‘Stagflasie’ dalk SA ekonomie se voorland

Die skadelike driedubbele kombinasie van inflasie, hoë werkloosheid en stagnasie in BBP is die ergste scenario vir sentrale bankiers en wetgewers wat moet kies watter probleem om te beveg. (Argieffoto)

Stygende inflasie is nou wêreldwyd algemeen in die meeste lande en Suid-Afrika is geen uitsondering nie.

Die bekroonde ekonoom Mike Schüssler skryf saam met Elize Kruger in ʼn ontleding vir Brenthurst Wealth die wêreld se ekonomieë het ná die Covid-19-pandemie net weer begin kop optel, toe die konflik tussen Rusland en Oekraïne losgebars het. Dit het opnuut gelei tot die ontwrigting van verskaffingskettings en het veroorsaak dat kos- en brandstofpryse die hoogte inskiet.

Stagflasie is boonop ook ʼn bron van kommer. Die term is ʼn kombinasie van die woord inflasie en stagnasie in BBP en verwys na ʼn ekonomie wat beduidende inflasie, hoë werkloosheid en stadige of geen ekonomiese groei ondervind nie.

“Die skadelike driedubbele kombinasie is die ergste scenario vir sentrale bankiers en wetgewers wat moet kies watter probleem om te beveg.”

Hoë werkloosheidskoers

Schüssler en Kruger skryf dat Suid-Afrika ʼn eiesoortige penarie ondervind: Die land het die hoogste werkloosheidskoers ter wêreld. Hoewel die ekonomie verlede jaar tot ʼn mate herstel het, met werklike groei van 4,9% ná die 2020-resessie, het die arbeidsmark nie dieselfde groei as die breër ekonomie ondervind nie.

Talle werksverliese is onder laer inkomste- werkers ondervind, maar daar was ook ʼn gedeelte van die formele werksmag wat getref is deur byvoorbeeld afleggings of die onvermoë om ná die pandemie ʼn geskikte werk te vind.

Stadige of geen groei

Volgens die ekonome was die gemiddelde werklike ekonomiese groeikoers in die tien jaar tot 2019 slegs 1,7% per jaar, terwyl die bevolking in dieselfde tyd met naastenby 1,5% gegroei het. Dit het gelei tot ʼn afname in groei in die werklike BBP per persoon met inkrimpings wat tussen 2015 en 2020 ondervind is.

Dit was ʼn aanduiding dat Suid-Afrikaners in elk van daardie jare armer geword het. Verlede jaar het die werklike BBP per persoon effens herstel, maar dit is steeds heelwat laer as vorige jare.

Volgens die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) se jongste wêreld- ekonomiese vooruitsig wat in April bekend gemaak is, word groei van 1,9% vir vanjaar voorspel. Slegs 1,4% word in die vyf jaar tot 2027 voorspel en verskeie gevare gaan aanhou om ʼn demper op groei in Suid-Afrika te plaas.

Hierdie risiko’s sluit in voortgesette kragverskaffingsprobleme wat gaan lei tot beurtkrag. Eskom het boonop onlangs gewaarsku dat Suid-Afrika moet voorberei vir nog vyf jaar van gereelde beurtkrag.

Daar is ook groot druk op huishoudings weens stygende brandstofpryse, stygende kospryse en kwaai stygings in tariewe vir krag, water en ander munisipale dienste.

Hoë werkloosheid, en ʼn skrale kans dat dit te midde van swak herstel omgekeer gaan word, is nog ʼn gevaar. Jeugwerkloosheid staan op 63,9% in die eerste kwartaal van vanjaar, terwyl die algehele werkloosheidskoers op 34,5% staan.

Daar is boonop ʼn lae vlak van vertroue onder verbruikers en sakeondernemings en stadige vordering met strukturele hervorming wat die moontlike groeikoers van die ekonomie kan verhoog.

Hoë inflasie

Plaaslike inflasionêre druk het die afgelope paar maande toegeneem en dit kon gesien word in ʼn styging in die prys van brandstof en rou materiale, sowel as hoër kos- en kragpryse, skryf Schüssler en Kruger.

Kernverbruikersprysinflasie vir vanjaar word op 5,9% geplaas en is steeds binne die Reserwebank se teikenband. Die verbruikersprysindeks het in Mei egter tot 6,5% toegeneem, hoër as die Reserwebank se boonste vlak van 6%. Dit is ook die hoogste sedert Januarie 2017, maar sal na verwagting in die komende maande weer daal.

