Pendelkrisis: Regering moet nou ingryp

Pendelaars wag op taxi’s by die Nyanga-staanplek te midde van ʼn landswye staking deur busbestuurders (18 April 2018). Foto: Ayanda Ndamane/ANA

Die hoofekonoom by Economists.co.za, Mike Schussler, sê die huidige pendelkrisis moet voor die regering se deur gelê word. Ofskoon pendelverkeer vir 20 jaar glad verloop het, het die regering niks gedoen om die huidige netwerk uit te brei en te verbeter nie.

Schussler is van mening dat die krisis rakende die pendelspoordienste van Prasa, die Metrorailnetwerk, ’n groot probleem is.

Volgens statistieke wat Schussler bekend gemaak het, was daar 2,9 miljoen treinpendelaars in 1998. Hy sê dit het teen 2008 tot 2,7 miljoen passasiers per dag gedaal.

Schussler voeg by dat Prasa tans sowat 1,2 miljoen passasiers per dag vervoer – ’n daling van sowat 60% oor die afgelope 20 jaar.

Daarteenoor sê Schussler dat busse sowat 1,3 miljoen pendelaars in 1998 karwei het. Dit het tot 1,2 miljoen pendelaars in 2009 gedaal. Tans vervoer busse sowat 1,4 miljoen passasiers per dag.

Schussler wys daarop dat die groot wenner die taxibedryf is. Volgens hom is daar nie genoegsame gegewens om dit te boekstaaf nie ofskoon dit duidelik is weens die talle taxiroetes wat ontstaan het.

Hy sê egter dat Prasa verskeie strukturele en bestuursprobleme het, terwyl die maatskappy ook tot staatskaping verbind word.

Onder die strukturele probleme wat kommerwekkend is, is vandalisme, kabelsdiefstal wat treindienste tot stilstand dwing asook die veiligheid van passasiers en drywers.

Op bestuursvlak het verskeie rade, onder meer dié van Popo Molefe met die vorige bestuurshoof Lucky Montana koppe gestamp oor korrupsie en die aankoop van lokomotiewe wat te groot was vir die Suid-Afrikaanse spoornetwerk.

Prasa moes onlangs die Kaapse sentralelyn sluit weens vandalisme en aanvalle op sy treindrywers. ’n Soortgelyke sluiting is tans nog van krag tussen Koedoespoort en Pienaarspoort in die ooste van Pretoria.

Terwyl voorvalle van die geweld veral in die Wes-Kaap voorkom, steek dit ook kop uit in Gauteng en KwaZulu-Natal.

Schussler reken die situasie tans is van so ’n aard dat dit uitgebuit kan word vir eie gewin.

“Die huidige busstaking is ’n voorbeeld hiervan.”

Intussen is Prasa se vrot bestuur ook op ’n ander front onder die loep.

Die Federasie van Unies van Suid-Afrika (Fedusa) het gevra dat die minister van vervoer Blade Nzimande moet ingryp in die mees onlangse loongeskil by Autopax wat deel van Prasa is.

Fedusa se hoofsekretaris, Dennis George, sê dat Autopax sy busdrywers ingelig het dat hulle nie April hul salarisse gaan ontvang nie. Fedusa het ’n beroep op Nzimande gedoen om in te gryp omdat Autopax beweer hy geldelike probleme ervaar.

In ’n brief aan personeel het Autopax se bestuurshoof, Nathi Kekaka, beweer dat die maatskappy tans ’n kontantvloeiprobleem ondervind.

George sê die kontantvloeiprobleem word al die afgelope 12 maande ondervind weens ’n afname in busse en passasiers asook die huidige busstaking  wat die situasie vererger.

Die vervoerfiliaal van Fedusa, die Verenigde Nasionale Vervoervakbond (Untu), se werkers moet nie vir swak bestuur geboet word nie.

George het ’n beroep op Prasa gedoen om in te spring om die swak korporatiewe bestuur by Autopax op te los. Hy sê dit brei nou so vinning uit, dat dit die werkers se inkomstes bedreig en die sekuriteit van hul pensioene op risiko plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Alta ·

Moet huiswerkers betaal word as hulle nie opdaag vir werk nie agv van die busstakings?

Sandra F ·

My huishulp kom nog elke dag met ‘n taxi. Ek betaal die R24 aangesien ek nie kan verwag dat sy dit dit elke dag moet opdok nie. Ai, dit is skandelik wat aangaan. Niemand lyk my is ernstig om die probleem op te los nie

Donald ·

Nee hulle moet nie betaal word nie. Moet ook n formele waarskuwing ontvang volgens wet. 3 sulke waarskuwings dan moet hulle in die pad gesteek word. Jy sal sien hoe vinnig maak hulle n plan om by die werk te kom.

Casper Labuschagne ·

Dit is ‘n besliste krisis wat verseker gaan ontplof. As jy nie jou eie motorkar het nie, of nie bevoorreg is om met die Gautrein te kan pendel nie, is jy uitgelewer aan die genade van of munisipale busse, of minibusse, of Metro Rail en eendag sal jy jou werk kwyt wees omdat jy ‘n onbetroubare werker is wat of laat kom of glad nie vir werk opdaag nie.

geregtigheid ·

Dit lyk asof die taxis agter die stakings, kabeldiefstal en vandalisme sit.

wilma ·

My dogter se huishulp betaal nou R120/dag vir taxi-vervoer. Sy werk ook vir vier ander werkgewers wat nie die ekstra betaling kan bybring nie. Huishulp bly nou maar tuis en ontvang geen dagloon van drie werkgewers nie.

Donald ·

Die minibus bedryf se inkomste word greken om en by R90 biljoen n jaar te wees maar daar word geen tax betaal nie. Hulle word maar net verskoon omdat gereken word dat hulle finansieel ongeletterd is. Dit is kriminele oortreding van die wet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.