Beurtkrag sal ekonomiese vooruitsigte skaad

Argieffoto

Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsigte vir die vierde kwartaal vanjaar en die eerste van 2019 het drasties verdof. En dit spel niks goed vir die land se ekonomiese vooruitsigte nie.

Mike Schüssler, die hoofekonoom by Economists.co.za sê die huidige vlaag beurtkrag wat Eskom ingestel het, gaan ’n demper op die ekonomie plaas.

Eskom het sedert verlede week fase 1-beurtkrag toegepas. Daarvolgens word 1 000 MW-elektrisiteit uit die kragnetwerk geneem om druk op kragvoorsiening te verlig. Sedert Saterdag is dit tot fase 2 verhoog waarvolgens 2000 MW uit die stelsel gesny word.

“Dit is juis wat die land nie nou nodig het nie. Die kragonderbrekings onderstreep die korrupsie wat voortgegaan het onder die presidentskap van Jacob Zuma. Ongelukkig gaan dit nadelige gevolge vir die land en die ekonomie inhou. En ons betaal nou daarvoor,” het hy gesê.

Schüssler meen sou die ekonomie swak presteer, dit die kans gaan vergroot dat die land deur Moody’s Investor Service afgegradeer word. Dit is die enigste graderingsagentskap wat die land tans op beleggingstatus het.

Die gradering van twee ander kredietmaatskappye, Fitch en Standard & Poor’s Global, is reeds op rommelstatus en kan verder verlaag word.

“Dit kan die land in ’n groter gemors dompel,” het hy gesê.

Hy sê daar sal reusebeleggings in Eskom se infrastruktuur moet geskied.

“Dit kan bykomende kapitaalinspuitings meebring asook ’n skerp verhoging in tariewe wat verbruikers sal moet betaal. Ek is bevrees Suid-Afrikaners het nog nie die werklike omvang van beurtkrag gesien nie,” het hy bygevoeg.

Volgens Schüssler is die krisis by Eskom groter as wat hy voorgee.

Schüssler sê die huidige krisis by Eskom onderstreep ook die feit dat staatsbeheerde ondernemings nie eerlik is met landsburgers nie. Hy meen die tyd het aangebreek dat hulle oop kaarte met Jan Publiek moet speel.

Volgens Schüssler is daar egter negatiewe strominge oor die ekonomie juis oor die huidige reeks beurtkragonderbrekings.

“Die huidige siklus van beurtkrag gaan ons lamlê. Dit is juis wat die land nie nou nodig het nie. En ek dink Eskom is bewus daarvan.”

Ofskoon Eskom die jongste krisis op sy verouderde infrastruktuur blameer, is dit geen geheim dat die lewering van steenkool vanaf die Gupta-beheerde Optimum-myn na Eskomkragstasies opgeskort is omdat die myn in sakereddingsonderhandelinge is. Van die kragsentrales se reserwes is laag of hulle het geen steenkool nie.

Boonop is ander steenkoolmyne nie geneë om steenkool by Eskom af te lewer teen die huidige pryse wat hulle betaal word nie. Dit juis omdat die Gupta-myne voorkeurpryse betaal is.

Schüssler sê die Eskom-krisis gaan ook ’n uitdaging aan alle Suid-Afrikaners bied. Hy sê dit is veral vakbonde wat hul halsstarrige houding oor privatisering weer eens onder loep sal neem.

Hy meen dat privatisering dalk ’n oplossing vir Eskom kan bied juis omdat dit kapitaal vir die kragvoorsiener kan verskaf. Behalwe die huidige krisis, moet Eskom ook sukkel om bykans R17 miljard te kollekteer in geld wat munisipaliteite hom skuld.

Schüssler se siening word ondersteun deur dr. Iraj Abedian, die hoof van Pan African Investment & Research Services. Hy het op die Money Show gewaarsku dat die land se groeikoers in gedrang kan kom en daarmee saam kan Suid-Afrika se gradering ook in die spervuur kom.

Abedian sê dit is juis sleutelsektore soos vervaardiging, mynbou en landbou wat elektrisiteit nodig het.

“Wat ons tans sien, is ’n eie doel wat Eskom aanteken. Dit is juis nie goed vir die land nie,” het hy bygevoeg.

Volgens Abedian is daar nie nou ’n noodsaaklikheid om Eskom se bestuur en raad te vervang nie. Hy meen hulle is nog nuut in die saal maar sal vinnig moet aanpas om oplossings te vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Staak saam ·

Die Rand het vandag terug gesak tot R14.20
Niks goed vir n land wat so swaar steun op invoere nie.

Beurtkrag raak nie net die ekonomie nie, dit raak die publiek se gesondheid ook.
Met beurtkrag kan watersuiwering nie behoor werk nie, ons moet net onthou dat die ANC nooi nuwe invrastruktuur gebou het nie.
Rioolwerk gaan ook gebuk onder beurtkrag, in die aftyd loop vars onverwerkte riool in die stelsel in en die pompe staan, die gevolg is dat riool damme begin oorloop en besoedel ons riviere, die las wor net groter op suiwering.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.