Schüssler en Kruger sê hoewel inflasie in Suid-Afrika na verwagting binne aanvaarbare vlakke gaan bly, moet verskeie risiko’s dopgehou word. Dit sluit in verdere stygings in die brandstofprys (gegewe verhoogde internasionale oliepryse), skerp kragtariefstygings en die gevaar van ʼn tweede ronde prysstygings wanneer maatskappye nie meer die stygings kan absorbeer nie.

In ooreenstemming met internasionale inflasieneigings gaan Suid-Afrika se kerninflasie van volgende jaar ook begin afplat. Die Reserwebank het reeds begin om monetêre beleid te normaliseer en volgens Schüssler en Kruger gaan dit help om hoër inflasie teen te werk.

“Die huidige werklikhede in Suid-Afrika dui op ʼn tydperk van moontlike stagflasie, gegewe onlangse opwaartse prysdruk,” sê hulle.

Indien verbruikersinflasie wel later vanjaar soos verwag ʼn draaipunt bereik en volgende jaar daal, behoort dit net ʼn matige rentekoerssiklus te veroorsaak en gaan dit die regering die geleentheid gee om die strukturele probleme te pak wat die ekonomie terughou.

Gevolge vir gewone verbruikers

Volgens die ekonome blyk dit dat daar – volgens die strengste definisie – nie tans wêreldwyd of in Suid-Afrika voldoen word aan al die elemente vir stagflasie nie. Die spesifieke omstandighede kan dit in sommige ekonomieë en vir ʼn beperkte tyd egter so laat voel.

Schüssler en Kruger waarsku dat stagflasie ʼn regstreekse uitwerking op bekostigbaarheid het, wat dit vir gewone mense veel moeiliker maak om aan hul basiese behoeftes te voldoen – veral diegene op laer inkomstevlakke of wat werkloos is.

“Vir diegene wat werk, kan stagflasie lei tot die gevaar van werksverliese of laer lone, wat verbruikersvertroue en koopkrag verminder,” sê Schüssler en Kruger.

Dit lei ook gewoonlik tot laer winsmarges vir beleggers weens hoër insetkoste en laer verkoopsyfers.

  • Mike Schüssler, ʼn onafhanklike ekonoom, is op 24 Mei vanjaar dood. Hy het jare lank saam met Brenthurst Wealth as raadgewende ekonoom gewerk en het volgens die maatskappy verslae van ʼn uitsonderlike standaard geskryf wat tot kliënte en die Brenthurst-span se begrip van ekonomiese kwessies en die uitwerking daarvan op beleggingsbesluite bygedra het. Die nuusbrief is aan hom opgedra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nici ·

Ek het verstaan Zimbabwe is werkloosheidskoers is baie hoer as RSA se werkloosheid?

Kokerboom ·

Die kantelpunt is wanneer ekonomiese groei ondergeskik word aan bevolkingsgroei met gevolglike hoë werkloosheid , verarming, moedeloosheid, hoë risiko van ongehoorsaamheid en volksopstand en anargie.Dan beeweeg barometer in rooi vir potensiële anargie

AJ ·

Solank die term ‘werkloosheid’ gebruik word sal die ARMOEDE PROBLEEM nooit opgelos word nie. As almal eerder praat van OORAANBOD van werkers, sal die probleem in die regte perspektief gesien word en die regte oplossing gevind word. Die werker OORAANBOD probleem word veroorsaak deur bevolkingsaanwas (geboortes en migrasie) en ‘n DALENDE AANVRAAG na werkers. Beide die bg oorsake (vir die ooraanbod) is die gevolg van swak (ontoepaslike) beleid tydens die 30 jarige bewind van die ANC. Byvoorbeeld. ‘n OORAANBOD is veronderstel om die PRYS van werkers te verlaag. Maar die ANC ontken die basiese wet van vraag en aanbod deur die prys van werkers (arbeid) te VERHOOG! Verder misluk die ANC onderwysbeleid om ‘waarde toe te voeg’ tot die SA werkers grootliks as gevolg van die ANC se militante onderwys vakbonde wat eerder ontwrig en afbrand as om leerders te onderrig. Die ANC beleid het klaaglik misluk … wat nou?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.