Ekonomie: Jaar skop af op ʼn hoë noot

Foto ter illustrasie: Pixabay

Die jaar het op ʼn goeie noot afgeskop en kan sommer vroeg al ʼn positiewe effek op die ekonomie hê.

Dit is die mening van Elize Kruger, ʼn senior ekonoom by NKC Research. Sy sê dat sy versigtig optimisties is dat die ekonomie geleidelik kan versterk in 2019. Volgens Kruger is daar talle positiewe tekens waarmee die jaar afgeskop het.

Dit sluit in die laer brandstofpryse wat in die kort termyn verligting kan bring vir motoriste en die inflasievooruitsig.

“Inflasie gaan waarskynlik heelwat laer wees as wat die Suid-Afrikaanse Reserwebank verwag, dus behoort rentekoerse nie verder verhoog te word nie,” het sy gesê.

Kruger het bygevoeg dat laer as verwagte inflasie ook verbruikers se koopkrag behoort te ondersteun. Sy meen dat die faktore vanjaar se ekonomiese groeikoers tot 1,9% kan dra.

Die een vlieg in die salf is egter die onlangse reën. Sy sê ofskoon die somerreëns goed was, dit te laat was vir somergesaaides.

“Die reën het meestal te laat gekom vir mielieboere, wat mag lei tot hoër voedselpryse later vanjaar,” het Kruger bygevoeg.

Witmielies is Suid-Afrika se stapelvoedsel terwyl geelmielies as voer vir, onder meer, hoenders geplant word.

Dawie Maree, ʼn ekonoom by FNB, Dawie Maree, het vroeër gesê dat die laer brandstofpryse boere se insetkostes sal verlaag en verligting aan hulle sal gee.

Intussen het toestande drasties verander sedert die oesskattingskomitee sy laaste vooruitsig in Desember gegee het.

Graan Suid-Afrika het gewaarsku dat die hittegolf en droë toestande boere sal verplig om later te plant. Die liggaam het kommer uitgespreek dat opbrengste uit die mielie-oes laer kan wees en dus die pryse drasties kan opstoot.

Graan SA sê tot nou was dit ʼn moeilike seisoen vir boere. Die liggaam sê hy sou verkies het dat ten minste die helfte van die plantgebiede reeds beplant was.

Dit voeg by dat enige mielieplantery in laat Desember waarskynlik tot gemiddelde of onder-gemiddelde opbrengste kan lei.

Die tydgleuf vir plant in die westelike gedeelte van die land, wat Noordwes en die Vrystaat insluit, strek van 15 November tot middel Desember.

Graan SA sê in die oostelike helfte, wat 40% van die land se mielies oplewer, is reeds 90% mielies geplant.

In sy langtermynvooruitsig het die SA Weerdiens voorspel dat Suid-Afrika normale reënval oor die somerreënvalgebied sou ontvang.

Op die JE-termynmark het mieliekontrakte vir lewering in Maart tot R2 895 geklim – hul hoogste vlak sedert Januarie 2017.

Mielies dra grootliks by tot die kospryse wat in die inflasiemandjie gemeet word.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gert ·

Mens moet dalk maar baie versigtig optimisties wees. Wat van die boere wie daai mielies plant, en wie se grond die regering van hulle wil ontneem? En die impak van so iets op investering, en dus ekonomiese groei? Met ‘n verkiesing wat nader kom kan ons nog baie radikale retoriek verwag.

Ons almal is waarskynlik bly oor die laer brandstofpryse. Onthou dalk maar wel dat Suid-Afrika ‘n invoerder is, en nie beheer oor internasionale olie pryse het nie. Olie word ook in Amerikaanse dollars betaal, en wanneer die wisselvallige rand verswak, het ons meer rande vir daai dollars nodig.

Jammer om die optimisme te spoil, maar daar is baie meer veranderlikes om te oorweeg.

Johanna Botha ·

Gaan dit hou met al die dom goed wat gese word en oorsee se beleggers verjaag .. praat nie eers oor eskom se groot gemors ! Maar anc sal ons stem ????

Staak saam ·

Ag nee, Elize soek goeie nuus waar daar geen goeie nuus is nie.
Die Rand het nie versterk nie, dis die Dollar wat verswak het teen oor alle eenhede.
Ek lees oor die feestyd van twee plase wat net 10% van hulle waarde op veilings behaal het, as hierdie tendens voort duur dan gaan dit n deksel op die goeie nuus plaas, want, n produksie lening moet gewaarborg word en as jou plaas nou net 1/10 werd is dan gaan die bank vir jou net 1/10 leen on te plant, dws, ons boere sal net 10% kan plant van wat hulle gewoonlik plant want dit is al wat hulle waarborg dan werd is.
Die pryse in die winkels kom nie af as die brandstof prys sak nie, inflasie word mos dan verreken teen die hoë brandstof prys.

Nader eerder vir Dawie Roodt oor ekonomiese vooruitsigte!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.