Agentskap het kommer oor Eskom, groeiende skuldlas

kredietgradering-senp-standardenpoor

‘n Skermskoot van die kredietagentskap S&P se webwerf.

Standard & Poor’s Global (S&P) het Suid-Afrikaanse finansiële markte ’n blaaskans gegee voor die inhuldiging van pres. Cyril Ramaphosa as staatshoof.

Die land se kredietgradering by S&P is Vrydag onveranderd op sogenaamde rommelstatus gehou, en die agentskap dui op geen werklike kanse vir vinnige verbetering nie.

Die feit dat Moody’s Investor Services die land nog op beleggingstatus hou, het tot dusver ’n grootskaalse verkoping van Suid-Afrikaanse finansiële bates verhoed.

Ekonome is egter bekommerd dat Ramaphosa sal talm om die nuwe kabinet aan te kondig. Daar is ook kommer dat die bedanking van Eskom se bestuurshoof, Phakamani Hadebe, waarskynlik die gevolg van ministeriële inmenging was.

Daar word vinger gewys na die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan vir die dinge wat verkeerd geloop het by Eskom. Tot dusver het Gordhan soos die graf geswyg.

Maar die ekonomiese ontleder Dawie Roodt van die Efficient Group en Ted Blom, die onafhanklike energiekenner, het intussen alle blaam op Gordhan geplaas.

Dit blyk dat Roodt en Blom vertroue in Hadebe gehad het om Eskom te help herstel en dat Gordhan nou as die vlieg in Eskom se herstelsalf gesien word.

Intussen sê NKC Research oor die gradering die volgende: “S&P’s het Suid-Afrika se gradering onveranderd gehou. Die groot kommer bly die land se groeiende skuldlas wat swaar op die land se kredietgradering weeg. Die groeiende skuldlas oor Eskom het ook die graderingsmaatskappy bekommerd.

S&P hoop noudat die verkiesing agter die rug is, daar nou gefokus kan word op hervormings in die ekonomie en dat die ekonomie nou reggeruk kan word.

Die nasionale tesourie het reeds ’n belofte gemaak dat hy die fiskale riem stywer gaan trek. Ontleders is egter skepties of dit so maklik gaan wees juis omdat Ramaphosa sterk steun op die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party en Cosatu om sy mag te behou.

Boonop is die vraag binne die ANC se binnekringe of Ramaphosa sterk staan en of hy ʼn koalisie met oudpresident Jacob Zuma sal moet aangaan om stabiliteit te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Andreas ·

Goeie genade, net soos mens dink jy kan met ‘n huppel in jou stap vorentoe kyk en dat daar volstoom aan die probleme aandag gegee sal word, word mens weer terug na die realiteit gebring van hoe die ANC regering dinge doen.

jaco ·

wie gee wit maatskappye soos Standard &Poor die reg om meestal nie-wit lande te sit en op- en afgradeer soos wat hulle luskry? Dit grens ook maar lekker aan rasssime, veral as wit regerings van die Noord-Amerika en Europa dan nogal daardie afgraderings aanvaar en lustig saam die nie-wit derde wereldlande “straf” vir hulle swak ekonomiese beleide.
Weet enige van daardie ryk wit mense wat graderingsagentskappe gesit EN wat daardie lande regeer, watse negatiewe gevolge hulle “strafmaatreëls” het op gewone mense in derdewereldlande? Weet hulle hoe dit voel as die pryse van petrol, brood, huur, voer, munisipale tariewe en en en maar net weer maand na maand na maand styg en styg en styg?

Andreas ·

Hulle het ‘n standaard waarvolgens hulle beoordeel, volgens jou ‘n wit standaard en nie gemeet aan die realiteite wat die land se ekonomie en groei in ‘n wntelbaan sit om almal ‘n hoop op welvaart, of ten minste ‘n bietjie hoop, te gee nie.

Wielspore ·

Die berig kon net sowel ‘n politieke opskrif gehad het want die boodskap in die berig is meer polities van aard as wat dit oor finansies gaan.
Lees enige ander onlangse berig oor Pravin Gordhan op die blad en die inhoud is dieselfde.
Gee vir ons lekker vars nuus, nie chappies wat klaar gekou is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.