Rand versterk ná Zuma-berigte, Gupta-klopjag

rand-ekonomie-suid-afrika

Argieffoto.

Suid-Afrikaanse finansiële markte, insluitend die rand, het Woensdagoggend ʼn hupstoot gekry weens berigte dat President Jacob Zuma moontlik vandag gaan bedank.

Nuus dat die Valke boonop vanoggend ʼn klopjag op die berugte Gupta-woning in Saxonworld in Johannesburg uitgevoer het, het ook markstemming ʼn hupstoot gegee.

Teen 9:00 het die rand met bykans een persent tot R11,85 teenoor die Amerikaanse dollar verstewig.

Valutahandelaars sê beleggers wag reeds lank vir so ʼn groot en betekenisvolle ontwikkeling. Handelaars voorspel dat die rand nog verder kan verstewig sodra Zuma amptelik bedank. Hy is reeds deur die ANC in kennis gestel dat die party hom herroep het.

Steun vir die Rand het ook gekom weens die Valke se betrokkenheid by die Gupta-klopjagte. Valutahandelaars sê dit is grootliks omdat die Gupta-gesin, wat vriende van Zuma is, by vermeende staaskaping betrokke is.

Daar was ook goeie nuus vir die regering. Opbrengste op die kapitaalmark was stewiger. Dit beteken dat die regering se rentekoers-verpligtinge op buitelandse skuld in randterme verminder het. Die JSE het ook stewiger geopen.

Elize Kruger, ʼn ekonoom by NKC African Economics, sê die oorgang van Zuma na ANC-president Cyril Ramaphosa dra reeds vrugte en is goed deur beleggers ontvang.

Volgens Kruger is daar reeds drastiese ingryping by staatsbeheerde maatskappye, veral Eskom, wat met staatskaping verbind word. Sy sê dat ander maatskappye soos Denel, Transnet en die SAL hul ook kan staal vir ʼn regrukoperasie.

Kruger sê die mynbouhandves, wat ʼn groot hoofpyn vir beleggers en mynbougroepe is, kan ook dringend hersien word onder ʼn Ramaphosa-administrasie. Die handves, wat nou in die hooggeregshof betwis word deur die Kamer van Mynwese, is opgestel deur Mosebenzi Zwane, minister van minerale hulpbronne.

Zwane, voormalige LUR van landbou, word met staatskaping verbind weens die omstrede Vrede-suiwelprojek. Volgens berigte is geld van die projek onwettig uit die land geneem en het dit in 2013 vir die Gupta-troue by Sun City betaal.

Kruger sê nog ʼn kwessie wat onder ʼn nuwe administrasie aandag sal geniet is om die bande tussen die regering, die sakesektor en arbeid te herstel. Dié band het onder die Zuma-regering agteruitgegaan.

Sy meen dit is noodsaaklik dat die band herstel word om beleidsekerheid te verseker.

Kruger is optimisties dat graderingsmaatskappye die land ʼn blaaskans sal gee terwyl die oorgangsfase nog aan die gang is.  Sy sê egter wat in volgende week se begroting gaan wees, ook kan help. “Die oorgang van Zuma na Ramaphosa is positief vir die land. En dit kan Suid-Afrikaners bevoordeel,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eish ·

Nou toe nou, net deur hul werk te doen word biljoene geskep.

Alida ·

Wonder hoeveel omkoopgeld het die guptas aangebied om vrygelaat te word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.