Afgelope jaar het sleg vir Steinhoff verloop

Argieffoto

Woensdag is dit presies ’n jaar gelede wat die internasionale kleinhandelreus Steinhoff se aandeelprys getuimel het. Die insinking was een van die ergste wat op die JSE ervaar is en het na Frankfurt in Duitsland en Amsterdam in Nederland se markte uitgekring.

Steinhoff se aandeleprys het onder verdenking gekom nadat Viceroy, ’n Amerikaanse maatskappy, gesê het sy navorsing dui daarop dat daar nie iets pluis is met die kleinhandelaar se boeke nie.

’n Aandelekenner en markontleder, Dawie Klopper, van PSG Wealth, sê die afgelope jaar het sleg vir Steinhoff verloop.

“Die nuusvloei was die hele tyd negatief en boonop is Matress Firm in Amerika in sakeredding geplaas,” sê hy.

Op ’n vraag of Steinhoff dalk kan herstel, sê Klopper: “Ons sal moet wag vir die PwC-verslag. Die vraag steeds is hoeveel skuld het Steinhoff? Sy bates het ook gedurende die jaar swaar gekry.”

Die ouditfirma PwC is tans besig met ’n ondersoek na Steinhoff om te bepaal vir hoe lank sy finansiële state nie korrek voorgehou is nie.

Hy voeg by dat Steinhoff se bates herwaardeer moet word. Klopper sê dat daar verskeie finansiële skuiwe moet plaasvind om die ware waarde van Steinhoff te bepaal. Hy sê egter dat hy twyfel of daar enige waarde in die maatskappy is.

Omdat beleggers hul vingers met Steinhoff verbrand het, sal hulle die maatskappy om ’n spekulatiewe basis moet nader. Hy reken dat Steinhoff ’n groot ontnugtering vir aandelehouers was.

Klopper meen die beheermaatskappy kan dalk verdwyn en die bedryfsmaatskappye in Suid-Afrika, Europa en Australië kan in hulle eie reg voorbestaan. Volgens Klopper sal die skuld van Steinhoff tussen die bedryfsmaatskappye verdeel moet word.

“Ek dink Steinhoff, die beheermaatskappy, sal verdwyn en die stukke in Europa en Australië kan in eie reg voortbestaan. Die skuld moet egter tussen die bedryfsmaatskappye verdeel word.”

Die Steinhoff-sage is waarskynlik deur menige Suid-Afrikaner fyn dopgehou. Ondanks die verskyning van die voormalige uitvoerende hoof, Markus Jooste, voor die parlementere portefeuljekomitee oor finansies, het Jooste nie veel uitgewei oor die debakel nie.

Dit is veral staatsdienswerkers wat ’n gevoelige slag toegedien is. Die Openbare Beleggingsfonds was een van Steinhoff se grootste aandeelhouers.

Verskeie hofsake is aanhangig gemaak teen die maatskappy. Een daarvan van R59 miljard is waarvoor sy voormalige voorsitter Steinhoff dagvaar.

Steinhoff het sowat $13,7 miljard verloor nadat nuus van die skandaal bekend geword het. Tot dusver is niemand nog in hegtenis vir die skandaal geneem nie. Die Valke het te kenne gee dat hulle met hul ondersoek vorder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.