SA ekonomie se grootste uitdagings

Argieffoto (Foto: nattanan23, Pixabay)

Verskeie uitdagings staar die Suid-Afrikaanse ekonomie in die gesig. Ontleders sê die twee kwaaiste uitdaging is om ekonomiese groei bo 4% te kry en om die land se hoë werkloosheidsyfer  nou kaalvuis te pak.

Volgens ekonome is die twee probleme grootliks verantwoordelik vir die land se sosio-ekonomiese probleme, wat ’n demper op die begroting plaas, soos die stygende maatskaplike toelaag-uitbetalings. Volgens ’n studie van die hoofekonoom by economists.co.za, Mike Schüssler, weerhou die enorme staatsdiensloonrekening dat die regering beduidend in infrastruktuurontwikkeling kan belê.

Ekonome se belegging in infrastruktuur kan ekonomiese groei ’n hupstoot gee en daarmee saam broodnodige werksgeleenthede verskaf.

Kwessies wat ekonome hinder, is dat Suid-Afrika se primêre sektor ook nie meer die ekonomie ondersteun nie. Dit juis omdat kwessies soos die gronddebat landbou se vooruitsigte skaad en die Mynbouhandves onsekerheid oor ’n sektor plaas wat die land se ekonomie oor 100 jaar ondersteun het.

In die sekondêre sektor word vervaardiging deur goedkoop buitelandse invoere en vakbonde se uitspattige looneise gestrem.

’n Ontleder by PSG Wealth, Dawie Klopper, het die situasie in oënskou geneem. Hy het gewaarsku dat tariefbeskerming dalk op hande is, wat verbruikers aan die kortste ent gaan laat trek.

Hy sê: ‘’ Suid-Afrika het met die onsekerheid wat in die Zuma-era in die land geheers het en met die korrupsie wat plaasgevind het, baie van ons vermoë om te vervaardig, vernietig.

En werkers se produktiwiteit het ook nie tred gehou nie en dus was dit voordelig vir die land om eerder in te voer as self te vervaardig.’’

Hy het bygevoeg: “Ons ekonomie is baie oop, maar ek sal glad nie wil sien dat ons ons nyweraars met tariewe moet beskerm nie. Dit is wat Trump probeer doen. Die uiteinde gaan wees dat produkte van ingevoerde goedere gaan styg en onproduktiewe nyweraars gaan beskerm word en die verbruiker gaan aan die kortste ent trek.”

Om perspektief hieraan te gee: Die voormalige bestuurshoof van die nou ontbinde Frame Textile Group, Walter Simeoni, het die destydse minister van handel en nywerheid, Trevor Manuel, by ’n tekstielfederasiekongres in Durban kaalvuis gepak.

Die spraaksame Manuel was in ’n hoek gedruk nadat Simeoni hom daarop gewys het dat regeringsbeleid nie voordelig vir werkskepping is nie en net daarop gerig is om ’n kleinhandelomgewing te skep.

En dit is juis nou een van die punte waaroor ekonome kla. Die land se tersiêre sektor bestaan uit winkels, kleinhandel en soortgelyke handelspunte wat nie waarde tot die ekonomie voeg nie. En dié sektor is juis een waar nie baie werk geskep word nie weens die sterk IT-aanslag daar wat minder hande in diens nodig het.

Intussen het die bestuurshoof van Sibanye-Stillwater, Neal Fronenman, gewaarsku dat die land naby die afgrond is. Hy sê populistiese retoriek en beleid, soos die Mynbouhandves en om grond sonder vergoeding te vat, nie ekonomies haalbaar is nie.

Sibanye-Stillwater is die land se grootste goud- en platinumprodusent.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Schalk ·

Stop BEEEE en al die negatiewe politici wat gewildheid probeer werf. Suid Afrika sal vinniger groei as enige ander Afrika en moontlik land in die heelal. Almal sal baat. Die myne , besighede, boere en ontwikkeling van munisipaliteite.

Natan ·

Op die radiostasies van die Nguni sprekers word die gronddebat heel anders gesien as wat die regering en ander voorhou. Die gronddebat is goedkoop manier om kamstig iets te doen. Die luisteraars wil vorentoe beweeg en die verlede in sy sloot los. Ekonomiese uitdagings moet aandag geniet. Hierdie dinamiese denke en beriggewing ontbreek op MM.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.