Praktiese wenke om finansiële onsekerheid te navigeer

geld-spaar-finansies-berekeninge

(Foto: Jarmoluk/Pixabay)

ʼn Verbod op reis en samekomste in openbare ruimtes, afsondering en tuiswerk het skielik die nuwe normaal vir almal geword.

Christelle Louw, adviserende vennoot by die welvaartbestuurspesialiste Citadel, sê talle mense voel nou onrustig, en selfs angstig, omdat die koronavirus (Covid-19) alledaagse roetines en aktiwiteite verwoes het.

“Die gevoel van vrees en onsekerheid word selfs vererger deur finansiële onsekerheid. Daar is dreigemente van afleggings by talle maatskappye en die voortslepende afname in die finansiële markte laat beleggers se koppe skoon draai,” sê Louw.

Sy meen ook die drie week lange staat van afsondering, met die moontlikheid om dit te verleng as die kurwe van aansteeklikheid nie afplat nie, laat Suid-Afrikaners erg bekommerd oor hul salarisse wat ingekort kan word en sakeondernemings wat kan vou.

Louw het egter raad vir mense om die finansiële onsekerheid beter te navigeer:

  1. Neem beheer deur ʼn bestekopname

In ʼn onsekere tyd is die belangrikste en eerste stap om jou gevoelens van finansiële onsekerheid of angs te hanteer. Jy kan dit doen met ʼn volledige opname van jou finansies en ʼn gedetailleerde beoordeling van wat volhoubaar is in die lewenstyl wat jy tans volg. Die ideaal is natuurlik om dit saam met ʼn professionele finansiële adviseur te doen.

“Hierdie assessering is in wese ʼn persoonlike finansiële vooruitskatting wat bedoel is om jou te help bepaal of jy nog op koers is met jou doelwitte vir jou geldsake en gelukkig sal kan aftree, en of jy dalk aanpassings moet maak om te verseker dat jou lewenstyl in lyn met jou beskikbare geld is,” sê Louw.

Dit begin met die opstel van ʼn eenvoudige huishoudelike begroting. Dit moet ʼn eerlike rekord wees wat besonderhede van die huishouding se maandelikse uitgawes bevat soos kruideniersware, vermaak, brandstof en lone, asook bydraes tot mediese fondse, vir die instandhouding van die huis en enige munisipale rekeninge.

“Hierdie uitgawes moet dan aangepas word om vir inflasie voorsiening te maak en kan dan gebruik word om te bepaal of jy genoeg geld vir jou aftree-neseier het.

“Jou assessering moet ook spesifiek voorsiening maak vir uitgawes en laste soos die afbetaling van voertuie, toekomstige vakansies en om vir jou kinders se opleiding in verskillende fases te betaal.”

Louw sê hierby word enige inkomste bygevoeg soos huurinkomste, dividende, rente en jou salaris, en weeg dit dan teen jou uitgawes op om te verseker dat jy nie bo jou middele leef nie.

“Jy moet ʼn uitgebreide lys opstel van die bates wat jy besit, soos enige beleggings of eiendomme.”

Hierdie kombinasies van bates, laste, inkomste en uitgawes kan dan gebruik word om ʼn volledige finansiële profiel in die vorm van ʼn grafiek op te trek. Op die een as van die grafiek sal ʼn finansiële adviseur jou ouderdom aanteken en op die ander al jou opgehoopte kapitaal en die uitwerking van die groei van beleggings, asook die onttrekking van inkomste op die kapitaalbedrag aandui.

“Hierdie grafiek vorm die basis vir die toets om te sien of jou leefstyl volhoubaar is en moet deurlopend hersien word om jou finansiële onafhanklikheid en gemoedsrus te verseker.”

  1. Bou ʼn kontantkussing

In moeilike tye is kontant steeds die koning. Dit is veral belangrik as ʼn aflegging jou in die gesig staar, of as jy onsekerhede het oor jou toekomstige inkomste.

“Met ʼn volledige prentjie van jou finansiële situasie, kan jy bepaal hoe jy kan begin spaar vir ʼn kontantbuffer waaruit jy vir minstens drie maande kan oorleef.

“Dit kan in die vorm van ʼn noodfonds wees, of jy kan selfs kyk om toegang tot jou flexi-verband as dit absoluut noodsaaklik is,” sê Louw.

Sy sê dit is belangrik om te onthou dat goeie tye gewoonlik slegte gewoontes skep. “ As jy eers jou begroting opgestel het, moet jy gaan kyk na waar daar dalk vermorsing kan wees sodat jy kan besnoei om spaargeld beskikbaar te stel.”

Louw benadruk ook dat dit nie nou die tyd is om jou beleggings los te maak na die afname in die finansiële markte nie. “Dit moet die absolute laaste uitweg wees. Jy kan verliese ly omdat die markte nou laer is, maar jy gaan ook die opsie misloop om te herstel as die markte se posisie verbeter en die effek van saamgestelde rente op jou beleggings se groei verbeur.”

  1. Plaas ʼn pouse op die groot uitgawes

As jy nou daarin kan slaag om groter uitgawes te vermy kan jy die lewensduur van jou kontantkussing beskerm.

“Heroorweeg enige oorsese reise vir die onmiddellike toekoms en stel maar eers die aankoop van ʼn nuwe voertuig of ʼn groter eiendom uit,” sê Louw.

“As daar wel ekstra kontant in jou begroting is en jy het reeds ʼn gesonde noodfonds opgebou, kan jy die bykomende geld gebruik om eerder jou skuld af te betaal of om jou terugbetalings te verhoog.

“Daar is ook beleggingsgeleenthede na die wisselvalligheid in die plaaslike en internasionale finansiële markte.”

Christelle Louw van Citadel het raad oor hoe om finansies in tye van onsekerheid te bestuur. (Foto: Verskaf.)

  1. Raadpleeg ʼn professionele adviseur

Een van die sleutelverantwoordelikhede van ʼn finansiële adviseur is om jou te help met raad om jou in tye van onsekerheid teen die storms te verweer.

“Dit beteken dat ʼn adviseur jou moet help om finansieel voor te berei teen enige toekomstige risiko’s. So ʼn adviseur moet jou ook help om ʼn persoonlike padkaart vir finansiële welstand te skep, en kan ʼn strategie verskaf van hoe om jou individuele finansiële doelwitte te bereik.”

Louw sê ʼn adviseur kan jou ook help om in moeilike tye jou vordering objektief te beoordeel en deursigtige advies te gee oor die prestasie van jou beleggings, asook die stand van jou algemene finansiële posisie.

“Daar waar jy probleme ondervind, kan ʼn adviseur jou help om kreatiewe finansiële oplossings te vind om die impak van terugslae te verlig, en praktiese advies te bied oor die aanpassing van jou finansiële strategie soos jy dit nodig het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.