Brandstofprys is slegte nuus vir verbruikers, landbousektor

boer-boere-trekker-plaas-boerdery-landbou

Foto: Spencer Pugh/Unsplash.com

Dawie Maree, landbou-ekonoom by First National Bank sê die jongste brandstofprysverhogings is nie goeie nuus vir verbruikers en die landbousektor nie.

Hy sê vuisvoos verbruikers is reeds onder druk en dat die jongste prysverhogings hul verder gaan wurg.

Die departement van energie het aangekondig dat 93- en 95-oktaanpetrol met 74 sent per liter styg. Dieselverbruikers gaan 93 sent per liter meer moet betaal. Die verhogings het op 6 Maart in werking getree.

Maree sê dat die verhogings ’n negatiewe impak op verbruikersbesteding en -vertroue sal hê.

“Of jy ’n motor het of nie, jy gaan dit voel,” het hy gesê.

Hy sê motoriste benodig hul motors om werk toe te gaan of vir sakeritte.

“Armes sal dit voel wanneer taxi- of busgeld verhoog word. Motoriste sal waarskynlik moet beplan hoe hulle hul ritte sal moet inkort om meer te spaar,” het hy bygevoeg.

Maree wys daarop dat die prysstygings ook beide verbruikers en produksie-inflasie gaan aanblaas.

Hy sê omdat die somer-oesseisoen langer duur as wat voorsien is, sal die verbruik van diesel ook hoog wees.

Hy sê as die dieselprys oor ’n jaar vergelyk kan word, is dit moontlik dat die verhoging in dieselpryse die landbousektor tot R900 miljoen uit die sak kan jaag.

Maree voeg by dat omdat ’n groot gedeelte van Suid-Afrika se voedsel per pad vervoer word, dit ook druk op inflasie sal plaas.

Hy sê ofskoon verbruikersinflasie gerieflik binne die Suid-Afrikaanse Reserwebank se inflasieteiken van 3% tot 6% is, kan inflasie in die tweede helfte opwaarts beur.

Die pryse van 93-oktaanpetrol is nou R14,82. Paraffien is nou 76 sent per liter duurder terwyl gas met R1,01 gestyg het.

Verlede jaar se volgehoue brandstofprysverhogings het ’n nadelige uitwerking op verbruikerstemming en -besteding gehad. Dit is veral te sien in die uitslae van kleinhandelmaatskappye wat nie pryse kon verhoog om pryse aanloklik vir sukkelende verbruikers te hou nie.

Die maatskappye se winsmarges is ook gestrem deur laer verkope.

Die kleinhandelreus Shoprite het verlede jaar aangekondig dat hy sowat 24 000 produkte het wat ten 2017 se pryse verkoop word. Ander winkelgroepe wat ook gesukkel het, is Woolworths, Mr Price en Pick n Pay.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Penellope Jones ·

Dis nie asof die regering regtig gaan bekommerd wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.