Dek jou versekering skade weens Covid-19?

(Foto: Martin Meissner/AP)

Die uitbreking van Covid-19 veroorsaak ontwrigting en in baie gevalle groot geldelike verliese vir baie sakeondernemings. Dit is weens ʼn verskeidenheid faktore, insluitend kwarantyn vir of self-isolering van werknemers, infeksie van werknemers, vertragings in internasionale aflewerings terwyl baie lande hul grense sluit of reise inkort, asook vlugkansellasies.

Baie ondernemings vra nou of hulle gedek word deur die sake-ontwrigtingsklousules betreffende verliese weens die ontwrigting deur Covid19.

Raynold Tlavani van die regsfirma Webber Wentzel, sê sommige ondernemings mag ongelukkig vind dat hulle nie gedek is nie, omdat sommige polisse eiendomsbeskadiging lys as ʼn vereiste vir uitbetaling. “Weens die aard van Covid19 is dit onwaarskynlik dat eiendom op groot skaal beskadig gaan word, wat beteken baie ondernemings gaan nie eise vir sake-ontwrigting kan indien nie,” sê Tlavani.

Hy sê daar is wel ander versekeringspolisse wat wel voorsiening maak vir dekking teen skade veroorsaak deur aansteeklike siektes, wat nie die beskadiging van eiendom as vereiste vir eise stel nie. “Waarvan werkgewers kennis moet neem, is of die versekeringspolis ʼn geografiese radius stel vir eise. Waar so ʼn radius in ʼn polis gestel word, kan dit moeilik raak om omvangryke eise in te dien.”

Tlavani meen die geldelike verliese weens hierdie virus kan nog vir jare gevoel word. “Elke onderneming moet baie mooi kyk wat deur hul polisse gedek word – en wat nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan Venter ·

Maroela, dit sal interessant wees om ook van een van ons groot korttermynversekeraars of versekeringsmakelaars in die verband te hoor. Ek is daarvan bewus dat die standaard sakeonderbreking polis die gevare van die brandpolis volg om vir skadeloosstelling te kwalifiseer, dan is daar sekere uitbreidings beskikbaar. Ek is nie so seker van siekte nie. As hulle hul daaroor kan uitlaat sal dit gaaf wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.