RoadSave en die pad na sukses – In gesprek met Jaco Gerrits

Jaco Gerrits (Foto: Facebook)

Jaco Gerrits, wenner van die toekenning, Top- Tegnologiese Entrepreneur in Afrika, finalis in The Venture-kompetisie en stigter van die RoadSave-app, gesels oor hoe om jou idee te toets, waar hy begin het en hoe hulle probleme met tegnologie vir hul meer as 50 000 gebruikers oplos.

Jaco Gerrits is 40 jaar oud, het in Rustenburg grootgeword en het ná skool saam met vier vriende in Engeland gaan werk. Daar het hy besef dat hy nie vir iemand anders wil werk nie. Hy het geweet hy wil ʼn besigheid begin en met sy terugkeer na Suid-Afrika het hy ʼn idee aan myne gaan voorlê om vervoer vir werknemers te privatiseer met ʼn taxidiens. “Dit het toe nou nie gewerk nie, maar ek het ook geweet ek wil graag in die tegnologierigting inbeweeg,” sê Jaco.

Jaco het Pretoria toe getrek en programmering by CTI gaan studeer. Hy was skaars 22 jaar oud toe hy ʼn sesmaandekontrak by die mynboumaatskappy Anglo American losslaan om bestuursopleiding in Microsoft Access te gee. Na afloop daarvan het Jaco ʼn arbeidsprogram vir Anglo American geskryf om hulle met die verwerking van werksaansoeke te help en om vaardighede in die gemeenskap te bepaal. Kort daarna het hy ʼn soortgelyke app geskryf om meer geleenthede vir kleinsakeondernemings te fasiliteer. Hy het onderhandel dat hy die intellektuele eiendom en lisensie vir die program behou en sy eerste besigheid, Thembela, is gebore deur beide die arbeids- en kleinsakeprogram te kombineer.

Waar honderde mense voorheen met hul CV’s voor die myn se hek moes staan met die hoop om werk te kry, was hulle nou sommer klaar geregistreer en kon myne vir die eerste maal werklik plaaslike aanstellings maak van vaardighede wat hulle benodig. Die program het hulle ook in staat gestel om met klein plaaslike ondernemings handel te dryf en ontwikkelingsgeleenthede te identifiseer. Jaco het sowat agt jaar aan Thembela gewerk, waarna die tegnologie aan Business Growth Solutions gelisensieer is en gebruik is om klein besighede by te staan.

Daarna het Jaco ʼn reeks besighede getoets. Hy was byvoorbeeld by een van die eerste besighede betrokke wat ʼn kort SMS-nommer kon skep wat radiostasies kon gebruik om deelname te verhoog. Verder het hy ook aan Dentbids begin werk – ʼn app waar jy ʼn krapmerk op jou motor afneem, dit oplaai en waar werktuigkundiges in jou omgewing dan kan kwoteer met die hoop om die werk te kry. “Dit het nie gewerk nie; die model was nie volhoubaar nie omdat die meeste gebruikers slegs die tegnologie gebruik het om ʼn kwotasie te kry, maar nooit die herstelwerk laat doen het nie.” Dit is dié mislukking wat Jaco op die spoor gesit het van sy grootste suksesstorie tot op hede: CrashDetech.

RoadSave-app bereik nuwe hoogtes

Jaco Gerrits (Foto: Facebook)

CrashDetech, wat nou as RoadSave bekend staan, het sowat twee jaar geneem en is vandag een van die voorste tegnologietoepassings wat versekeringsmaatskappye kan gebruik om te weet wanneer iemand in ʼn ongeluk is. Noodpersoneel noem dit die “goue uur” – die eerste uur ná die ongeluk waartydens behandeling krities is. Met RoadSave word ambulanse en ander nooddienste onmiddellik ontbied sonder dat iemand die ongeluk eers moet rapporteer. Die toepassing, wat op jou selfoon gelaai word, kan outomaties ʼn ernstige impak op jou foon identifiseer en gebruik dan ʼn algoritme om te bepaal of dit moontlik ʼn ernstige voertuigongeluk kan wees. Vandag bestaan RoadSave uit veel meer en jy kan jou voertuiglisensie hernu, spoedboetes ontvang, ʼn noodknoppie druk wat mediese dienste kan ontbied en selfs 24-uur padbystand aanvra.

