Beurtkrag sal trae ekonomiese groei verder strem

Foto: Twitter

Kommer oor die ekonomie en of Eskom wel daarin sal kan slag om elektrisiteit suksesvol te voorsien, is hierdie week die groot besprekingspunt op finansiële markte en onder beleggers. Kommer oor die ekonomie het die naweek toegeneem nadat Eskom fase 4-beurtkrag van Saterdagoggend toegepas het.

Fase 4 beurtkrag beteken dat 4000 MW uit die voorsieningsnetwerk geneem word.

Ofskoon Pravin Gordhan, die minister van openbare ondernemings, die naweek met sy topamptenare en Eskom se bestuur vergader het om oor die jongste krisis te besleg, meen ontleders dit sal nou verder as vergaderings moet gaan.

Gordhan het ná die vergadering verklaar dat die volgehoue toepassing van beurtkrag onaanvaarbaar is en dit die ekonomie sal ontwrig.

Verskeie senior ekonome, onder andere, Dawie Roodt van die Efficient Group en Mike Schüssler van Economists.co.za het voorheen gewaarsku dat die toepassing van beurtkrag die ekonomiese vooruitsigte gaan strem.

Suid-Afrika sukkel juis om ʼn aanvaarbare groeikoers te bereik wat werkskepping kan ondersteun en beleggersvertroue kan aanmoedig. Die ekonomie het verlede jaar met ʼn skamele 0,8% gegroei. Suid-Afrika se hoofsektore, naamlik mynbou, vervaardiging, landbou en die dienstesektor is veral afhanklik van betroubare elektriese voorsiening.

Die fase 4-beurtkrag is die hele naweek toegepas en verskeie geleenthede soos kerkdienste en winkels se handelstye is ontwrig.

Volgens Eskom het die probleem verlede week Donderdag begin toe die Kusile-kragsentrale buite Witbank weens tegniese probleme van die voorsieningsnetwerk afgehaal is. Dit het tot ʼn tekort van 1 000 MW gelei wat fase 1-beurtkrag behels.

Kusile is Eskom se nuutste kragsentrale waar miljarde rande oorbestee is en tegniese probleme kragvoorsiening ontwrig het.

Die naweek is nog 1 100 MW uit die kragnetwerk onttrek weens die tropiese sikloon oor Mosambiek wat kragdrade en toevoer na Suid-Afrika ontwrig het.

Die ekonomiese agentskap NKC Research sê dat die sporadiese voorvalle van beurtkrag werksekerheid en kleinsake nadeling sal beïnvloed. Die agentskap sê dat die gevolge van die jongste beurtkrag reeds in verskeie sektore gesien kan word.

Intussen berig die finansiële blad Moneyweb dat Eskom nie die waarheid oor sy opwekkingsvermoë vertel nie. Die blad sê dat Eskom tans staatmaak op krag van die pompstasies by Drakensberg, Palmiet en Ingula. Krag wat by dié stasies opgewek word, is bestem vir noodgevalle.

Volgens Moneyweb se beraming is verskei steenkool-aangedrewe kragsentrales van Eskom buite werking en produseer dit nie krag nie. Die blad skryf dit toe aan die veroudering van Eskom se vloot steenkoolstasies.

Dit beraam dat die 27 007 MW wat Suid-Afrika in spitstyd benodig, nie bereik word nie. Dit beraam dat daar tans sowat 18 000 MW krag beskikbaar is. Dit sluit die invoere van Mosambiek, die drie pompstasies en Koeberg uit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Alida ·

CR moet in die parlement gepeper word deur die opposisie oor al hierdie kwessies. Soos gewoonlik sal hulle weer heuning om mens se mond smeer en beweer daar is NIKS verkeerd nie. As dit natuurrampe is wat dit veroorsaak sal mens dit verstaan maar hier is monsters met LAAAANG vingers wat die oorsaak is en dan nog onbevoeg daarby.

honourable member ·

Theresa, hierdie mense sien niks verkeerd in wat hulle doen nie. Hulle loop mos met die idee “its our time to shine” . n Swart kollega het mos eenkeer vir my reguit gese” Julle het julle beurt gehad dit nou ons beurt . Hierdie mense skep nou wat hulle kan. Hierdie land sal nooit regkom nie en Eskom gaan hierdie land se finale ondergang beteken want geen besigheid kan met soveel beurtkrag oorleef nie.

willem Botha ·

Watter trae ekonomie, die ekonomie is op n afwaartse kurwe en n totale blackout soos in Venezuela is die volgende stap.

Enrico ·

Die ANC is n hopelise regering. Gedurende sy bewund het alles agteruit gegaan. Die mees korrupte spul ooit. Deur sy toedoen sit ons nou met die gemors van beurtkrag. Die ANC het al die mense in die steek gelaat. Die hele gemors kon verhoed gewees het as daar betyds teen Eskom en sy korrupsie opgetree was. Besighede .oet die verlies van inkomste by deur van Eskom en die regering le. Die regering en Eskom moet se rireksie moet besighede en publiek vergoed vir die gemors.

Antibeurtkrag ·

Die vraag wat gevra moet word is watter kwalifikasies en ondervinding het Eskom se direkreure oor die voorsiening van krag. Wie hetdiedirekteure aangestel.? Is hulle kwalifikasies ooit geviriferer ? Alle die direkteure wat aandadig was aan korrupsie moet vervolg word. Hulle moet die geld wat hulle geneem het terugbetaal. Waar is die wet en orde in die land?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.