Covid-19 laat vervaardigingsektor met onsekere vooruitsigte

(Argieffoto: Chinatopix, AP)

Prof. Danie Meyer, ʼn ontwikkelingsekonoom aan die Noordwes-Universiteit (NWU), sê die Covid-19-pandemie laat vooruitsigte vir die vervaardigingsbedryf onseker lyk.

Buiten eksterne faktore soos internasionale vraag, is daar ook talle interne faktore soos beperkte elektrisiteitsvoorsiening en plaaslike vraag wat ʼn verdere negatiewe uitwerking op dié sektor het.

Meyer sê hy is veral bekommerd oor die groot getal tydelike werksverliese in vervaardiging, wat op die ou einde ook tot meer permanente werksverliese kan lei.

“Op ’n wêreldwye skaal word die vervaardigingsektor as die aandrywer van ekonomiese groei en ontwikkeling beskou. Volgens data van die Wêreldbank is hierdie sektor verantwoordelik vir bykans 17% van die wêreld se ekonomie, en voor die aanvang van Covid-19 was die wêreldwye groei in vervaardiging 4%.”

Meyer sê die Covid-19-pandemie het sedert die begin van 2020 ’n geweldige uitwerking op die sektor gehad. Dit het daartoe gelei dat die meeste lande in die eerste en tweede kwartaal van 2020 negatiewe groeikoerse aangeteken het.

Prof. Danie Meyer is ‘n ’n ontwikkelingsekonoom en direkteur van die TRADE-navorsingsfokusarea aan die Noordwes-Universiteit (NWU). (Foto: Verskaf.)

Nasionale inperkings het tot die tydelike sluiting van fabrieke en produksiepersele op al die vastelande gelei. Ná byna twee kwartale van die pandemie is die groot vraag: Wat gebeur wêreldwyd met die vervaardigingsektor en wat is die vooruitsigte?

Wel, sê Meyer, een manier om die gesondheid van die sektor te meet, is deur middel van die koopbestuurdersindeks (KBI). Hierdie indeks word in die meeste lande gebruik en dit meet die vooruitsig van aankoopbestuurders by fabrieke en produksiepersele. Die indeks strek van 0 tot 100 en enige telling van meer as 50 is ’n aanduiding van ’n positiewe vooruitsig.

“In sommige gevalle het die KBI in talle lande weens die vernietigende uitwerking van die pandemie selfs tot 30 gedaal. Die tabel hieronder is ’n opsomming van wêreldwye KBI-tendense. Ons kyk eerstens na die VSA en China – die twee oorheersende wêreldekonomieë. Die KBI van albei lande het bó die 50-puntbasislyn gestyg wat ’n positiewe vooruitsig aandui, met moontlike groei en uitbreiding.”

Meyer sê die Eurosone toon ’n stygende indeks van 51,8 en Pole, as deel van die streek, meld ook ’n stygende indeks van 52,8.

“In Asië meld die ASEAN-lande ’n lae indeks van slegs 46,5, maar dui aan dat dit aan’t styg is. In Afrika dui geselekteerde lande lae indekse van onder 50 aan, maar noem dat indekse besig is om tot by die basislyn te styg.”

Hy sê dat Suid-Afrika, volgens die ABSA-KBI, ’n verrassend hoë indeks van 53,9 in Junie 2020 gehad het toe fabrieke toegelaat is om teen bykans volle kapasiteit oop te maak, maar dat die indeks ongelukkig in Julie tot 51,2 gedaal het.

Vooruitsigte vir die sektor in Suid-Afrika is op ʼn mespunt en alles hang af van ʼn wêreldwye ekonomiese herstel asook plaaslike ekonomiese stabiliteit.

(Grafika: Verskaf.)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae