Reserwebank het genoeg skietgoed om rentekoerse te verlaag

jana-van-deventer

Jana van Deventer is die hoof van finansiële markte by ETM Analytics. Foto: Sakeliga

Deur Jana van Deventer van ETM Analytics

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) se monetêre beleidskomitee (MBK) vergader hierdie week vir die vierde keer vanjaar om te beraadslaag oor die moontlikheid om ’n verandering in monetêre beleid in werking te stel. Die konsensusverwagting onder ontleders sowel as die leiding oor rentekoerse wat die finansiële markte verskaf, dui op ’n sterk moontlikheid dat die repokoers met 25 basispunte tot 6,50% verlaag sal word wanneer die SARB op Donderdag sy beslissing oor rentekoerse bekendmaak.

Sedert die MBK se vergadering in Mei

Sedert die SARB se vorige vergadering in Mei het wêreldmarktoestande sodanig verander dat dit vir die MBK ruimte skep om rentekoerse te verlaag.

Verskeie groot sentrale banke wêreldwyd het aangedui dat hulle ’n toeskietliker monetêre beleid sal moet begin volg, terwyl sommige (byvoorbeeld die Reserwebank van Australië) reeds hul beleid verslap het deur rentekoerse te verlaag. Die noemenswaardigste verandering was dié van die Amerikaanse Federale Reserweraad, wat sy monetêre beleid vinnig wil verslap en aangedui het dat rentekoerse so gou soos later vandeesmaand reeds verlaag kan word.

Die rasionaal agter dié toeskietliker retoriek is tweeledig van aard. In die eerste plek gaan groeivooruitsigte wêreldwyd geleidelik agteruit namate die internasionale sakesiklus volwassenheid bereik, terwyl die voortslepende handelsoorloë groter risiko’s vir mediumtermyngroei meebring. Tweedens bly inflasierisiko’s gedemp en in lande soos Amerika bly inflasionêre druk matig, ondanks ’n deurlopende afname in die werkloosheidkoers. Dié ontwikkelings is van deurslaggewende belang vir ontluikende markte se ekonomieë, wat uiters blootgestel is aan veranderings in die wêreldwye ekonomiese dinamika en sentrale banke se beleid.

Interne dinamika speel natuurlik ook ’n beslissende rol in die SARB se besluitnemingsproses en faktore soos wisselkoersbewegings, binnelandse inflasierisiko’s, onderliggende groeimomentum en so meer word in ag geneem wanneer ’n besluit oor plaaslike rentekoerse geneem word.

Inflasie speel ’n sleutelrol in hierdie besluitnemingsproses, gegewe die SARB se hoofmandaat om “prysbestendigheid te behaal en te handhaaf ter wille van gebalanseerde en volhoubare ekonomiese groei in Suid-Afrika”.

Impak van stygings van niediskresionêre pryse

’n Noemenswaardige tendens wat in onlangse kwartale opgemerk is, is hoe die stygende koste van niediskresionêre pryse huishoudelike begrotings onder druk geplaas het eerder as om oorhoofse inflasie op te stoot.

Dié niediskresionêre goedere sluit gereguleerde pryse se inflasie in, soos elektrisiteit en water, wat verskeie jare reeds voortdurend ver bokant oorkoepelende verbruikersprysindeks (VPI) boer. Belastingverhogings is nog ʼn voorbeeld van hoe gereguleerde pryse op huishoudings afgedwing word en die reële besteebare inkomste, wat beskikbaar is om op diskresionêre of luukse goedere uit te gee, wegkalwe.

In ’n omgewing waar koste styg en die arbeidsmark onder aansienlike druk verkeer, is sakeondernemings verplig om winsmarges te verklein ten einde verkoopsvolumes te beskerm. Intussen bly die algemene groei-omgewing besonder swak, soos blyk uit die skerp daling in BBP in die eerste kwartaal vanjaar.

