Staatsrede: ‘Staak die sosialistiese vernietiging’

  • Fanie Brink is ‘n onafhanklike landbou-ekonoom. (Foto: Facebook)

    Deur Fanie Brink, ʼn onafhanklike landbou-ekonoom

 

Kritiek op die staatsrede wat president Cyril Ramaphosa verlede week aan die Nasionale Vergadering van die parlement voorgelê het, kan in enkele woorde opgesom word: Staak die sosialistiese vernietiging van die ekonomie en die land.

Die staatsrede het dit weereens baie duidelik bewys dat die presidensie, tesame met sy politieke bondgenote en maatskaplike vennote, wat die openbare sektor verteenwoordig, nooit sal verstaan dat die private sektor nie werksgeleenthede kan skep as die regering nie ’n politieke en ekonomiese omgewing daarstel wat bevorderlik vir die private sektor is nie.

Die ware feite is dat die oorheersende regulatoriese betrokkenheid van die regering, met sy totaal vernietigende sosialistiese ideologie, ekonomiese ongeletterdheid en onbevoegdheid, die hoofredes is waarom die private sektor nie ’n groter bydrae tot ekonomiese groei kan maak nie. Andersins is dit die enigste manier hoe die private sektor meer werksgeleenthede kan skep.

Die probleem met die aankondiging van die president, dat die private sektor die werksgeleenthede in die ekonomie moet skep, is goed en wel, maar waar is die omgewing waarin werksgeleenthede geskep kan word?

Dit is duidelik iets wat die regering en sy politieke bondgenote, die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) en die vakverbond Cosatu, sowel as sy vennote, Business Unity South Africa (BUSA) en Business Leadership South Africa (BLSA), klaarblyklik nooit sal verstaan nie.

Hoekom sal die private sektor dit toelaat dat ʼn suiwer sosialistiese regering aan hom voorskryf wat hy moet doen, wat die ekonomie en die land finaal binne die volgende drie tot vier jaar sal vernietig?

Dit sal deur die ANC se eie ondersteuners verhaas word, deur groter politieke en maatskaplike onrus, plundery, die verwoesting van ondernemings en eiendom, asook die afsper van belangrike toegangsroetes wat die land gedurende Julie verlede jaar in KwaZulu-Natal en Gauteng ervaar het.

Die tyd het aangebreek dat die private sektor van sy ekonomies ongeletterde en onbevoegde sake-organisasies soos BUSA en BLSA ontslae raak en hulle met ’n sake-organisasie vervang wat die mees basiese beginsels van ekonomiese groei verstaan.

Die vraag is ook waarom die private sektor in die sogenaamde private-openbare-vennootskappe met die korrupte ANC-regering betrokke sou wou raak. Net om hul eie finansiële oorlewing op die spel te plaas?

Die president slaag elke keer uitstekend daarin om met groot entoesiasme terug te val op sy regering se vorige suiwer sosialistiese ekonomiese planne, soos die nasionale ontwikkelingsplan en die ekonomiese heropbou en herstelplan.

Hierdie sosialistiese en akademiese wenslys van sy ‘vriendekring’ is steeds vir die onbeheerbare en onomkeerbare fiskale en maatskaplike probleme van die land verantwoordelik.

Die regering se politieke en ekonomiese beleid sal steeds veroorsaak dat die ekonomie nie groei nie, wat steeds die gaping tussen sy inkomste en uitgawes verder sal vergroot, wat stygende begrotingstekorte en staatskuld tot gevolg sal hê.

Die ekonomie en die land is op die laaste tree voor die afgrond gebring, wat die land finaal in ’n onderontwikkelde land sal verander, met baie groter armoede, hongersnood, werkloosheid, ongelykheid en menselyding as ooit tevore.

Ons het reeds die punt bereik waar geeneen van die planne en beloftes wat die president weer vanjaar tydens sy jongste staatsrede bekendgemaak het, enigsins sal slaag of realiseer nie. Binnelandse en buitelandse beleggers moet hulle nie langer daardeur laat mislei nie.

