Eskom, ruoliepryse kan inflasievooruitsig erg belemmer

Argieffoto

Eskom se aansoek vir ʼn 15%-verhoging in sy tariewe oor die volgende drie jaar en hoe die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) hierop gaan reageer, kan bepalend wees vir die land se inflasievooruitsigte.

Verskeie ekonome het tot dusver die Eskom-tariefaansoek en die moontlike styging in administratiewe pryse in die nasionale begroting aanstaande maand, as moontlike bedreigings vir die inflasievooruitsig uitgewys.

Dit volg op die bekendstelling van Desember se inflasiegegewens verlede week. Statistiek Suid-Afrika het aangekondig dat die VPI-koers 4,5% was, wat in die middel is van die Suid-Afrikaanse Reserwebank se inflasieteiken van tussen 3% en 6%.

Die ekonomiese agentskap NKC Research se hooflyn-verbruikersinflasie het merkbaar verlangsaam. Kerninflasie was onveranderd verlede maand.

Dit was die 21ste agtereenvolgende maand dat verbruikersinflasie onder die 6%-vlak van die inflasieteiken was. Hooflyn-inflasie het met 0,2% in Desember verswak teenoor die 0,2%-styging in November.

Volgens NKC Research het die land se inflasievooruitsigte aansienlik verbeter. Dit, tesame met die papper ekonomiese toestande in die land, het die Reserwebank verplig om rentekoerse onveranderd te hou by sy vergadering verlede week.

Boonop het die agentskap daarop gewys dat die monetêre beleidskomitee se rentekoersbesluit in November ’n beleidsfout was.

“Die komitee het, onder meer, nie die groot prysverlaging wat vir Desember voorspel was, in ag geneem nie. Dit het liefs op ʼn verouderde inflasievooruitsig staat gemaak om die rentekoersbesluit te neem.”

Die agentskap waarsku egter dat rentekoerse onveranderd kan bly tot in die middel van vanjaar wanneer ʼn rentekoersverhoging waarskynlik weer oorweeg sal word.

“Inflasie sal grootliks deur basiese faktore aangedryf word en kan dan weer skerp in fokus kom,” het die agentskap bygevoeg.

NKC Research wys daarop dat faktore wat vanjaar die inflasievooruitsig kan beduiwel, onder meer Eskom se Nersa-aansoek vir hoër tariewe en internasionale ruoliepryse kan wees.

Ekonome is ook lugtig oor hoe die randwisselkoers homself vanjaar sal gedra. Kenners meen ʼn verlangsaming in die wêreldekonomie, die Trump-handelsoorlog en Brexit waarskynlik ontluikende valuta soos die rand kan pootjie.

Die agentskap is van mening dat verbruikersinflasie vanjaar 4,7% kan beloop. Sy voorspelling is 5,5% vir 2020.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.