Plaaslike telekommunikasiereus sukkel weer met Nigerië

Argieffoto.

Een van die swaargewigte van die Johannesburgse Aandelebeurs, die telekommunikasiereus MTN, is weer eens hard deur beweerde oortredinge van regulasies in Nigerië geslaan.

Ontleders meen die maatskappy begin nou vir sy voorliefde vir ontluikende hoë risiko-markte boet.

Die selfoonoperateur se aandeleprys het verlede week met 19,4% gesink en dit het sy verliese vir die jaar op ’n beraamde R95 miljard gebring. Donderdag het hy meer as R8 miljard prysgegee. Die aandeleprys het by sy laagste punt in bykans ’n dekade gaan draai.

Die maatskappy is gister geskud nadat Nigeriese reguleerders die maatskappy daarvan beskuldig het dat hy $8,1 miljard (sowat R119 miljard) onwettig uit die land geskuif het.

Hierdie is een van ’n klomp houe wat die maatskappy die afgelope ruk moes absorbeer.

Die Amerikaanse president, Donald Trump, se herinstelling van sanksies teen Iran het verhoed dat MTN R3,4 miljard uit daardie land na Suid-Afrika kon skuif.

Volgens MTN het die Nigeriese Sentrale Bank blykbaar gesê dividenduitbetalings wat tussen 2007 en 2015 gedoen is, terug aan Nigerië gestuur moet word.

Ontleders meen egter dat verskeie ondersoeke gedoen is, insluitend een deur die senaat en niks onwettigs gevind is nie. Ontleders meen dat Nigerië ’n kontantvloeiprobleem het en vir MTN niks anders as afpers nie.

Een ontleder het daarop gewys dat Nigerië – wat ook vandeesweek deur die Britse eerste minister, Theresa May, op haar Afrika-toer besoek is – met dié aksie geloofwaardigheid as beleggingsentrum gaan inboet.

“Een het daarop gewys dat buitelandse maatskappye twee keer sal dink voor hulle in die Wes-Afrika-staat gaan belê.

“Dit raak ’n duur risiko,” het een ontleder gemaan.

MTN wys daarop dat hy in November 2007 van enige oortredinge deur die senaat kwytgeskeld is. Die maatskappy het bygevoeg dat die jongste aksie in Nigerië betreurenswaardig is en belegger-sentiment teenoor Nigerië kan benadeel. Die land het Afrika se grootste bevolking.

Die paniek het ná die aksie deur die Suid-Afrikaanse maatskappye gesypel. Shoprite, wat sterk in Nigerië gevestig is, het met 6,4% gedaal. MultiChoice Nigerië het 6,4% laer gesluit

Die Openbare Beleggingskorporasie, wat nog herstel ná die ineenstorting van Steinhoff se aandeleprys vroeg in Desember, het weens gister se MTN-aandeleslagting bykans R5 miljard verloor.

Een senior JE-rolspeler het gesê dat hy nou skepties staan teenoor beleggings in Nigerië en die res van Afrika.

MTN het gesê hy gaan hom na die hof in Nigerië wend. Intussen het die Nigeriese Kamer van Koophandel dié stap deur die sentrale bank as ’n heksejag beskryf en aangevoer dat daar voorbeelde van ernstige oortredinge is en dat die sentrale bank niks gedoen het nie.

Vier banke, insluitend Standard Bank Citigroup, is met ’n gekombineerde bedrag van $16 miljoen beboet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

marous ·

Een van die dae is daar weer drawwers met ‘n briefie in ‘n stokkie , en dit sal vooruitgang genoem word ….

HPV ·

Afrika sal nooit verander nie. Regime op regime, menseslagtings, bakhand staan en VN magte wat die vrede moet bewaar. So was dit, so is dit en so gaan dit bly…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.