Ramaphosa fokus is op verkeerde plekke

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Siyabulela Duda/GCIS

President Cyril Ramaphosa het tot nou met sy hantering van die ekonomie teleurgestel. Dit is die mening van ontleders wat meen dat die slakkepas waarteen die ekonomie nou groei, nog verdere kredietafgraderings kan meebring.

Moody’s, wat tot nou toe Suid-Afrika goedgesind was, het ook oor ʼn moontlike kredietafgradering gewaarsku.

Moody’s het ʼn verklaring uitgereik waarin hy sê die eerste resessie in bykans ʼn dekade Suid-Afrika se laaste beleggingsgraadstatus kan kortknip. Dit kan nadelige gevolge vir die land en verbruikers hê. En enige kredietafgradering kan die rand skerp laat verswak.

Vuisvoosverbruikers is reeds vanjaar deur verhogings in belasting in toegevoegde waarde en volgehoue brandstofprysverhogings uitgemergel. Moody’s het sy ekonomiese vooruitsig vir die land halveer en sê die negatiewe groei in die eerste helfte van die jaar krediet-negatief was.

Die hoof-ekonoom by economists.co.za, Mike Schüssler, sê Ramaphosa se fokus is op die verkeerde plekke.

“Tot nou het ons woorde gehoor en geen aksie gesien nie. Hy sal nou die reëls moet neerlê en taai besluite moet maak,” het Schüssler gesê.

Daar is ook ongelukkigheid binne ANC-kringe oor die sukkelende ekonomie.

Schüssler wys daarop dat daar werk gemaak word om die gronddebat so spoedig moontlik op te los asook sekerheid oor beleid te verkry. Een voorbeeld waarna hy verwys, is die volgehoue gekrap oor die mynbousektor.

“Dit gebeur terwyl die mynbousektor bloei. Daar kan beleggings gelok word en werk geskep word.”

Schüssler sê daar is te veel populistiese retoriek in die ANC se oggend- en aandpraatjies en dit ontsenu beleggers. Boonop waarsku hy dat die party nou op die verkiesing van volgende jaar fokus, pleks daarvan om iets daadwerkliks oor die ekonomie te doen.

“Ofskoon hy beleggings probeer lok, is dit nie die ideale oplossing nie. Dit moet op die ou end terugbetaal word.”

Schüssler waarsku ook dat Ramaphosa nie net gaan kry waarvoor hy streef nie.

Weens die swakker rand en stygende rentekoerse op die kapitaalmark, word die koers waarteen Suid-Afrika sy staatseffekte se rentekoerse terugbetaal, duurder. Valutahandelaars sê behalwe eksterne faktore, dit ʼn faktor is wat tot randswakheid lei.

Schüssler sê Ramaphosa het nou duidelik te kenne gegee dat hy die ANC bo Suid-Afrika stel.

“Om Suid-Afrika te red sal hy drasties moet ingryp om die staatsdiensloonrekening te sny, geld vir infrastruktuurbesteding beskikbaar te maak en werkskeppingsprogramme aankondig.”

Intussen het Standard Bank se aankopebestuursindeks (PMI), vir Augustus verder verswak. Volgens die verslag het saketoestande in Augustus verder verswak. Augustus is die tweede maand in die derde kwartaal.

Die PMI het tot 47,2 punte gedaal van 49,3 die vorige maand. Die indeks fokus op die ekonomie in sy geheel en enige telling onder 50 dui op ʼn verswakking aan. Die PMI is veral gepootjie deur ʼn daling in nuwe bestellings, lae uitsette, en swakker indiensnemingsyfers.

Die ekonomiese agentskap NKC Research sê die Standard Bank PMI en Absa se weergawe dui op niks goeds vir die tweede helfte van vanjaar nie.

Schüssler sê dit is tyd dat Ramaphosa moet gaan besin. Volgens hom was Ramaphosa en sy ekonomiese ministers se reaksie op die nuus dat die land ʼn tegniese resessie betree het, pateties.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Sp ·

Die ANC word vooropgestel ten koste van die landsburgers.
CR moet besef dat die geknoeiery en plunder van staatskas hierdie land ten duurste gekos het. Hul moes hul arrogansie gestop het deur die DA se herhaaldelike pogings van mosie van wantroue teen Zuma te ondersteun.
Hierdie dilemma is hul eie toedoen aan landsburgers wie die prys betaal het vir hul arrogansie.
CR tree met sy verkiesing weer net in belang van die ANC op.

Frikkie ·

Cyril gryp na gras halms. Hy het nie ‘n idee wat hy doen nie, hy voel soos ‘n sprinhaas in ‘n spotlight. Daar is nie ‘n plan nie! Die bus se stuurwiel het afgebreek en die brieke is gedaan hier teen Gouritz pas af.

