Post-Ramaforie sakevertroue uiteengesit

sakeliga-rmb-beo-sakevertroue

Grafika: Sakeliga.

Maroela Media het vroeër vandeesweek berig oor die RMB/BEO-indeks oor sakevertroue. Hierdie noemenswaardige indeks word saamgestel in samewerking tussen die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) en Rand Merchant Bank (RMB). Dié indeks gee ’n aanduiding van sakevertroue in Suid-Afrika.

Die jongste opname dui daarop dat sakevertroue in die eerste kwartaal van 2019 (K1 2019) tot by 28 gedaal het. Die dalings word as ’n breëbasisverswakking beskryf. Dit is die vierde agtereenvolgende daling in sakevertroue soos gemeet aan hierdie indeks.

Wat egter uitstaan en kommerwekkend is, is die lae vlakke van vertroue wat al etlike jare ter sprake is. Op die grafiek hierbo verteenwoordig 50 die neutrale vlak van sakevertroue – van nature wil ons syfers bo 50 sien – dit sou daarop dui dat ’n oorwig van respondente tevrede is met sake-omstandighede tydens die opname.

Sedert die groot finansiële krisis van 2008/2009 is metings van 50 of meer in slegs 3 kwartale aangedui in 2011 K1, 2012 K1 en 2014 K4. Ná president Ramaphosa se verkiesing tot ANC-president in K4 2017 is ’n opswaai in die indeks van 33 tot 44 aangedui, maar die indeks het egter steeds onder 50 gebly.

Sedertdien is vier agtereenvolgende dalings van die indeks gesien en, soos reeds genoem is, staan die indeks tans op 28 – wat histories uitsonderlik laag is.

Die uiteinde van die saak, volgens die RMB/BEO se mediaverklaring, en waarmee ons by Sakeliga ten sterkste saamstem, is dat polities ongewilde en kragdadige strukturele ekonomiese hervormings nodig is om die ekonomie uit die klem van lae groei te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Koos ·

Solank die ANC regeer, sal geen polities ongewilde stappe geneem word, wat kan lei tot kragdadige strukturele ekonomiese hervorming in ons land nie.

Só, wat spel dit?

Geen noemenswaardige toename in die sakevertroue indeks nie en dus ook geen ekonomiese regruk aksies wat sal volg agv die gebrek aan sakevertroue nie.

Wat bly oor?

Bitter min, bloot omrede die massas wat vir die ANC stem nie die vaagste benul het waaroor ekonomiese groei in ons land kan lei nie.

Al genade is dat alle ander kiesers as ANC kiesers, die nie-ANC tipe partye ten sterkste MOET ondersteun, sodat ons hopelik deur koalisievorming, die ANC se politiese mag kan breek en daardeur iets nuuts en meer sinvol tot stand kan bring tot ons almal se voordeel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.