‘Rentekoersverhogings op die kaarte’

ekonomie-finansies-geld-sakrekenaar-knyp-spaar

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Suid-Afrikaanse ondernemingseienaars moet hul ondernemings posisioneer vir die moontlikheid op rentekoersverhogings deur die sentrale bank oor die volgende twee jaar.

Plaaslike ondernemings wat boonop aan Europese en Chinese markte blootgestel is, moet kennis neem van negatiewe ekonomiese aanwysers in die Europese en Chinese markte. Dit is sommige van die bevindinge van die sakebelange-organisasie Sakeliga se nuwe, komplimentêre kwartaallikse ekonomiese verslag wat in samewerking met ETM Macro Advisors opgestel en vrygestel is.

“Die ontleding vir September 2018 dui daarop dat die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) onder erge druk sal verkeer om rentekoerse te verhoog om die verswakkende rand te beskerm, veral ná die Q2-BBP-skok en die heersende paniek in ontluikende markte. Die finansiële markte verwag met ingang September 2018 drie tot vier rentekoersverhogings van 25 basispunte (0,25 van ’n persentasiepunt) elk oor die volgende twee jaar,” sê Gerhard van Onselen, senior ontleder by Sakeliga.

Van Onselen waarsku dat rentekoersverhogings nie sonder meer gewaarborg is nie. “Die mark se verwagting dat rentekoerse gaan verhoog, moet getemper word met die begrip dat die SARB onder druk mag verkeer om rentekoerse te verlaag te midde van groeiende strukturele ekonomiese swakte, aansienlike geprojekteerde regeringbegrotingstekorte en politieke druk.

“Dít terwyl rentekoersverlaging volgens ons mening nie inherent langtermynbesparing, belegging, kapitaalgroei en werksgeleenthede ondersteun nie. Ons voorstel aan ons lede is om hulself te posisioneer vir ’n omgewing waarin drie tot vier 25-basispuntrentekoersverhogings oor die volgende twee jaar meer waarskynlik is as rentekoersverlagings,” sê Van Onselen.

Sakeliga se nuwe ekonomiese verslag is daarop gemik om belangrike ekonomiese patrone in Suid-Afrika in ’n neutedop aan te bied. “Ons verslag bevat ʼn reeks makro-ekonomiese barometers, plaaslike en internasionale ekonomiese insigte, asook bondige makro-ekonomiese oorwegings vir korporatiewe strategie, wat ons glo waardevol sal wees vir ons lede en die breër sakegemeenskap in Suid-Afrika. Ons beplan om die verslag kwartaalliks by te werk,” verduidelik Van Onselen.

Die verslag vir September 2018 dui aan dat algemene sakehandelstoestande steeds onder druk verkeer. Dit word benewens ander swak ekonomiese syfers sterk deur twee kwartale van negatiewe BBP-groei (die eerste en tweede kwartale vir 2018) bevestig, merk Van Onselen op.

Die September 2018-verslag lig ook die beduidende groeiherstel van die Amerikaanse ekonomie uit, wat volgens Sakeliga plaaslike ondernemings sal ondersteun wat aan die Amerikaanse mark blootgestel is.

Dalende leidende aanwysers in verskeie Europese lande, ’n verswakking in die groei van Chinese uitvoere en ’n dollar-geweegde afname in ontluikende markte se aandele-indekse dui op ’n potensiaal vir internasionale ekonomiese verlangsaming.  Sakeliga beklemtoon egter dat dit nie noodwendig op ’n volskaalse resessie dui nie, veral nie as mens die sterk huidige uitbreiding van die Amerikaanse ekonomie in ag neem nie.

Sakeliga beveel aan dat eienaars van ondernemings hul blootstelling aan en risiko’s van die verskillende internasionale markte in heroorweging moet neem. Dié wat aan Europese of Chinese markte blootgestel is, moet op hul hoede wees, want gegewe moontlike rentekoersverhogings deur die SARB in lig van internasionale paniek in ontluikende markte, moet daar ook oorweging aan blootstelling aan skuld gegee word. Hoër rentekoerse kan die koste van krediet vir menige onderneming verhoog. Boonop vereis ’n riskante fiskale regeringsposisie versigtige belastingbeplanning om belastingaanspreeklikheid te beperk.

Die volledige verslag kan hier gekry word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Anoniem ·

Ons gaan alreeds gebukkend en sukkel om kop bo water te hou. Dan moet die banke maar ons motors en huise vat want regtig ons kan nie meer nie. Jy sny orals koop net die nodigstes maar als gaan op. Belasting,brandstof, erf belasting, munisipaliteits kostes, water, elektrisiteit, voedsel, skoolgelde alles word net duurder en duurder. Is dit nog die moeite werd om te lewe.

Se maar net ·

Dit is altyd die moeite werd om te lewe as jy nie op jou eie kragte staat maak nie.

Paul ·

En ons is in ‘n resessie, en ons staar bes moontlik ‘n afgradering in die gesig, maar CR sê ons moenie bekommerd wees nie, dis van verbygaande aard.

Breytenbach ·

Rentekoers verhogings sal onhoudbare druk op die ekonomie plaas.

Jaco ·

Dit sal die strooi wees wat die kameel se rug gaan breek. Dan moet hul maar my kar kom vat, my kantoor is gelukkig tuis, sal maar n taxi neem dorp toe vir kruideniersware…dankie ANC

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.