Die rand het vanoggend stewig vertoon op valutamarkte. Dit volg ná die bedanking van Jacob Zuma as staatshoof gisteraand.
Valutahandelaars sê dat die rand veral gisteraand ná Zuma se bedanking steun gekry het.
In ʼn vroeëre onderhoud met Maroela Media het Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep, voorspel dat die geldeenheid maklik tot R11,70 teenoor die Amerikaanse dollar kan verstewig indien Zuma sou bedank.
Die rand het selfs R11,65 teenoor die Amerikaanse dollar gehaal, die beste vlak in bykans drie jaar. Die rand het sedert Desember stelselmatig verstewig weens aanduidings dat Zuma se dae in die Uniegebou getel is.
Volgens ʼn Bloomberg-peiling is die rand sedert November die voorste ontluikende geldeenheid in die wêreld. Valutahandelaars het op Wall Street (die New Yorkse aandelebeurs) Zuma se aankondiging staande toegejuig.
Shamaila Khan, ʼn ekonoom by AllianceBernstein, sê Zuma se bedanking het groot verligting gebring. Sy wys daarop dat valutahandelaars veral die afgelope vier jaar verskeie struikelblokke moes vermy.
“Dit sluit ʼn onsekere ekonomiese beleid, berigte oor staatskaping en ekonomiese afgraderings in,” het sy bygevoeg. Zuma se bedanking sal dit dus nou makliker maak vir ʼn meer deursigtige ekonomiese beleid wat die land in sy geheel sal baat.
Op kapitaalmarkte het staatseffekte ook verstewig. Handelaars wys daarop dat dit ʼn positiewe teken is en ʼn aanduiding dat markte Cyril Ramaphosa se visie vir die land vertrou.
Khan sê die verandering van die presidentskap sal veral lei tot beter bestuur van staatsbeheerde ondernemings. Volgens markontleders is daar reeds tekens dat Suid-Afrikaanse bates soos die rand en staatseffekte munt slaan weens die gunstige stemming teenoor Suid-Afrika. Hulle voorspel dat die rand en staatseffekte ook weer aangekoop sal word.
Maar buitelandse ekonome waarsku dat daar steeds uitdagings op ekonomiese, fiskale en politieke fronte is. Nog kwellinge is die laer ekonomiese groeikoers en hoë werkloosheidsyfer.
Ondanks die siening is hulle van mening dat die rand ook baat sal vind by die swakker Amerikaanse dollar.
Intussen word daar bespiegel dat daar binne die volgende paar dae drastiese veranderinge in die ekonomiese groep van ministers kan geskied. Pravin Gordhan, voormalige minister van finansies, sal klaarblyklik by Lynne Brown oorneem as minister van openbare ondernemings terwyl Mcebisi Jonas by Malusi Gigaba as minister van finansies kan oorneem.
Gordhan se opdrag is om openbare ondernemings reg te ruk. Gigaba, wat met staatskaping verbind word, maar in die afgelope ruk ʼn sterk ondersteuner van Ramaphosa was, kan na ʼn kleiner portefeulje verskuif word. Nog twee name wat in gesprekke opduik, is dié van Nhlanhla Nene, ook ʼn voormalige minister van finansies, en Tito Mboweni, voormalige minister van arbeid en president van die Reserwebank.
Dalk eerder Tito Mboweni? Weet nie van ‘n Titi nie.
Dagsê Elbie
Dankie vir jou kommentaar, ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.
Groetnis
Tania nms Maroela Media
Hahaa Maroela: Titi Mboweni? TITO!
Dagsê Ek sê maar
Dankie vir jou kommentaar, ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.
Groetnis
Tania nms Maroela Media
Volgens wat ek gehoor het kan hy slegs twee wat nie in die parlement is nie aanstel as ministers. Beide Nene en Jonas is nie meer parlements lede nie.
Hy moet ook versigtig trap om nie die premier league heeltemal te vervreem nie.
Hy erf n erg verdeelde party
Ek dink dit gaan interessant begin raak. Hang nou net af wie almal vir Cyril die mouer in gemaak het want hulle sal dan verseker nie deel van sy parlement wees nie. Ons gaan nog lekker lag oor wie bly en wie gly.
Moenie van Moemfie en sy maatjies vergeet nie.
Terwyl die nuwe President ingesweer word, word Gigaba in die Parlement afgeneem dat hy Candy Crush Game op sy Tablet speel !!! Hy stel glad nie belang in sy werk nie en het geen respek vir ons nuwe President nie. Hy moet summier afgedank word