Ekonomie weer op pre-pandemie-vlak

(Argieffoto: Maroela Media)

Suid-Afrika se BBP het in eerste kwartaal van vanjaar met 1,9% gegroei en die omvang van die ekonomie is nou weer op dieselfde vlak as waar dit voor die Covid-19-pandemie was.

Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) waarsku egter die syfers is vir Januarie, Februarie en Maart vanjaar, wat beteken die ekonomiese uitwerking van die verwoestende oorstromings in KwaZulu-Natal in April sal eers in latere BBP-uitslae duidelik word.

Stats SA sê aan die produksiekant het agt van die tien bedrywe positiewe groei in die eerste kwartaal ondervind – met vervaardiging wat die beste presteer het.

Die skerp styging in vervaardigingsuitset is hoofsaaklik gedryf deur ʼn styging in die produksie van petroleum en chemikalieë, kos en drinkgoed, asook metale en masjinerie.

Finansiële, eiendom- en sakedienste, sowel as handel, het ook noemenswaardige bydrae tot BBP-groei gemaak. Handelsbedrywighede in die eerste kwartaal was lewendig en positiewe groei in groothandel, kleinhandel, voertuigverkope, en spyseniering en akkommodasie het ʼn positiewe kwartaal agter die rug.

Na ʼn sterk vierde kwartaal was die landboubedryf effens meer gedemp in die eerste kwartaal en die styging in die eerste kwartaal (0,8%) is hoofsaaklik toegeskryf aan verhoogde tuinbouproduksie.

Mynwese en konstruksie het albei ingekrimp. Dit is boonop die boubedryf se vierde agtereenvolgende inkrimping.

Besteding aan BBP

Besteding aan BBP het ook met 1,9% gegroei.

Huishoudelike verbruiksbesteding het in die eerste kwartaal met 1,4% toegeneem en  het 1% tot algehele groei bygedra.

Dit was veral besteding in die gasvryheidsbedryf waar die goeie nuus gelê het – verbruikersbesteding in restaurante en hotelle het met 6,5% toegeneem, terwyl ander groot bydraers tot groei die vervoer- (2,8%) en kommunikasiebedryf was. (2,4%).

Daar was ook groei in indiensnemingsyfers en besteding aan goedere en dienste het kop opgetel.

Vaste kapitaalvorming (wanneer ʼn onderneming byvoorbeeld ʼn nuwe fabriek bou of in nuwe toerusting belê) het met 3,6% toegeneem.

Uitvoere van goedere en dienste was 3,9% hoër.

Uitvoere van goedere en dienste het ʼn styging van 4,9% in die eerste kwartaal ondervind.

Invoere het ʼn hupstoot gekry danksy ʼn toename in die vraag na voertuie, onderdele en bybehore, ʼn vraag na minerale produkte, diere- en plantvet, sowel as papier en papieritems.

Kos en drank, basiese yster en staal, nie-ysterhoudende metaalprodukte, metaalprodukte en masjinerie, voertuie, onderdele en bybehore, en vervoertoerusting het ook ʼn noemenswaardige bydrae tot groei gelewer.

Die handel-, spyseniering- en akkommodasiebedryf het met 3,1% gegroei en 0,4% tot BBP-groei bygedra. Grootmaathandel, kleinhandel, voertuigverkope en spyseniering- en akkommodasiedienste het ook verhoogde groei ondervind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

VaalDonkie ·

Ja sure. Intussen is al die klein winkeltjies hier rond steeds leeg.

Elizabeth ·

dis vir my die grootste.probleem in SA geen aanmoedigende om ‘n besigheid te he nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.