Beweeg Suid-Afrika nader aan rommelstatus?

Moody's

Die kredietgraderingsagentskap Moody’s. Foto: ANA

Dit is die vraag wat beleggers, ontleders, ekonome en markte sal moet beantwoord na Moody’s Investor Service sy jongste verslag Dinsdagaand uitgereik het.

Volgens die verslag het die kredietgraderingsagentskap bevind dat verskeie lande van oor die wêreld heen tans toenemende eksterne druk ervaar.

Dit sluit in die taaier finansiële toestande in wêreldmarkte, ’n verandering in kapitaalvloeie, stygende ruoliepryse en die ontwrigting in wêreldhandel.

Die kapitaaluitvloeie word deur kenners toegeskryf aan die hoër Amerikaanse rentekoerse wat beleggings na daardie bates lok.

Die ontwrigting in wêreldhandel word gekoppel aan pres. Donald Trump se handelsoorlog met verskeie handelsvennote, insluitend China. Suid-Afrika het ook deurgeloop met heffings op die uitvoer van staalprodukte wat verhoog is.

Moody’s het Suid-Afrika uitgesonder as die land wat die mees vatbaar vir eksterne faktore is.

Volgens Moody’s is die staatseffekte wat die meeste deur die onlangse onbestendigheid geraak word in internasionale kapitaal en valutamarkte, juis dié van Suid-Afrika.

Dit wys daarop dat Suid-Afrika nog beleggingstatus geniet ofskoon dit grootliks op buitelandse kapitaalvloeie staatmaak. Volgens Moody’s word daar in die land grootliks in rande belê.

Beleggers skakel hul buitelandse valuta na rand om voordat hulle Suid-Afrikaanse bates aankoop.

Moody’s sê dit gebeur ondanks die swak presterende ekonomie, groter ongelykheid tussen armes en rykes en politieke onsekerheid in aanloop tot volgende jaar se verkiesing. Die graderingsagentskap sê dit is van die faktore wat tot die land se swak ekonomiese posisie bydra.

Intussen het die rand vanoggend effens verstewig ná die uitslae van die Amerikaanse tussentydse verkiesing bekend geword het. Daarvolgens het die Demokratiese Party beheer oor die huis van verteenwoordigers gewen, terwyl die Republikeinse Party die senaat behou het.

Politieke ontleders in Amerika het op televisiekanale die mening uitgespreek dat die Demokrate ’n stokkie voor Trump se planne kan steek. Dit kan, onder meer, daartoe lei dat die kwessie oor handelsoorloë kan afneem en dat Trump self ondersoek kan word vir sy belastingsake en Rusland se betrokkenheid by die 2016-presidentsverkiesing.

Die ekonomiese agentskap NKC Research sê daar is ook hernieude hoop dat China en Amerika ’n oplossing vir hul handelstryd kan vind, en dit het die plaaslike geldeenheid ondersteun.

Die agentskap sê namate dit duidelik geword het van die Demokrate se sukses, het die rand baatgevind by die swakker dollar

Dit verwag dat die geldeenheid vandag in ’n band van tussen R13,85 en R14,25 kan verhandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Judge Dredd ·

So die media beeld die demokrate se sukses as ‘n goeie ding – tog het die dollar verswak – wat beteken die markte in Amerika dink dis ‘n slegte ding.

Pierre ·

Indien eksterne faktore dit nie regkry nie, sal interne wel. Volgens Pravin Gordhan en Adv. Alberts gaan Transnet dit vir ons regkry. As gevolg van hulle volstrekte weiering om met die klas-aksie van die Transnet pensionarisse te skik. Die saak gaan nou weer hof toe. En dit na verskeie beloftes/liegstories om almal te sus. “You go Transnet”. Ons is almal trots op julle. Sies! Ek dink iemand het gesê ‘n land word geken deur die manier waarop hy sy oues behandel.

Staak saam ·

Kom ons stel dit net duidelik, die Rand het nie verstewig nie, die teendeel is waar en dit is misleidend, die Dollar het teenoor alle eenhede verswak na die VSA uitslae en het vandag weer begin herstel, dit skep die elusie dat die Rand verstewig het en vandag weer verswak het.

Dir Rand se prestasie is maar nog net so power en daar is nog geel silwer randjie aan hieddie wolk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.