Beurtkrag sal sukkelende ekonomie nog verder strem

Argieffoto

Suid-Afrika is opnuut op die drempel van ’n kragkrisis. Dit is die mening van Mike Schüssler, hoofekonoom by economists.co.za.

Hy voorspel dat beurtkrag nou ’n realiteit is en dat dit die reeds sukkelende plaaslike ekonomie nog verder in die moeras kan dompel.

Schüssler sê Eskom se probleem met steenkoolvoorsiening, wat nou weer beurtkrag na vore gebring het, tweeledig is. Hy sê die elektrisiteitsvoorsiener gaan sukkel tensy dit weer teruggaan om langtermynkontrakte, wat die steenkoolmyners nodig het, te beding.

Hy meen dat sulke kontrakte kan sorg dat steenkool minder gaan kos vir die elektrisiteitvoorsiener, maar vir die myne langtermynsekerheid sal gee. Hy voeg by dat die kontrakte die nodige sekerheid vir Eskom sal gee oor sy steenkoolvoorsiening.

Schüssler maan dat die regering dalk sal moet inspring om sake by die staatsbeheerde onderneming reg te kry. Hy sê indien die staat versuim om dit te doen, gaan Eskom en die land in groot moeilikheid wees.

Intussen sê die ekonomiese agentskap NKC Research dat die probleem van Eskom (die voorsiening van steenkool), verband hou met ’n groot steenkoolvoorsiener wat steenkool moes verminder te midde van bankrotskap-onderhandelinge.

Eskom het Sondag 1 000 MW in beplande beurtkrag gesny. NKC sê die kragvoorsiening is erg gestrem.

Vroeër het die myngroep Exxaro gesê hy is tans besig met samesprekinge om steenkool aan Eskom te lewer. Eskom het die afgelope paar maande probleme gehad met die lewering van steenkool wat noodsaaklik is vir kragopwekking.

Dit was grootliks te wyte aan die Gupta-beheerde Optimum-steenkoolmyn wat tans in sakeredding is. Dié myn lewer tans ook geen steenkool nie. Eskom het tans minder as 10 dae se voorraad by tien van sy kragsentrales.

Dawie Roodt, hoofekonoom by die Efficient Group, sê Eskom het hom in ’n hoek vasgedruk weens staatskaping. Hy wys daarop dat die Gupta-myne voorkeurpryse geniet het. Toe dit aan die lig gekom het, het ander myngroepe skugter geword om teen laer pryse steenkool te lewer.

Eskom, wat sowat 90% van die land se elektrisiteitsbehoeftes voorsien, is ook die staatsbeheerde-onderneming met die grootste skuldlas.

Mxolisi Mgojo, die bestuurshoof van Exxaro, sê die maatskappy het ’n aanbod aan Eskom gemaak en daar word nou op Nasionale Tesourie gewag vir uitsluitsel oor die saak.

“Die finale besluit berus by die tesourie omdat dit goedkeuring vir die kontrakte kan gee,” het hy bygevoeg.

Eskom het in September gesê dat hy in die proses was om nuwe kontrakte te beding om sy voorraad steenkool te verseker.

Intussen berig Moneyweb dat Eskom nou agt verskillende fases van beurtkrag kan instel. Voorheen was daar net vier fases.

Dié skuif sal dit vir Eskom moontlik maak om tot 8 000 MW krag te sny tydens beurtkrag. Onder die vorige regime was tot 4 000 MW krag tydens beurkrag gesny.

Fase 8 sal meer as ’n kwart van Eskom se kragvoorsiening van 30 009 MW raak. Volgens Eskom is die beurtkragfases uitgebrei omdat kragvoorsiening onder groot druk is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.