Rand stewiger terwyl druk op Zuma toeneem

Die rand het vanoggend effens verstewig namate druk op pres. Jacob Zuma toeneem om voor Donderdag se staatsrede te bedank.

Opposisiepartye dring daarop aan dat Zuma nie die staatsrede lewer nie omdat hy gediskrediteer is.

Die geldeenheid het vanoggend in een stadium teen R12,07 teenoor die Amerikaanse dollar verhandel. Volgens valutahandelaars is Zuma, wat moontlik korrupsie-aanklagte te wagte kan wees, in ʼn baie  swakker posisie sedert hy as ANC-president deur Cyril Ramaphosa vervang is.

Die ANC het nie bekend gemaak wat op Sondagaand se vergadering tussen sy topses en Zuma gebeur het nie. Die nasionale werkskomitee is egter vir ʼn dringende vergadering later vandag ontbied. Adj.pres. Cyril Ramaphosa het Zuma glo versoek om te bedank, maar hy het glo geweier.

Intussen het die NKC Economic Research in sy daaglikse verslag laat blyk dat die rand sedert Vrydag een van die swaks presterende geldeenhede van die ontluikende mark was. Die groep skryf dit toe aan die stryd om van Zuma ontslae te raak.

Volgens NKC is daar sterk aanduidings dat Zuma nie gewillig is om vrywillig as die land se president te bedank nie. Indien Zuma aanbly, sal die soveelste mosie van wantroue hom op 22 Februarie – ʼn dag ná die begroting – in die gesig staar.

Mike Schussler, hoofekonoom by economists.co.za, sê die rand is tans sterk. Sou Zuma se kop rol, kan daar euforie op die randmark ontstaan wat die geldeenheid tot R11,70 teenoor die Amerikaanse dollar kan dryf, meen hy.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep, is ook optimisties oor die rand se vooruitsigte, sou Zuma die trekpas kry. Hy voorspel dat die geldeenheid selfs tot R11,50 teenoor die dollar kan verstewig voordat dit effens kan terugsak.

Roodt is egter optimisties dat Zuma voor die einde van Februarie uit die Uniegebou sal wees. Hy meen die beplande mosie van wantroue in Zuma sal waarskynlik die doodskoot vir hom wees.

Zuma word verbind met staatskaping waaroor die Gupta-gesin ondersoek word. Dit het betrekking op staatsbeheerde ondernemings soos Eskom, Denel en Transnet. Die bewerings van staatskaping is verder ondersteun deur die sogenaamde #GuptaLeaks-e-posse.

Dit het bevestig dat daar wel inmenging deur die Gupta-gesin was in verskeie besluite rakende staatsondernemings. Dit het ook beaam wat die vorige openbare beskermer, Thuli Madonsela, in haar  verslag bevind het oor staatskaping.

Sedert sy tweede termyn in 2014 begin het, was Zuma se presidentskap onder ʼn donker wolk. Dit sluit in die Nkandla-skandaal wat tot ʼn beslissing deur die konstitusionele hof gelei het. Daarvolgens is bevind dat hy nie sy eed as president nagekom het nie en hy moes ʼn aks oor die R7 miljoen aan die staat terugbetaal het. Dit het ook gelei tot ʼn pro-Zuma- en anti-Zuma-kamp in die ANC. Die toestand is vererger deur kabinetskommelinge wat politici en ontleders as inmenging deur die Guptas beskryf het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Arie ·

Ek sien oral die tsoenamie van afkeer teen Mnr. Zuma opbou.

Maar my persepsies is relatief onbelangrik.

Wat TEL sal wees of Mnr Z dit ook so waarneem en/of ervaar en hom daaraan steur.

Volgens berigte ervaar hy dit blykbaar nog nie juis nie

Ada ·

Hy klou soos ‘n neut! Hy en sy korrupte maatjies!
O blye dag as hy weg is – …..
Weet net nie wanneer nie.
Ek hoop kort voor lank.

Johanna Botha ·

En die blf se hy moet bly sodat die rand weer kan verswak omdat hulle duurder vir petrol en kos wil betaal ….DOM ! !

Hettie ·

Anc het nie die rugraat om Zuma te last gaan nie .Hulle is te bang die jeug wat hulle geleer het om te vernietig as hulle nie hulle sin kry nie, draai teen hulle.

jaco ·

R11.70 in 1 dollar is seker wonderlik, maar voor Zuma was dit nog beter. Voor Zuma was die Rand-Euro wisselkoers ook lank R10 in 1 Euro, wat ‘n nog sterker geldeenheid as die dollar is. vandat is dit R15 in 1 Euro.
Staatskaping, korrupsie, BEE, regstellende aksie, swak onderwys en honderde ander goed wat ook die Rand se waarde afbring gaan ook BLY, al waai Zuma ook more.
Daardie goed is alles ingegrafeerde ANC beleid wat NOOIT sal weggaan nie.
So moenie te gou bly raak nie. die beste wat ons gaan kry is miskien ‘n beter, maar nie juis goedkoper nie petrolprys. En dit sal ook nie lank hou nie.
Moet egter nie verwag kos gaan goedkoper word nie en moet ook nie verwag werkloosheid, plakkerskampe ens ens gaan oornag verdwyn nie.
Onthou tog: een swaeltjie bring nog lank nie die somer nie.

Alida ·

Raak van hom ontslae soos wat hy van Mbeki ontslae geraak het. Vinnig en stil. Mbeki het nie 700+ aanklagtes teen hom gehad nie. Wat is die probleem om van n krimineel ontslae te raak. Kan iemand my se asb.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.