Brandstofprys kan ’n impak op rentekoers hê

Foto: Brett_Hondow/Pixabay.com

Markkenners sê die Reserwebank sal waarskynlik op sy monetêre beleidskomiteevergadering later die maand ʼn duidelike sein kan uitstuur oor ʼn rentekoersverhoging. Dit ondanks die feit dat daar effense verligting in die petrolprys gaan kom terwyl dieselpryse steeds opwaarts sal beur.

Elize Kruger, ʼn senior ekonoom by NKC Research, sê petrolverbruikers kan ʼn klein bietjie verligting vir November kry.

“Dit is weliswaar nog baie klein, relatief tot die kumulatiewe verhogings van omtrent R3,30 oor die afgelope 7 maande,” sê sy.

Kruger wys daarop dat daar meer verligting in Desember kan kom weens die aanname dat die huidige rand en olieprys op huidige vlakke sal bly verhandel. Sy sê vooruitskattings dui daarop dat pryse vir petrol waarskynlik rondom 50c tot 60c per liter kan daal. Voorts sê sy die dieselprys kan met 20c per liter krimp.

“Hopelik is die ergste verby ten opsigte van die brandstofpryse,” het sy byvoeg. Vanjaar se brandstofprysverhogings het tot rekordvlakke vir die produkte gelei.

Kruger waarsku egter dat die Reserwebank tans meer bekommerd is dat die vorige maande se verhogings gaan deurfilter na die hele verbruikersprysindeks-mandjie. Die Reserwebank gebruik die teiken van tussen 3% tot 6% as sy inflasieteiken.

Ofskoon ekonome ʼn rentekoesverhoging verwag word, maan hulle egter dat die land se ekonomiese groei traag is en dat dit nog ʼn verdere demper op die ekonomie kan plaas.

Kruger sê inflasie word aangeblaas deur hoër pryse vir meeste produkte as gevolg van die hoër brandstofpryse. Sy sê dit ook die sekondêre impak op die aanbodkant kan skok.

“Ek dink nie die klein verlaging in petrol sal veel impak hê op hul (die Reserwebank) se besluit nie,” het sy bygevoeg.

Twee van die sentrale bank se adjunkpresidente, Daniel Mminele en Francois Groepe, het die afgelope ruk sterk standpunt ingeneem oor hoër rentekoerse.

Beide het juis gewaarsku oor die effek wat hoër brandstofpryse op pryse sal hê. Markte het reeds ʼn 60% kans op ʼn rentekoersverhoging vandeesmaand ingeprys.

Boonop is markverwagtinge dat ʼn rentekoesverhoging steun aan die rand kan verleen. Die geldeenheid het voorheen baatgevind by die land se rentekoersbeleid en die laer rentekoerse in ontwikkelde ekonomie. Met Amerika wat tans rentekoerse verhoog, het die gaping dus verklein. Die Amerikaanse Federale Reserweraad hou egter voet by stuk ondanks fel kritiek van president Donald Trump oor die pas waarteen die Federale Reserweraad rentekoerse verhoog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Koos ·

Help nie om inflasie indirek te bestuur deur rentekoerse te verhoog nie. Vat geld uit verbruiker se sak sodat ons minder spandeer en daar meer aanbod is, wat pryse verlaag. Regtig? Spreek eerder die direkte onderliggende probleme aan!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.