Raad om belastingslim te spaar

finansies-geld-sente-rand-beleggings

Argieffoto (Foto: Stevepb/Pixabay)

Verbruikerskuld en stygende lewenskoste kan nie alleen die blaam dra vir Suid-Afrika se gebrekkige spaarkultuur nie. Suid-Afrikaners is berug daarvoor dat hulle min geld opsy sit vir die toekoms. Baie mense sal natuurlik aanvoer dat dit bykans onmoontlik vir huishoudings is om te spaar, terwyl persoonlike inkomstebelasting, inflasie en elektrisiteitstariewe toenemend styg.

Hoewel dié redenasie geldig is, is dit ook so dat ʼn gebrek aan finansiële kennis talle Suid-Afrikaners weerhou om maandeliks ʼn paar rand in die spaarbussie te gooi.

Oliver Balcomb, direkteur van die Consolidated Group, sê een van die gewildste opsies wat verbruikers kan oorweeg om op ʼn slim manier te spaar, is ʼn belastingvrye spaarrekening (BVSR).

“Suid-Afrikaners spaar gewoonlik nie geld nie,” sê hy en voeg dan by: “BVSR’e is in 2015 ingestel om die algehele besparingsvlak in die ekonomie te verhoog.”

Oliver sê hoewel dié produk in beginsel goed klink, is dit egter belangrik dat verbruikers die samestelling van hierdie beleggingsvoertuig verstaan ​​voordat hulle dit by hul finansiële portefeulje voeg.

“BVSR’e gaan juis oor belastingbesparing. Dit is ʼn medium waar jou saamgestelde groei, of dit nou uit rente, kapitaalwins of dividende is, belastingvry is,” sê Oliver.

Die voordele van so ʼn rekening hang van jou persoonlike omstandighede af. Met die oog daarop bespreek Oliver vyf aspekte wat verbruikers sal help om te besluit of dit die gepaste beleggingsmiddel vir hul finansiële portefeulje is:

1. Voordele

ʼn Belastingvrye spaarrekening kan gebruik word om vir enige langtermynbehoeftes te spaar. Dit is ʼn uitstekende opsie om jou aftreespaargeld aan te vul of wanneer jy vir ʼn nuwe motor of vir die opvoeding van ʼn kind wil spaar.

Die voordeel van so ʼn rekening is dat enige groei in die geld wat op die rekening gehou word, belastingvry is. Dit beteken dat jou spaargeld baie vinniger groei in vergelyking met ʼn tradisionele spaarrekening.

Daarbenewens laat ʼn BVSR jou toe om enige tyd die geld sonder boetes of belasting te onttrek. As jy geld onttrek, sal dit egter die groei van jou belegging vertraag.

2. Nadele

Die maksimum bedrag wat in ʼn belastingjaar belê kan word, is R36 000 en bydraes word beperk tot ʼn lewenslange perk van R500 000.

Hou dus jou bydraes noukeurig dop om sodoende te verhoed dat jy meer geld deponeer as wat toegelaat word. Hoewel dit gerieflik is om al jou spaargeld in die belastingvrye rekening te sit, kan dit nadelige gevolge inhou. Bydraes wat die R36 000-perk oorskry, word met 40% belas.

3. ʼn Langtermynproses

Belastingvrye spaarrekeninge is nie geskik vir korttermynbesparings nie. Dit is ʼn langtermynbelegging en is ideaal vir aftreebeplanning. Dit neem ongeveer 14 jaar om die lewenslange bydrae van R500 000 te bereik. Met dié tydperk in gedagte kan jy dit oorweeg om in bategroepe met ʼn hoë groei te belê in teenstelling met korttermynbeleggings in minder aggressiewe fondse.

4. Belastingverligtingsopsies

Verbruikers, veral dié wat dit as deel van ʼn aftreeplan oorweeg, behoort hul persoonlike finansiële portefeulje wyer te ondersoek. ʼn Belastingvrye spaarrekening moet slegs oorweeg word as jy reeds die belastingverligting wat deur ander aftreevoertuie, soos ʼn uittree-annuïteit, beskikbaar is ten volle benut. Met dié opsies is bydraes belastingaftrekbaar en jou inkomste is ook nie belasbaar nie. ʼn BVSR is net voordelig omdat jy nie op die rente belas word nie.

5. ʼn Neseier

BVSR’e het gewild geword onder grootouers wat die spaargeld as ʼn neseier vir hul kleinkinders se universiteitsgeld wil belê. Die nadeel is egter dat minderjariges se inkomste waarskynlik onder die belastingdrempel sal wees, wat beteken dat ʼn belegging in die kind se naam in elk geval gewoonlik belastingvry is. As gevolg van die lewenslange perk op bydraes, ontneem jy hulle die geleentheid om hul eie belastingvrye spaarrekening oop te maak. Wanneer die kinders ouer is, is hulle meer geneig om voordeel te trek uit ʼn belastingvrye belegging. Maar dit ter syde, as die BVSR begin is as jou kinders of kleinkinders se aftreefonds, word dit ʼn lewensvatbare opsie.

Oliver sê ten slotte dat belastingvrye spaarrekeninge net soos die meeste ander beleggingsvoertuie vir ʼn spesifieke doel ontwerp is. Dit kan dus nie as ʼn losstaande besparingsmedium beskou word nie. Indien jy wel dié opsie oorweeg, is dit altyd beter om eers met jou finansiële beplanner te gesels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

VaalDonkie ·

Die ding wat my die meeste pla is die transaksie fooie op daai “belastingvrye” rekeninge. Op die ou end gee ek 20% van my maandelikse bydrae vir die bank. Ek gooi sommer net al my geld in ‘n spaarrekening in wat so 6.5% per jaar verdien. Ek betaal so bietjie belasting op die 6.5% rente, maar dis darem baie minder as daai 20% fooi wat die bank vra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.