Covid-19 en ʼn betaalvakansie: Moet ek nou skuld aangaan?

SA Reserwebank (Foto: ANA)

Verskeie banke het die afgelope week aangekondig dat hulle ʼn sogenaamde “betaalvakansie” instel vir studente en klein sakeondernemings. Dit beteken dat verskeie kliënte nie vir die volgende drie maande hul lenings hoef af te betaal nie. Sommige banke hef in dié tyd ook nie rente of bykomende fooie op lenings nie. Die reserwebank het boonop die repokoers met 100 basispunte tot 5,25% verlaag. Die repokoers is die koers waarteen die reserwebank geld aan handelsbanke leen.

Kenners waarsku egter dat dit allermins nou die tyd is om onnodige skuld aan te gaan en gee raad oor hoe om beter met jou geld te werk te midde van afsondering en onsekerheid weens die uitbreking van die koronavirus.

“ʼn Betaalvakansie kan jou las verlig indien jy skielik nie meer ʼn inkomste het nie, maar stel bloot jou betalings uit. Dit gaan nie skielik jou skuld laat weggaan nie. Dit is dus belangrik dat jy volhou met jou maandelikse betalings indien jy dit kan bekostig,” sê Sarah Nicholson, kommersiële bestuurder van die finansiële adviseurs Justmoney.

geld-finansies-rand-note

 Foto: Verskaf.

Benay Sager, hoof van DebtBusters, sê verbruikers moet by hul onderskeie finansiële instansies seker maak of hulle wel kwalifiseer vir ʼn betaalvakansie en nie bloot aanneem hulle kan nou ophou betaal nie. “As jy werklik die geld benodig, kan jy in hierdie tyd ʼn lening aangaan. Indien jy egter reeds skuld aangegaan het en sukkel om te betaal, moet jy liefs finansiële hulp inwin of aansoek doen om skuldberading,” sê Sager.

Nicholson en Sager sê verbruikers moet altyd daarop fokus om hul skuld so vinnig moontlik te vereffen, eerder as om bykomende skuld te maak, veral noudat die rentekoers verlaag is.

Die nasionale kredietreguleerder (NKR) het verbruikers ook gemaan teen paniekaankope, omdat dit tot onnodige skuld kan lei. “Wanneer verbruikers angstig en paniekerig is, koop hulle dikwels goed wat hulle nie kan bekostig of nie nodig het nie. Hulle gaan dan soms onnodige skuld aan om dié items te koop,” sê Nomsa Motshegare, uitvoerende hoof van die NKR. Sy herinner verbruikers dat dié skuld dan later terugbetaal moet word.

Nicholson sê verbruikers moet die tyd van algehele afsondering gebruik om te spaar. “Indien jy in die verlede baie uitgeëet het of geld bestee het aan onthaal en vermaak, gaan jy dit nie meer doen nie. Gebruik hierdie geld om jou rekeninge te betaal en sny waar jy kan.”

Nicholson moedig verbruikers aan om nie paniekerig te raak nie. “Hierdie is nie ʼn tyd om drastiese finansiële besluite te maak nie en moet liefs nie enige aandele nou verkoop nie.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.