Begrotingsrede: Hoër belasting verwag  

Deur Michelle Coetzee

Tito Mboweni, die minister van finansies (Foto: @GovernmentZA/Twitter)

Tito Mboweni, minister van finansies, lewer vandag sy begrotingsrede.

Benewens Covid-19 se humanitêre ontwrigting, het die pandemie ook ekonomiese onstuimigheid teweeggebring. Na afloop van die 2020-mediumtermynbegrotings­beleidverklaring word belastingverhogings ten bedrae van R5 miljard vir 2021/2022 geprojekteer. Drastiese belastingverhogings kan egter die herstel van die ekonomie belemmer.

Die volgende belastingberamings kan moontlik verwag word:

Inkomstebelasting

Die heffing van persoonlike inkomstebelasting op individue se belasbare inkomste is een van die sleutelkomponente van direkte belasting in Suid-Afrika. Histories het die nasionale tesourie beduidende bykomende belastinginkomste gegenereer by wyse van persoonlike inkomstebelastingverhogings.

ʼn Verhoogde belastingkoers van 47% (ʼn toename van 2%) word vir mense en spesiale trusts voorspel wat teen die maksimum marginale koers belas word. Die korporatiewe belastingkoers sal waarskynlik onveranderd bly vanweë Suid-Afrika se dringende behoefte aan buitelandse belegging.

Kapitaalwinsbelasting

Die huidige insluitingskoerse van toepassing op individue (40%) en maatskappye (80%), sal vermoedelik verhoog word tot onderskeidelik 66% en 100%.

Belastingverslagdoening en tussentydse invordering

Die Suid-Afrikaanse regsprofessie tref onderskeid tussen die balie en die sybalie. Die balie bestaan uit advokate, terwyl die sybalie uit prokureurs bestaan. Lede van die balie genereer belasbare inkomste vanuit hul aanstellings deur die sybalie en/of ontvangstes vanaf mede-advokate vir die lewering van onderlinge regsdienste.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens behoort te herbesin oor die belasting, invordering en terughouding van hierdie bedrae. ʼn Elektroniese verslagdoeningstelsel soortgelyk aan die lopende betaalstelsel waaraan werkgewers en werknemers onderhewig is, behoort tydig geïmplementeer te word. Hierdie stelsel kan aangevul word deur die bestaande voorlopige belastingstelsel ten einde tussentydse invordering te verbeter.

Besnoei mediese krediete

Die skrapping van mediese krediete behoort R27,8 miljard te bespaar, hoewel dit die toekomstige bekostigbaarheid van mediese fondse wesenlik sal beïnvloed. ʼn Besnoeiing van 33% sal ʼn besparing van R9 miljard teweegbring en is gevolglik meer raadsaam as die totale skrapping van mediese krediete te midde van die koronaviruskrisis.

BTW

ʼn Toename van 1% in die BTW-koers sal beduidende belastinginkomste genereer. ʼn Verhoging in hierdie koers sal egter ernstige teenstand van vakbonde en verbruikers uitlok.

Welvaartbelasting

Die nasionale tesourie sal herbesin oor bestaande belastings teenoor die instelling van ʼn welvaartsbelasting of solidariteitsbelasting. Die instelling van ʼn nuwe soort belasting sal die regering administratief en finansieel swaar belas. Dié instelling sal ook innoverende belastingvermyding en belastingontduiking aanspoor.

Dit is raadsaam dat belastingbetalers die begrotingsrede besigtig en die bepalings met hul finansiële adviseurs bespreek. Die bepalings soos op 24 Februarie 2021 aangekondig sal geld van 1 Maart 2021 tot 28 Februarie 2022.

  • Michelle Coetzee is ʼn geoktrooieerde rekenmeester. Sy gee klas in Belasting en Ouditkunde by Akademia en is Vakhoof: Belasting, Finansiële Rekeningkunde en Ouditkunde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.