Amcu kry die wind van voor

Neal Froneman, uitvoerende hoof van Sibanye, en Amcu-president Joseph Mathunjwa onderteken die driejaarooreenkoms by Sibanye se Driefontein-myn (17 April 2019) (Foto verskaf deur Amcu)

Ontleders verwag dat vanjaar se loononderhandelinge in die platinumsektor in ʼn skadu gehul kan wees. Die vakbond Amcu, (die Vereniging van Mynwerkers en Konstruksie-unie), wat bloedneus gekry het tydens sy vyf maande lange staking by die goudmynafdeling van Sibanye-Stillwater, het nóg slegte nuus gekry.

Die departement van arbeid het kennis gegee dat hy die vakbond se registrasie wil opskort. Amcu is tans die grootste vakbond in die platinumsektor.

Sy staking by Sibanye-Stillwater het egter ook die vakbond se aansien geknou. Nege mense is tydens die staking dood. Amcu het 14 000 lede by die myngroep.

Arbeidsontleders sê die staking het niks meer as armoede vir sy werkers gebring nie. Twee weke gelede het die vakbond ʼn loonooreenkoms met Sibanye-Stillwater onderteken.

Dit was soortgelyk as dié wat die Mynwerkersunie (MWU) en Solidariteit onderteken.

Lehlohonolo Molefe, die arbeidsregistrateur, het die kennisgewing oor Amcu se toekoms Dinsdag in die Staatskoerant geplaas. Daarin het die vakbond 60 dae om vertoë te rig om nie sy registrasie op te skort nie.

Volgens Molefe is die kennisgewing uitgereik ingevolge seksie 106 (2b) van die Wet op Arbeidsverhoudinge.

Van die redes wat hy hiervoor aangevoer het, is dat die Amcu ophou funksioneer het as ʼn vakbond en dat dit nie volgens die wet ʼn volslae vakbond is nie. Enige party wat by die kennisgewing belang het, kan voorleggings aan die registrateur maak

Amcu het sterk op die voorgrond getree met die platinumstaking in 2012 wat tot die Marikana-slagting gelei het. Tydens dié staking is 44 mense dood. Die staking het die land ook in ʼn tegniese resessie gedompel.

Volgens beskikbare gegewens het Amcu 200 000 lede in die platinum- en steenkoolsektors.

Die gestoei tussen Amcu en die departement van arbeid het in 2014 begin. Van die sake wat die departement geopper het, was of Amcu ʼn grondwet het, of sy finansies geoudit is en die sameroeping van gereelde konferensies waar leiers verkies moet word.

Amcu het ook die wind van voor gekry van kenners en arbeidsdeskundiges oor hoe hy die Sibanye-Stillwater-staking benader en uitgevoer het. Sibanye het ook platinumbelange bygekry. Hy het die Lonmin-myn, waar die Marikana-staking plaasgevind het, gekoop.

Ontleders sê die feit dat sy lede vir vyf maande geen lone ontvang het nie, hul armer gelaat het.

Nog ʼn kwelpunt was die vakbond se eis dat Impala Platinum-werkers se spaargeld van die Implats-voorsieningsfonds na die Igula-fonds moes oordra. Laasgenoemde word deur Amcu beheer. Die  Implats-fonds het R7 miljard oorgedra.

Die Amcu-president, Joseph Mathunjwa, het homself as voorsitter van die fonds aangestel volgens inligting wat aan die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) oorhandig is.

Mathunjwa het gesê hy sal reageer sodra hy die kennisgewing bestudeer het.

Volgens ontleders maak platinummyne nou weer geld en sal hulle waarskynlik bo-inflasie verhogings vir werkers aanbied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Boerboel ·

200 000 x R50 per maand = R10 miljoene inkomste wat die unie kry as werkers R50 rand bydra per maand. Baie geld om te verloor! So gaan dit oor die werkers of die inkomste ?

Speedguard ·

Soos hulle se ” NOTHING FOR MAHALA” beslis oor inkomste !

Rohan Rautenbach ·

Eks n trotse amcu lid en die unie het my en my mede werkers al baie ge help baie baie baie beter as soladarietyt

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.