig hou nie.Ek voel geensins skaam dat ek bevoorreg is nie ek werk hard vir wat ek het,ek bly in n land wat daar teen my gediskrimineer word dmv wetgewing, ek moes 51% van my besigheid weggee vir iemand wat net terugsit en ontvang. Die natuur het manier om die ewewig te herstel en die balans te handhaaf noem my ongevoelig maar dit is hoe dit is.

Strandloper ·

Wat n klomp bog…is dit nie menslike natuur om voorseining te maak vir die maer dae nie…wonder hoe vol die skrywer se kaste is…

Salomien ·

Goeie dag, dankie vir u kommentaar.
Eerstens is hierdie artikel nie kritiek teen paniekaankope nie, maar eerder ‘n verduideliking wat kan gebeur in die volle voorsieningsketting.
Onthou – produkte soos seep ens. word tydens hierdie tyd gebruik – dus sal die vraag na die pandemie normaliseer. Maar kom ons sê u is ‘n enkellopende persoon wat 1 rol toiletpapier per week gebruik. Gewoonlik koop u 4 rolle per maand, maar met paniek aankope het u nou 52 gekoop. U voorraad vir die jaar is dus reeds gekoop en vir die volgende 52 weke sal u geen toiletpapier koop nie (want toiletpapier behoort nie ‘n hoër gebruik tydens die tyd te hê nie). Indien u een van ‘n miljoen mense is wat dieselfde doen sal dit die vraagkurwe skeef trek. Vervaardigers van toiletpapier kry ewe skielik hoë bestellings, hul bou dalk nog aanlegte of koop nog masjinerie aan. Maar die miljoen mense gaan nie vir die volgende jaar aankope doen nie. Dus het vervaardigers uitgawes aangegaan vir ‘n valse vraag na die produk.

Salomien ·

Die boodskap in hierdie artikel is nie noodwendig vir die eindverbruiker nie, maar vir die van ons wat in ondernemings staan wat die eindverbruiker bedien (wat meeste van ons werkendes is). Goeie verhoudinge en kommunikasie is deurslaggewend in hierdie tyd.
Ps. Tans staan Hong Kong se winkels vol toiletpapier – aangesien verbruikers reeds hul voorraad vir die jaar aangekoop het. Vervaardigers het dalk reeds te veel hier vervaardig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.