Reserwebank waarsku teen populistiese beleid

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank. Foto: ANA

Daar is weer eens ’n sterk waarskuwing aan die regering van president Cyril Ramaphosa gerig om nie ’n populistiese ekonomiese beleid te implementeer nie.

Dié keer het die waarskuwing van die president van die SA Reserwebank, Lesetja Kganyago, gekom. Hy het ’n meningstuk in Sondag se Business Times geskryf waarin hy gesê het die regering moet liefs op ʼn beleid konsentreer wat tot volhoubare ekonomiese groei en werkskepping kan lei.

Kganyago is waarskynlik die mees senior staatsamptenaar wat hom tot dusver oor die ANC se populistiese agenda uitgelaat het. Nóg Ramaphosa-bondgenote, soos die oudminister van finansies, Trevor Manuel, en die sakeman Sipho Pityana, het ook teen die ANC se strewe na ʼn populistiese beleid uitgevaar.

Van die populistiese retoriek sluit die grondkwessie, die nasionalisering van die Reserwebank, die nasionale gesondheidsversekering en die Mynbouhandves in.

Die grondkwessie en nasionalisering van die Reserwebank is deur die Jacob Zuma-faksie by die ANC se konferensie by Nasrec in Desember deurgestoot. Sedertdien het dit ’n groot struikelblok vir Ramaphosa geword.

Kganyago se die sentrale probleem is om die versoeking te weerstaan om ekonomiese beleid oor die kort termyn te volg wat populisties is en oor die lang termyn enorme kostes kan inhou. Hy sê sulke besluite dra by tot hoër staats- en privaat sektor-skuld om verbruik te finansier.

Hy wys daarop dat dit een van die redes is waarom daar tans woelinge op ontluikende mark is.

Sedert Ramaphosa se vertroeteling van die populistiese beleid, veral die grondkwessie en nasionalisering van die Reserwebank, het die rand onder enorme druk gekom.

Die geldeenheid is ook deur buitelandse faktore geskud. Die faktore sluit in Donald Trump se handelsoorlog met China, strukturele swakheid in Turkye en Argentinië. Die rand het in die afgelope maand tot sy swakste vlak in twee jaar gedaal.

Boonop het die land in ’n tegniese resessie verval nadat die eerste twee kwartale van vanjaar se ekonomiese groei verswak het. Ramaphosa het kenners verbaas deur Saterdag aan swart beroepslui in Pietermaritzburg te sê die land nie werklik in ’n resessie is nie.

Kganyago sê die rand se geleidelike verswakking dui daarop dat buitelandse beleggers ’n persepsie het dat die regering ʼn beleid bespreek wat die makro-ekonomiese raamwerk kan ondermyn.

Hy sê die regering moet liefs op ʼn beleid konsentreer wat sterk ekonomiese groei en werkskepping kan ondersteun.

Intussen het een van die land se vier grootste banke, Nedbank, voet by stuk gehou dat die torring aan die Grondwet om grond sonder vergoeding te neem, tot ’n klassieke bankkrisis kan lei.

Dit is nie die eerste keer dat Nedbank hom hieroor uitlaat nie.

Sy uitvoerende hoof, Mike Brown, het gesê dat die Grondwet nie as sondebok uitgewys moet word weens die regering se onvermoë om die grondkwessie uit die weg te ruim nie.

Hy het bygevoeg dat die grondkwessie op ’n ordelike, pragmatiese en volhoubare manier moet geskied sodat dit nie die banksektor ontwrig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Santie ·

Dit slaan ‘n mens dronk dat die regering nie luister na mense wat weet waarvan hul praat nie. Plaas dat CR hom omring met sulke mense ; dat hulle daaroor kan redeneer en tot ‘n besluit kom om vir Suid Afrika en sy mense ‘n beter toekoms sal skep. Maar hulle maar net aan met hulle eie populistiese filosofieë, vir die ANC en nie aan die mense van Suid Afrika nie.

Lerato ·

Santie
Cyril het inderdaad skoon gemaak. Soveel Zumaniste is uit die kabinet of is na poste geskuif waar hulle minder skade kan aanrig.
Cyril het herhaaldelik gesê dat die regering se optrede nie die ekonomie sal skaad nie.

@ LERATO ·

Ag ou Lerato en jy glo hom ?? WONDER darem net hoekom ons skielik in ‘n RESESSIE Verval het . is dit nie die EKONOMIE skaad nie of weet jy nie baie van EKONOMIE nie?

Arie ·

Ek is bevrees rammie is nie slimmer as zumpie nie, die anc is leier loos hy lei nie die anc nie hulle regeer hom

Eish ·

Ek hoop mnr. Kganyago is naby aftree ouderdom. Die uitsprake mag dalk sy aftrede verhaas.
Vryheid van spraak beteken slegs lofgesange aan die populisme.

Andre ·

So wanneer gaan Ramaparra die persoon ook nou vervang met iemand wat hum nie teen die ANC uitspreek nie?

Oopsie ·

noujatoe SIEN JULLE OOK nou al soos NEDBANK hoe julle kraantjies toegedraai gaan word saam met ons wittes s’n hmm? Julle het vergeet julle sit oral in kernposisies en as hulle ons krane toedraai, draai ons julle s’n toe . oops.

John ·

… en volgens CR is boere glo nou besig om van deuntjie verander om sommer so sonder vergoeding hul plase weg te gee… dis noudat twee swaeltjies wat mooi sing by hom opgedaag het en glo my skielik net daar voor die tv-kameras soos twee kannaries uitgehaak het.. ek bedoel afgehaak het en soos almal weet, twee swaeltjies maak die somer… of het ek dit nou verkeerd? CR praat met Afrikaners soos met sy eie mense… ons almal… almal wil mos… almal gaan ook… Skynbaar werk dit vir ANC-poppe… maar hy maak ‘n klein mistake-ie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.