Jerry ·

Sou enige persoon president wil wees met die gemors van Zuma se nalatenskap, ek dink nie so nie! Dit gaan nog baie slegter gaan, voordat dit sal beter gaan, maar dan moet groepe begin ophou om CR se intensies te ondermyn.

Judge Dredd ·

CR plaas nogsteeds die ANC bo SA – nes Zuma.
CR sal ons nog verder die afgrond afgooi solank die ANC belange belangriker as lands belange is.

Neutraal ·

ANC kan nie geglo word nie. Hulle raak daagliks slegter om iets goed vir die land en sy mense te doen .

Celtis Africana ·

” Volgens hom (Shüssler) was Ramaphosa en sy ekonomiese ministers se reaksie op die nuus dat die land n tegniese resessie betree het, pateties. ”
CR het basies gesê dat daar niks is om oor bekommerd te wees nie synde ons resessies in die verlede gehad het en dit weer in die toekoms sal kry. Ons moet dit basies uitsweet.
Nè!
Daar is hope bollie oppad.

Leierloos Krimpvarkietjie oppad na NugterWieWeet ·

En so ploeter en strompel die Suid-Afrikaanse nasie soos troppe skape leierloos voort in alle rigtings na nugter wie weet waarheen.

Arie ·

Hoe meer hy blaf hoe meer daal die rand, hy vaar sover niks beter as zumpie nie maar dis mos al wat hulle kan doen – blaf!!!

Jackie ·

Wel dan moet CR wat die werk so graag wou hê begin aksie neem. Hy is net nog ANC puppet

Hanna Hoekom ·

Die ekonomie is in sy kanon, mense (van alle kleure) trek finansieel swaar. En tog word sleg ekonomiese besluite soos grondgryp sonder vergoeding steeds voorgehou! Dan praat ons nie van die rassespanning wat nou op n mespunt is nie… En dit alles word voor die cANCer se deur gele. Of is dit nou die free-dumb-fighters wat die toutjies trek?

Gert ·

Ek het jare terug by ‘n dinee van die Buro vir Marknavorsing by UNISA na ‘n toespraak van Schussler geluister waarin hy Suid-Afrika se ekonomie as ‘n “miracle” beskryf het (2003, as ek reg onthou).

Dit was opmerklik hoe van die akademici die toespraak as “twak” (‘n paar sterker woorde is ook gebruik) beskryf het, en bygevoeg het dat daar baie groot fout met die ekonomie was. Hier sit ons, vyftien jaar later, en ook Schussler is nou al krities teenoor die ekonomie. Sal daar selfde profesore die ekonomie nou as ‘n ramp beskryf?

The people ·

Mr President, PLEASE be a real president and not a puppet. Please show us you care by doing your job for the people of SA. You need to start by handling our economy. Effectively stealing property bought and paid for by us isn’t handling the economy. I suspect that you know that. It’s in your hands whether or not we’ll be Zimbabwe soon. Regards, South Africa

alida ·

Hy moes in die eerste plek die HELE kabinet geskommel het en van al Zuma se aanstellings ontslae geraak het. Maar nee dit was net grond, grond en nogmaals grond. Vergeet daarvan om stemme te werf vir nou. Hy moet onthou al daardie stemme wat hy nou met beloftes wen gaan honger word. Hy moet onder eed gaan verklaar dat hy NIKS van staatskaping geweet het nie. Mens sluk swaar aan daardie een hy het vir jare reg langs Jacob Zuma gesit en presies geweet wat aangaan. Wie gaan hom glo as hy sê hy het niks geweet van die Zuma/Gupta geknoeiery nie?

Annette ·

Hoekom maak julle ekonome nie ‘n afspraak met die President en gesels met hom oor sy “fokus op verkeerde plekke” nie? Leer hom en lig hom in asb! Hy is miskien ‘n goeie besigheidman, maar om so ‘n land te lei is sekerlik nie maklik nie!

African National Communists ·

African Nasional Communists – Made in China strikes again…

Grassie ·

‘n Staatspresident is veronderstel om die president van al die mense in die land te wees, ook diegene wat nie sy party ondersteun het nie en hy moet na almal se welsyn omsien. Ramaphosa faal hopeloos in hierdie roeping. Hy dien openlik net “our people” en die wittes is gronddiewe, ekonomiese uitbuiters en skurke wat “our people” eeue lank verdruk het. So, ongeveer vier miljoen inwoners se president is hy beslis nie en hy is besig om hulle (ons) af te takel sovér eiendom, taal en kultuur betref. Oor die bruinmense en Oosterlinge is hy stil, maar hulle gaan dalk na die verkiesing ook opsy geskuif word. CR stel dus nie net teleur in die hantering van die ekonomie nie, maar as president in die geheel. Sy fokus is inderdaad op die verkeerde plekke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.