Opdraande stryd vir SA ekonomie in 2e kwartaal

geld ekonomie suid-afrika

Argieffoto

Suid-Afrikaners kan hul gereed maak vir ’n ekonomiese mallemeule vanjaar. Terwyl die eerste kwartaal se ekonomiese groeikoers waarskynlik positief sal wees, is verwagtinge dat die tweede kwartaal waarskynlik stoom sal verloor.

Faktore wat die tweede kwartaal se groeikoers kan stonk, sluit in, onder meer, die landwye busstaking, die stewiger rand en produksie-inkortings by myne weens ongelukke, soos rotsstortings.

Die ekonomiese agentskap NKC African Economics se navorsers wys daarop dat gegewens wat tot dusver oor die tweede kwartaal uitgereik is, nie so rooskleuring is nie. Die kwartaal sluit einde Junie.

Volgens NKC het die Suid-Afrikaanse Kamer en Koophandel en Nywerheid, Sacci, se sakevertroue vir die derde agtereenvolgende maand in April gedaal. Sakevertroue is gepootjie deur laer uitvoer-volumes, terwyl die stewiger rand ook kaarte deurmekaar gekrap het. Sakevertroue het van 97,6 indekspunte in Maart tot 96 in April verswak.

Die NKC wys daarop dat sakevertroue tot ’n tweejaarhoogtepunt gestyg het in Januarie toe dit duidelik geword het dat Cyril Ramaphosa president sou word. Sacci se sakevertroue is nou op dieselfde vlak as wat dit laas tydens Jacob Zuma se presidentskap was.

Volgens Sacci kan sakevertroue herstel sodra ekonomiese hervorminge onder die nuwe leierskap begin vrugte dra.

Die ekonomiese agentskap spreek ook sy kommer uit weens die swakker as verwagte vervaardigings- en mynbouproduksie vir Maart. NKC sê dit kan die weg baan vir ’n swakker groeikoers in die tweede kwartaal.

Volgens Statistiek Suid-Afrika het mynbouproduksie met 3,4% in Maart gedaal. NKC sê dit was swakker as markvooruitsigte. Van die sektore wat swak vertoon het in die sektor, is goud-, platinum- en diamantmynbou.

NKC sê dat die breë mynbousektor gedurende Maart sy eerste resessie sedert 2015 ervaar het. Dit wys daarop dat mynbou ook ’n negatiewe bydrae tot die eerste kwartaal se groeikoers sal lewer. Volgens NKC is voortgesette onsekerheid oor regeringsbeleid, die sterker wisselkoers  en Amerika se invoerbeleid van die faktore wat die sektor strem.

Die agentskap sê die wêreld-ekonomiese herstel tans behoort die mynbousektor te ondersteun. Dit maan egter dat die mynbousektor groter duidelikheid van die regering nodig het.

Intussen het Statistiek Suid-Afrika aangedui dat vervaardigingsproduksie grootliks deur die sterker rand en swakker plaaslike aanvraag gestonk is.

Vir die drie maande tot einde Maart het die vervaardigingsgegewens met 1,7% verswak.

Volgens die NKC is dit duidelik dat vervaardiging sedert sy blink vertoning in die laaste kwartaal van 2017 stelselmatig  verlangsaam het.

Die agentskap voorspel dat vervaardiging ’n negatiewe bydrae tot die eerste kwartaal se ekonomiese groeikoers  kan lewer.

Die NKC skryf dit toe aan die stygende rand, terwyl die bykomende belasting op toegevoegde waarde en aksynsbelasting ook ’n demper op vraag geplaas het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

marous ·

Kan die ekonome asseblief verduidelik hoekom daar op die kniee geval word as die Rand versterk en terselfde tyd bitterlik geween word ? Beteken dit nie maar eenvoudig dat die geldwaarde niks beteken buite die landsgrense nie ? Kan daar ook asseblief syfers gegee word oor welke uitvoere die grootste is en wat se persentasie is landbou? Los maar die minerale hulpbronne se statistiek want dit is ‘n klug .

Eish ·

Ek verstom my altyd aan die nasionale syfers wat altyd meer positief blyk te wees as wat ek in my omgewing ervaar.
Byvoorbeeld: Bekende motorhandelaar het n jaar gelede 35 eenhede per maand verkoop en staan die jaar op n gemiddeld van 12 per maand. Dis n 65% daling.
Hierdie daling is deurlopend van toepassing in die provinsie by die meerderheid gevestigde ondernemings.
Ek dink dit gaan swakker as wat die syfers ons vertel.

jaco ·

So ‘n swakker Rand wat die petrolprys maar net weer laat styg en styg is “beter”?

Casper Labuschagne ·

Daar is een simptoom van rommelstatus gepaard met endemiese korrupsie, politieke onstabiliteit, revolusionêre aansprake, toenemende sosialisme asook komende onteiening sonder vergoeding, en dit is inflasie, oftewel hiperinflasie.

Maar inflasie begin nou om snel deur ons beursies te galop waar die meeste huishoudings reeds hul maandelikse kruideniersware op krediet koop.

Voeg ook by die ekonomiese treurmare, die komende afleggings as gevolg van die instelling van ‘n minimumloon asook die feit dat dit ook voortaan besonder moeilik sal wees om ‘n aanstelling op intreevlak te kan bekom.

Hettie ·

Die boubedryf gaan ook deur n moeilike tyd. Dit is asof mense bang is om verbeterings aan te bring as gevolg van die regering se beleid van onteiening van grond en eiendom. Dit gaan meer werkloosheid veroorsaak.

AMMIE ·

Ons is in die boubedryf en kan getuig dat daar nie meer huise gebou word deur blankes nie en ek stem saam met jou Hettie dat dit as gevolg van die reging se beleid van onteining van grond en eiendomme is. Ons vervaardig aluminium vensters en deure en moes afskaal met personeel asook van ons mens afbetaal het omdat daar nie meer werk is nie. Ons glo en vertrou dat dinge beter sal gaan in ons land……………..maar wanneer!! Dit is kommerwekkend hoeveel geld ons moet betaal aan die regering. Ons is goed genoeg om DSTV, ADT, SAUK, TOLGELD ens. ens. ens te betaal om die staatskas vol te maak en wat kry ons nou daarvoor? Met ‘n skok het ons ook agtergekom dat as jy kontant inbetaal by bv. motorhandelaar vir aankoop van voertuig of kontant inbetaal by bank moet jy nou jou ID nommer verskaf en ek wonder waarvoor. Ek wens ons mense kan begin saamstaan en iets doen omtrent die situasie. Elke dag se moorde en rooftogte op onskuldige mense maak mens net meer negatief en depressief. Ek weet nie of daar enige hoop meer oor is vir ons blankes in die pragtige land van ons nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.