Die land kan ook geensins langer staatmaak op enige objektiewe siening en ondersteuning van die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) wat die vernietigende ekonomiese beleid van die regering ten volle ondersteun nie.

Hulle het geen idee van die werklike feite en realiteite van die sosialistiese vernietiging van die ekonomie nie en daarom kan hulle ook geen betekenisvolle aanbevelings en oplossing vir Suid-Afrika aanbied nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

annie ·

Dit is die waarheid…en veel erger. Cyril hoop steeds die buiteland trek sy masker ook oor sy oë en gooi nog geld na onbeduidende projekte soos covid-entstof om ‘groot’-beloftes van werksgeleenthede te skep. Kyk maar hoe spring hy teen die einde van ’22 om, om weer as bottermessie gekies te word. Cyril sal alles inspan om die kaders te plesier selfs dié mense opoffer by wie hy nou flikflooi om tog te help.

Thom ·

Netsoos die Ptesident se rede brabbel Fanie ‘n spul onhaalbare teoretiese retoriek met nie ‘n enkele poging om sy ewige negatiwiteit te kwalifiseer nie . Die EFF vertel ook hoe en dat alles sleg is ___ hou op saam praat en vertel HOE dit reggemaak moet word !

Deon ·

Dit help nie om die ANC heeltyd te klap wanneer hulle nie kan verstaan dat alles waaraan hulle vat in n gemors verander nie. Hulle dink en glo hulle doen reg maar hulle doen ooglopend alles verkeerd en die hele wereld sien dit. Iemand moet tog net begin om die mense, in n taal wat hulle wil verstaan, begin leer hoe om die land van algehele ondergang te red. (Dit wat nog te redde is.)

Chris ·

Ek verwerdig my partykeer om nie eers na die politieke kenners/ontleders se kommentare te luister of te lees nie. Almal praat en bespiegel en filosofeer. Die grootste struikelblok in die land se bestaan of geveg om voort te bestaan, oorleef is die struikrowerbende wat in beheer is. Verwyder die klomp uitspieële en dit sal hopelik beter gaan. Die gesegde lui mos, wanneer ‘n nar die paleis instap word hy nie koning nie. Die paleis versnder in ‘n sirkus. Die grootste oorsaak van die stand van sake is die regime het nie ‘n beleid nie. Hul beleid is die vryheidsmanifes wat met kommunisme/sosialisme deurtrek is. Dit is ook ‘n ander bewys, kommunisme het 30plus jare gelede “geval”. Die lot hier besef nie dat die beleid nie werk nie en dat kommunisme “dood” is nie. Die probleem moet aangespreek word. Nie die simptome nie.

Treurwilger ·

Puik artikel, prentjies ter verduideliking onnodig.
Skitterende wenke wat dringend ter harte geneem moet word.
Fanie Brink vra telkemale vir die regering om sy lang neus en vingers uit die ekonomie te hou.
Só word die mees gunstige toestande geskep vir ‘n vrye mark, vraag en aanbod.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Eerstens, ek besef elke dag al hoe meer hoe vér verwyderd is die Afrikaan-lewenssiening van die Germaans-lewensiening.
Tweedens: Die kommunistiese leermeesters het die ANC-leierskap netjies en doeltreffend geïndoktrineer in die Marxisties ideologie en hoe ‘n kommunistiese staatsbestel tot stand gebring en behou moet word.
Welke persentasie van “my mense” is goed onderlê in die strategië en metodieke van kommunisme en hul aanwending van leuens en die skep en uitbuiting van persepsies? Welke persentasie van “my mense” is deeglik vertroud met die ANC se NDR en NDS?
Derdens: George Orwell het in sy boeke “Animal farm” en “1984” ongelooflike insae getoon in hoe die massas of stemvee gemanipuleer kan word. Die kommuniste is meesters hierin.
Caveat: Moet nooit die kommunistiese teenstanders onderskat nie. En wees nie naïef om hom te glo nie.

Darkwing Duck ·

Voer meer Kubane in as deel van die regruk plan. Hulle het dan so goed gedoen moet Covid en die vaaldam.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.