Inflasiedruk geanker onder die SARB se middelste teikenband

Teen dié agtergrond van swak binnelandse groei en die trae gemiddelde vraag, het die onderliggende inflasiedruk vir minstens die afgelope agtien maande konsekwent taamlik ver onderkant die SARB se middelste teikenband van 4,5% vasgesteek. Terselfdertyd het die SARB ’n sterk boodskap aan die mark gestuur dat die bank daartoe verbind bly om ’n omgewing te skep waarin prysbestendigheid die botoon voer en die beleidskomitee het sy visier op ’n inflasiekoers van 4,5% – in die middel van die teikenband vir inflasie van tussen 3% en 6%.

Gedempte inflasie het intussen gehelp om die mediumtermyninflasieverwagtinge van ontleders, sakelui en vakbondbeamptes te anker, soos weerspieël in die Buro vir Ekonomiese Ondersoek se peiling oor inflasieverwagtinge.

Ook die mark se inflasieverwagtinge is getemper en tans op die laagste vlakke in sowat vier en ’n half jaar. Aangesien dit die SARB se hoofmandaat is om prysbestendigheid te bewerkstellig, lyk dit of die huidige en verwagte inflasiedinamika en die agtergrond van gedempte binnelandse groei inderdaad aan die bank ruimte bied om rentekoerse te verlaag.

SARB se kwartaallikse projeksiemodel

Die SARB het ʼn klompie kwartale gelede ’n kwartaallikse projeksiemodel bekendgestel en sedertdien aangedui watter beleidkoerse deur dié model voorspel word.

Terwyl die SARB by talle geleenthede beklemtoon het dat die voorspelde koerse bloot ’n breë beleidsriglyn is en daarom nie aan die SARB voorskryf watter tydsberekening of rigting met veranderings in rentekoerse gevolg moet word nie, word die leiding wat die model bied nogtans sorgvuldig deur die mark gemonitor.

Die betekenisvolle verandering tydens die MBK se vergadering in Mei het dus nie onopgemerk verbygegaan nie. Die kwartaallikse projeksiemodel se voorspelde beleidsaanpassings het spesifiek aangedui dat rentekoerse teen die einde van die eerste kwartaal van 2020 met 25 basispunte verlaag sal word, teenoor die voorspelling in Maart van ʼn verhoging teen einde 2019.

Ter afsluiting, die interne en eksterne dinamika is bevorderlik vir ʼn verlaging in rentekoerse by die MBK se vergadering in Julie, veral aangesien die SARB reeds by sy vergadering in Mei ’n toeskietliker houding laat blyk het. Faktore soos ’n sterk vertoning deur die rand en laer oliepryse ondersteun dié siening.

Of ’n marginale rentekoersverlaging van 25 basispunte die binnelandse ekonomie hoegenaamd sal stimuleer is egter ’n ope vraag, aangesien die faktore wat ekonomiese groei aan bande lê, hoogs struktureel van aard is

  • Van Deventer is die hoof van finansiële markte by ETM Analytics en ‘n gasskrywer op Sakeliga se webwerf.
  • Hierdie artikel is met die vergunning van Sakeliga geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

chrisjan ·

Met alles se pryse op winkel rakke wat die afgelope jaar vedubbel het en brandstof pryse wat hemel hoog is spandeer ons ons geld NET op die nodigste.Alle luukshede se aankoop is lank reeds gestaak.Dit het ‘n groot besparing op ons kruideniersware te weeg gebring.Maar elektrisiteitskostes en brandstof bly ‘n kopseer.
Met rente koerse wat bly daal beteken dit vir my as pensioenaris dat my rente inkomste met die volgende belegging van my pensioengeldjie gaan krimp so ons gaan net NOG minder koop en minder ry.Uiteet nou en dan is ook een van die “luukse” dinge wat nie meer plaasvind nie.So ja,ons koop die nodigste en besoek winkels bitter min.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.