Beleggingstukrag danksy skarefinansiering

Die GoGetta-span. Van links is Jeff Miller, Leat Sacharowitz en Sthembiso Zwane

Gehalte-ondernemings in Afrika, wat met groeivooruitsigte spog en finansiering broodnodig het, kan nou munt slaan uit die innoverende, aandeelgebaseerde skarefinansieringsplatform GoGetta.

Plaaslike en internasionale engel- (“angel investors”) en waagkapitaalbeleggers kan uit verskeie geleenthede kies, en vinnig en veilig bedrae van so min soos R1 000 belê om aandele in belowende ondernemings op die vasteland te besit.

Volgens Sthembiso Zwane, medestigter van GoGetta, sukkel Afrika-ondernemings dikwels om hul hande op kapitaal te lê deur tradisionele finansieringskanale soos banke te gebruik. “Skarefinansiering is ʼn multimiljarddollerbedryf wêreldwyd, en die tyd het aangebreek dat Afrika ook ʼn stewige sny van dié sappige koek kry.

“GoGetta bied ʼn unieke oplossing vir entrepreneurs wat hulself telkens in toe beursies vasloop en ontsluit ʼn bykans onmeetbare skatkis vir sakelui om ʼn sukses van hulle sakedrome te maak. Andersyds bied die vasteland ʼn opwindende groeiverhaal waarvan beleggers deel kan word. Die GoGetta-platform bied van die beste beleggingsgeleenthede reg oor Afrika.”

Volgens Zwane snuffel GoGetta deurlopend aantreklike ondernemings met ʼn blink toekoms uit om op die platform te noteer. “Dit is tipies ondernemings wat beleggings van tussen R1,5 miljoen en R10 miljoen wil bekom in ruil vir aandele in die ondernemings.

“Alle ondernemings wat deel van die platform wil word, moet eers ʼn omsigtigheidsproses deurloop wat deur GoGetta se ervare beleggingskomitee gedoen word voordat ʼn dienste- en fondsinsamelingsooreenkoms gesluit word. Slegs Afrika-ondernemings kan op die platform noteer, maar beleggers kan op enige plek ter wêreld geleë wees,” het Zwane gesê.

GoGetta word aangevuur deur Grovest, een van Suid-Afrika se mees gerespekteerde administrateurs in die alternatiewe kleinkapitalisasiebeleggingsektor. Grovest staan reeds vir meer as ʼn dekade pa vir entrepreneurskapfinansiering en spog met R3,5 miljard se bates onder sy vlerk.

Volgens Jeff Miller, GoGetta se medestigter en uitvoerende hoof, word die platform deur die gedragsowerheid vir die finansiële sektor (FSCA) gereguleer, wat aan beleggers die gemoedsrus gee dat hulle op uitnemende nakoming en bestuursvermoë kan reken.

“Entoesiastiese entrepreneurs sal ook baat vind by die leiding om hul ondernemings te formaliseer deur op ʼn slimmer manier toegang tot kapitaal te kry om groei te finansier, terwyl hulle aan die stuur van sake bly.”

Aansoeke van sakeondernemings uit enige sektor word verwelkom, van finansiële tegnologie tot landbou, energie, gesondheidsorg en kleinhandel. Volgens Leat Sacharowitz, GoGetta-medestigter, het verskeie kwalifiserende ondernemings in Suid-Afrika reeds deel van die platform geword.

Om te kwalifiseer, moet ondernemings geouditeerde finansiële state, jaar-tot-datum-bestuursrekeninge, driejaar-finansiële vooruitskattings en ʼn omvattende sakeplan indien. Aanvanklike noteringsfooie is laag en voldoenings- en verslagdoeningsfooie is eers betaalbaar wanneer die onderneming sy teikenfinansiering bereik.

Behalwe transaksiefooie, betaal beleggers op hul beurt geen fooie nie. Die minimum belegging is R1 000 en beleggers ontvang kwartaallikse verslae om die prestasie van hul beleggings na te spoor. GoGetta verskaf ook omvattende inligting om potensiële beleggers met besluite by te staan. Dit sluit in finansiële inligting, ʼn maatskappyvoorlegging (“pitch”), en meer.

Volgens Zwane is aandelegebaseerde skarefinansiering veral aantreklik in die Afrika-konteks, waar tradisionele gemeenskapsbeleggings algemeen en toegang tot formele finansiële instellings beperk is.

“Digitale finansies en mobiele geld beleef reusegroei in Afrika, en veral die jonger geslag neem die voortou in die digitale ekonomie. GoGetta se platform is daarom ʼn eenvoudige en veilige digitale poort na gehaltegeleenthede vir beleggers én besighede wat sakestukrag soek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

VaalDonkie ·

“crowdfunding” is ‘n fantastiese ding. Kyk net wat Afriforum en Solidariteit vermag het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.