SA se ekonomie in die ‘perfekte storm’ vasgevang

inflasie

Foto: Pixabay.com

Twee ekonome van die Noordwes-Universiteit (NWU) sê dat daar verwag kan word dat inflasie vandeesmaand verder sal styg, terwyl daar ook verwag word dat die produksiekoste as gevolg van die wêreldwye onsekerheid en voorsieningskanaalprobleme gaan styg.

Volgens prof. Danie Meyer en Roan Neethling, ’n doktorale student aan die NWU, skep die Covid-19-virus, tesame met die wêreldwye onsekerheid en die probleme met elektrisiteitsvoorsiening, ’n “perfekte storm” wat ’n geweldige negatiewe impak op ekonomiese groei in Suid-Afrika gaan hê, en daar word verwag dat die resessie beslis tot diep in 2020 gaan voortduur.

Prof. Meyer en Neethling verduidelik dat Stats SA op 18 Maart bevestig het dat verbruikersprysinflasie vanaf 4,5% in Januarie 2020 tot 4,6% in Februarie toegeneem het, terwyl die verbruikersprysindeks (VPI) op ’n maand-tot-maand-basis met 1,0% gestyg het.

“Die vernaamste bydraers tot die styging in inflasie in Februarie 2020 was voedsel en drank; huishoudelike dienste wat water, elektrisiteit en gas insluit; en vervoerkoste. Stagflasie is dus steeds duidelik in die ekonomie, met stygende inflasie in ’n inkrimpende ekonomie.”

Hulle sê dat verbruikers en produsente die effek van stygende pryse in ’n laegroei- en selfs inkrimpende ekonomie voel. Die produsenteprysindeks (PPI), wat op die koste van produksie in die vervaardigingsektor fokus, het vanaf 3,4% in Desember 2019 tot 4,6% in Januarie 2020 gestyg, wat maand tot maand tot ’n styging van 0,3% bygedra het.

(Grafika: Verskaf.)

Figuur 1 en Figuur 2 is ’n illustrasie van die verbruikersprysindeks (VPI) en die produsenteprysindeks (PPI) vir 2019 en die eerste paar maande van 2020.

“Die tendense dui aan dat die VPI sowel as die PPI – ten spyte van die resessie in die laat stadiums van 2019 en die vroeë stadiums van 2020 – toegeneem het. Die hoë koste van produksie is grootliks die gevolg van onstabiele elektrisiteitsvoorsiening, hoër arbeidskoste, onsekerheid onder produsente, beperkte internasionale handel, en verskaffingsprobleme as gevolg van die Covid-19-virus.”

Prof. Meyer en Neethling sê dat die verspreiding van die virus ’n geweldige negatiewe en vernietigende uitwerking op wêreldwye vraag en aanbod sal hê as gevolg daarvan dat produksie beperk is en voorkomende stappe deur regerings en produsente gedoen word.

Hulle voorspel dat hoewel die SARB die repokoers gaan verlaag, die impak daarvan beperk gaan wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.