‘SA steeds op rand van afgradering, maar …’

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Suid-Afrika bly steeds op die rand van nog ʼn ekonomiese afgradering ondanks die vordering wat gemaak is met die ondersoeke na staatskaping en die aanstelling van ʼn nuwe Eskom-bestuursraad.

Dít is die mening van Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep, en die politieke ontleder Daniel Silke oor Moody’s wat Suid-Afrika se gradering in November hersien het en teen einde Februarie ʼn beslissing moet lewer.

Roodt wys daarop dat die begroting die regering die kans sal bied om sy makro-ekonomiese beleid in orde te kry. Hy voeg by dat die beleid van radikale ekonomiese transformasie juis daarop gemik is om die ekonomie verder te knou.

“Radikale ekonomiese transformasie is as beleid gedoem. Die regering sal aan die wesenlike vraagstukke aandag moet gee soos die lae ekonomiese groei en lae werkloosheidsyfer,” sê Roodt.

Hy sê een van die groot struikelblokke waarmee die regering sal worstel, is Eskom. Dit hou nie net die gevaar in om ekonomiese groei te pootjie nie, maar die skuldlas kan ook ʼn negatiewe uitwerking op die land se buitelandse skuld hê.

Roodt sê die Wes-Kaapse waterkrisis kan tot mindere mate ʼn uitwerking op ʼn moontlike afgradering hê. Volgens hom is dit veral die landbousektor in die streek en toerisme-inkomste wat gekniehalter word deur die droogte.

Hy is ook van mening dat die ontslag van pres. Jacob Zuma nou ʼn dringende vereiste is om beleggersvertroue terug te wen. Hy sê terwyl Zuma president van die land is, kan dit verdere skade berokken aan beleggersentiment.

Silke is ook uitgesproke oor die wanadministrasie by Eskom. Hy sê die tyd het nou aangebreek dat die staat iets daadwerkliks doen om die “verrotting” by Eskom stop te sit.

Hy voeg by dat die regering dit sal moet oorweeg om staatsbeheer oor Eskom prys te gee. Die huidige model van beheer en administrasie is volgens hom daarop geskoei om armes in armoede te hou.

Nog iets wat hom kwel, is dat Suid-Afrika tans kwesbaar is vir buitelandse invloede. Hy sê die rand is voorheen geteiken en dit lyk of die JSE nou die teiken van buitelandse spekulante is. Dit volg op die Viceroy-verslag oor Capitec. Die Reserwebank het egter die gerugte die nekslag toegedien.

Hy meen fiskale en monetêre owerhede moet in die huidige omstandighede saamwerk om die land se belange te beskerm.

Roodt sê dit is juis pogings om die land se ekonomiese vooruitsigte te knou wat spekulante kan bevoordeel. ʼn Politieke oplossing is dus noodsaaklik.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eish ·

Dit is te verwagte dat die graderingsagentskappe nie beïndruk gaan wees slegs met geluide, die hoeveelste plan en beloftes nie.
Die boompie moet eers begin vrugte dra as bewys van die verbintenis tot die medikasie wat nodig is om die helhool se verrotting te stop en om te keer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.