Verskeie versekeraars in Suid-Afrika gebruik RoadSave se tegnologie en hulle het sowat 50 000 lede, buiten gebruikers wat gelisensieerde produkte van RoadSave gebruik. RoadSave groei met tussen 5 000 en 7 000 lede per maand. “Ek voel ons kan die miljoen-ledemerk behaal,” sê Jaco.

Jaco sê hy mis dit om die programmering self te doen, maar spandeer die laaste 10 jaar al sy tyd aan die bemarking, uitbou van lisensies, skep van nuwe voordele en om konstant waarde vir kliënte te ontsluit. “Ek het baie inset in die kode en die ontwerp van produkte, maar moes vinnig leer om die besigheid te bestuur in plaas daarvan om net ʼn programmeerder te wees.”

Jaco is ʼn groot voorstander van uitkontraktering: “Ons besigheidsmodel is van so ʼn aard dat ons werk in siklusse aan diensverskaffers uitkontrakteer met duidelike uitkomste, in plaas daarvan om self met ʼn groot salarisrekening te sit en alles intern te probeer doen. Jy moet jou diensverskaffers goed ken en hulle moet jou besigheid verstaan, maar vandag is dit nie meer nodig om groot operasionele koste, kantore en voltydse personeel te hê om ʼn groot besigheid te bou nie.”

Die Lean Startup-beginsel

Jaco sê die boek wat die grootste invloed op hom gehad het, is The Lean Startup deur Eric Ries. “Ek het baie foute gemaak; ek het te veel produkte geprogrammeer net op my eie aannames. Dié boek het my ʼn nuwe hipotese gegee oor hoe om die pynpunte van kliënte te identifiseer sonder hoë koste,” sê Jaco. Volgens hom skep entrepreneurs dikwels produkte sonder dat hulle weet of mense dit werklik nodig het. Vriende en familie is nie genoeg om jou aanname te toets nie, soveel te meer as jy ʼn tegniese vaardigheid het en die produk maklik self kan bou. “Met CrashDetech het ons reeds lede opgeteken nog voordat die produk ontwikkel is, net omdat ons wou seker maak daar is ʼn mark daarvoor. Ons het letterlik die produk verkoop met kunswerke van hoe dit gaan lyk. Ons moes die produk op die ou end baie aanpas om uit te kom by wat mense werklik nodig het,” verduidelik hy.

“Die ontwikkelingsproses was duur. Dit was nooit maklik nie en ek het deurentyd konsultasies gaan doen om eers weer geld in te kry om in die produk te stoot,” sê Jaco. Sy raad vir iemand wat oorweeg om ʼn voltydse entrepreneur te wees, is om dit eers parallel met jou werk te doen. Hy stel voor jy toets eers jou idee en maak seker daar is mense wat jou produk of diens wil koop. Gaan eers deur die leerkurwe en stap dan weg van jou gewone werk af.

Sy beste belegging

Jaco sê die beste belegging wat hy nog gemaak het, is om homself oor digitale bemarking te leer. Hy het deur Russell Brunson se boeke en video’s geleer, asook deur Sabri Suby se boek Sell Like Crazy.

Hy spandeer sowat 40% van sy tyd aan strategie en vennootskappe, 30% aan bemarking en 30% aan die tegniese kant van die besigheid.

Die toekoms en nuwe idees

Geleenthede wat hy vir entrepreneurs raaksien, is om bestaande besighede te help om werklik die digitale wêreld te benut.

Met RoadSave hou hulle aan om nuwe dienste aan hul lede te bied. Hulle kyk na al hoe meer oplossings met betrekking tot voertuie en selfs die verkoop van jou voertuig. Buiten RoadSave is Jaco besig om na oplossings te kyk oor hoe om klein- tot mediumbesighede by te staan en aan hulle waarde te kan toevoeg, maar dit is nog ʼn idee in wording.

Die artikel is verskaf deur Stigter,’n Afrikaanse e-tydskrif wat jóú help om ’n beter leier, entrepreneur en bestuurder te wees. Elke uitgawe is tussen 28-34 bladsye en artikels handel oor finansies, leierskap, bemarking en vertel die stories en lesse van suksesvolle Suid-Afrikaanse entrepreneurs. Teken hier in en ontvang maandeliks jóú Stigter-tydskrif

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.