Beleidsonsekerheid bly ’n turksvy vir SA ekonomie

kredietgradering-senp-standardenpoor

‘n Skermskoot van die kredietagentskap S&P se webwerf.

Die Suid-Afrikaanse ekonomie het weer eens in die kollig gekom. Die kredietgraderingsagentskap S&P Global het op sy jaarvergadering in Johannesburg gesê dat hy vol vertroue is dat die ekonomie onder die bestuur van president Cyril Ramaphosa waarskynlik kop sal optel.

S&P het egter gewaarsku dat Suid-Afrika nou vir ’n ekonomiese groeikoers van 2% of meer sal moet mik om ’n verbetering in sy kredietgradering te verkry.

Daar is egter koue water op die siening gegooi nadat die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) sy groeivooruitsig vir die land na 1,2% vir vanjaar en 1,5% vir 2020 verlaag het. Die IMF se politieke en beleidsonsekerheid bly steeds ’n turksvy vir die land se ekonomiese vooruitsigte.

In sy jongste wêreld-ekonomiese vooruitsig sê die IMF dat die geprojekteerde herstel in die plaaslike ekonomie klein is, en het kommer uitgespreek dat beleidsonsekerheid ná volgende maand se verkiesing sal voortgaan.

Intussen het Ramaphosa Dinsdag by ’n byeenkoms van sakelui en wynboere in Stellenbosch gesê die tyd van implementering van beleid het aangebreek. Hy het gesê dat daar oor talle sakebeleid geformuleer is, maar dat dit nie geïmplementeer is nie.

Die IMF sê dat die Suid-Afrikaanse ekonomie dringend ’n omgewing nodig het waar die privaat sektor kan floreer en beleidsekerheid deel van hierdie omgewing moet wees.

Die Washingtonse instelling voeg by dat terwyl beleidsonsekerheid aan die orde van die dag is (veral met die ANC se aanvaarding van die beleid van grond-onteiening sonder vergoeding), sal die ekonomie sukkel en struikel – iets wat die land nie kan bekostig nie.

Intussen se die direkteur van S&P en sy hoofkredietgradeerder vir SA, Gardner Rusike, dat die land nou alles in die stryd sal moet werp om ’n hoër groeikoers te verseker. Suid-Afrika het laas in 2013 ’n groeikoers van 2,5% behaal.

Sedertdien het die groeikoers op afwaartse kurwe gegly. Topekonome skryf dit toe aan staatskaping, wanadministrasie, korrupsie en nywerheidsaksie. Die Amcu-staking (Vereniging van Mynwerkers en Konstruksie-unie, oftewel Amcu) in 2014 het byvoorbeeld die groeikoers gepootjie en die land in ’n tegniese resessie gedompel.

Rusike sê sou die ANC die verkiesing wen en met sy hervormings voortgaan wat onder Ramaphosa begin is, kan dit beleggings lok wat tot hoër ekonomiese groei kan lei.

S&P maan egter dat die huidige pas van groei en struikelblokke nie die ekonomie tot bo die 2%-groeikoers sal sien presteer nie.

“Dit is tyd dat Suid-Afrika verby die 1,5%-groeikoers waarin hy vasgekeer is, moet kom,” het S&P gesê.

S&P, wat die land op rommelstatus het, het in November sy kredietvooruitsig gehandhaaf. Die langtermyn-soewereine valutagradering is BB en BB+.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johanna Botha ·

Die leiers saboteer die ekonomie met hulle dom uitlaatings !

OWO ·

Dit is nie net beleidsonsekerheid wat die die ekonomie kelder nie.Sodra jou bevolkings groei groter is as jou ekonomiese groei ,kan geen ekonomie positief groei nie.Die oorsake is legio.SA se grense is sedert die negentiger jare so porieus en lek soos siwwe,wat weer aanleiding gee tot misdaad,werkloosheid,rassehaat,druk op jou hulpbronne,noem maar op.

ertjie ·

Beleidsonsekerheid bestaan net vir die wat of te naief of te onnosel is om die lig te sien. Die ANC se beleid is baie duidelik en geensins onseker nie. Dit is inlyn met hulle missie, die “Freedom Charter” oftewel die Vryheidsmanifes. Die land stuur op n ramp af, daar sal geen messias ooit van binne die ANC self kan kom nie. Jy het een van 3 keuses: vat jou goed en trek Ferreira, pas aan en aanvaar jy sal jou standaarde en sieninge in die lewe drasties moet verlaag of laastens, bele jou geld in lood.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.