Aanhoudende brandstofprysstyging ’n harde slag vir landbou

landbou-trekker-oestyd

Foto: Jed Owen/Unsplash.com

Die volgehoue styging in brandstofpryse kan ’n negatiewe impak op die landbousektor en die ekonomie hê. Dit is die mening van Dawie Maree, landbou-ekonoom by FNB.

Dit kom te midde van die land, verbruikers en motoriste wat hulle staal vir die sesde brandstofprysverhoging sedert April. Gegewens van die Sentrale Energiefonds toon dat die petrolprys tussen 14 en 16c per liter aanstaande maand kan styg.

Diesel sal waarskynlik tussen 47 en 50c per liter verstewig. Paraffien sal moontlik met 49c per liter styg.

Maree se boere staan aan die begin van ’n nuwe plantseisoen en die hoë brandstofpryse sal boere baie negatief beïnvloed.

“Eerstens is daar natuurlik die direkte impak op insetkostes wat styg. Diesel is tussen 10-20% van die graanboer se direkte insetkoste,” het hy gesê.

Maree het by gevoeg enige styging het dus ’n wesenlike impak. Tweedens is daar die indirekte effek – vervoerkostes na en van die plaas styg natuurlik ook.”

Maree ontleed die kostefaktor verder. Hy sê dat wat verbruikers ook nie moet vergeet nie, is dat kunsmis en chemiese middels se pryse ook gekoppel is aan die olieprys, want dit is neweprodukte van die proses. ’n Styging in die olieprys laat ook kunsmispryse toeneem.

Maree skets ’n prentjie wat verbruikers waarskynlik sal laat bontstaan. Hy verwag dat die hoër brandstofpryse wel ’n impak op verbruikersinflasie het. Die Reserwebank teiken verbruikersinflasie om sy monetêre beleid, oftewel rentekoerse, aan te pas.

En die Suid-Afrikaanse reserwebank het by monde van Daniel Mminele, sy adjunkpresident, ’n paar weke gelede gewaarsku dat verbruikersinflasie kan hand uitruk. Mminele het aangedui dat die bank waarskynlik gaan kyk om rentekoerse opwaarts aan te pas.

’n Rentekoersverhoging word in November verwag. Ofskoon dit die rand kan ondersteun, meen verskeie ekonome dat die ekonomie te pap is om ’n rentekoersverhoging te absorbeer.

Francois Groepe, nog ’n adjunkpresident van die bank, het oor die naweek gesê dat die monetêre beleidskomitee waarskynlik indringend na rentekoerse gaan kyk by sy volgende rentekoersvergadering en dat dit tot moeilike besluite kan lei.

“Vir seker gaan hoër brandstofpryse inflasie opjaag. Dit neem gewoonlik so twee tot drie maande voordat dit in die pryse weerspieël word,” het Maree bygevoeg.

Oor insetkostes en die effek wat die brandstofverhogings op die landbou se bydrae tot ekonomiese groei sal hê, sê hy: “As duimreël – vir elke 10c per liter styging in die dieselpryse, styg die totale jaarlikse koste vir landbou met R100 miljoen.

“Dit het dus ’n geweldige impak op landbou en dit kan vir seker ’n negatiewe invloed op die BBP van landbou veroorsaak.”

Intussen het ’n Reuters-opname voorspel dat Suid-Afrikaanse boere waarskynlik 7% meer hektaar mielies sal plant in die komende seisoen. Die oesskattingskomitee sal na verwagting Donderdag aankondig dat boere 2 469 miljoen hektaar mielies in die komende seisoen gaan aanplant teenoor die 2 318 miljoen hektaar van die vorige seisoen

Die aanplanting van wit mielies, wat as die land se stapelvoedsel beskou word, kan in die nuwe plantseisoen met 9,2% styg volgens die Reuters-opname. Dit kan 1 385 miljoen hektaar beloop teenoor die vorige seisoen se 1 268 miljoen hektaar. Boere sal na verwagting 1 084 miljoen hektaar geelmielies plant.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hendrik ·

Tyd vir privaat klein en groot bio-diesel aanlegte wat direk aan die boere diesel verskaf?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.