Eskom word dalk binnekort verdeel

Foto: Reint Dykema

Die hoofekonoom by die Efficient Group, Dawie Roodt, sê die regering se plan met die staatsbeheerde kragvoorsiener Eskom kan werk indien die taakspan wat die maatskappy ondersoek, se voorstelle aanvaar word.

Luidens die bespiegelinge het die taakspan aanbeveel dat Eskom in drie bedryfsmaatskappye verdeel word, wat kragopwekking, kragvoorsiening en verspreiding sal insluit.

Volgens Business Day wil president Ramaphosa reeds komende Donderdag die saak op die staatsrede aanpak.  Die berig noem dat die ANC die plan aanvaar het om Eskom in twee aparte maatskappye te verdeel en te ontbondel, en dat die saak by die party se lekgotla bespreek sal word.

Roodt sê hy is ten gunste van die stappe.

“Dit kan die baan weg om Eskom uit sy geldelike verknorsing te help. Maar dit gaan nie oornag gebeur nie. Dit sal geleidelik gebeur en tydsaam wees,” het hy gewaarsku.

Maar hy wys daarop dat ’n beter opsie sou wees om Eskom in sakeredding te sit en die regering al sy skuld oor vat.

“Dan moet die regering ophou waarborge aan Eskom uitreik. Breek dit op in drie en laat Eskom op ’n skoon blad begin,” het hy bygevoeg.

Roodt wys daarop dat Eskom se skuldlas te groot is en iets drasties daaraan gedoen moet word. Eskom se skuldlas beloop sowat R420 miljard.  Dit is juis die skuldlas wat as groot fiskale struikelblok gesien word en die land se kredietgradering bedreig.

Roodt is van mening dat indien die regering nie van stryk gebring word nie, die beoogde ontbondeling van Eskom die weg kan baan vir privatisering en groter privaat sektor-betrokkenheid by Eskom.

Hy sê kaalvuis dat wanadministrasie deur die ANC en vakbonde se halsstarrige houding die probleem by Eskom verdiep.

En beleggers koop nie juis Eskom-effekte nie juis oor die grootskaalse korrupsie wat daar ontbloot is tydens die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.

Dit is veral die Gupta-beheerde Oakbay Resources wat ten nouste met die kaping van Eskom verbind word.

Roodt sê dat Eskom nog met ’n bykomende probleem sit. Dit moet herstelwerk by sy twee nuwe kragsentrales – Medupi en Kusile – onderneem. Volgens beraming sal die herstelwerk ten minste R8 miljard kos.

“Die kostes vir Kusile en Medupi was te hoog en het langer as wat beplan is, geneem om dit te voltooi.”

Dit is juis die kostes van Medupi en Kusile, asook dringende herstelwerk by die Duvha-kragsentrale ná ’n ontploffing, en by die Majuba-kragsentrale nadat ’n voertoring ineengestort het, wat kostes en dus die maatskappy se skuld opgejaag het.

Nog ’n probleem waarmee Eskom sukkel, is die steenkoollewering van die Gupta-beheerde Optimum- en Koornfontein-steenkoolmyne.

Eskom het voorkeurpryse vir die steenkool betaal wat bykans nie gelewer word nie omdat die Gupta-myne onder sakeredding is.

En Eskom is tans in ’n taai stryd gewikkel om goedkeuring by die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) te verkry om sy tariewe met 15% oor die volgende drie jaar te verhoog.

Energie-ontleders wys daarop dat dit nie genoeg geld sal genereer om Eskom te help om van sy skuld te delg nie. Een van die probleme is munisipale skuld wat etlike miljarde rand beloop.

In een van die jongste voorleggings teen die beplande verhoging, het die Mineraleraad van Suid-Afrika daarop gewys dat, indien die verhoging goedgekeur sal word, dit die reeds sukkelende goudsektor verder kan laat bloei.

Die raad sê dat net een goudmyn uit die 21 genoteerde myne in bedryf sal bly met produksie van goud wat van 140 ton per jaar tot 20 ton per jaar sal daal.

Driekwart van die land se platinummyne sal nie winsgewend of marginaal wees nie, wat tot grootskaalse werksverliese kan lei, het die raad bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Sarel ·

Hallo Maroela, ek sal waardeer as julle aub kan help. Wat is die Afrikaanse Afrikaanse woord vir lekgotla, is dit konferensie of beraad, of kan dit beide weees. Dankie vir ‘n moedertaal antwoord.
Ek waardeer (ek verkies maar moedertaal Afrikaans).

Anja van der Merwe ·

Dagsê Sarel

Dankie vir jou navraag.

“Lekgotla” is ‘n leenwoord uit Sotho/Tswana en is ‘n erkende Afrikaanse woord (en ook só opgeneem in die AWS en die HAT). Die betekenis van “lekgotla” is spesifiek “bosberaad”, en die oorsprong verwys na die tradisionele geregshof wat uit belangrike lede van die gemeenskap bestaan.

“Lekgotla” verwys ook na ‘n beplannings- en besprekingsgeleentheid, dikwels op ’n plek waar die deelnemers weg is van hulle daaglikse werksverpligtinge.

Groetnis
Anja
nms Maroela Media

Sarel ·

Dankie Anja, ek waardeer. Ek hou maar van my suiwer Afrikaans, ek doen baie moeite om dit ten minste suiwer te hou as ek skryf, ongeag of die ander “leenwoord/e” in die AWS en/of die HAT voorkom. Dit is maar nie vir my Afrikaans nie.

Sarel ·

Skuus Anja dat ek weer skryf, maar dit is soos ek baie sterk voel dat ons woordeboeke gaan later so deurspek wees van leenwoorde uit ander tale (dalk om dit ter wille te wees), terwyl ons ‘n pragtige eie Afrikaanse woord het wat reeds opgeneem is. Ek weet dis nie julle departement nie, julle is ek ook maar gebruikers van die woordeboeke nes ek, maar ek verseg eenvoudig om daardie woord(e) te gebruik ten koste van my eie pragtige Afrikaanse beskrywende woord.

Jaco ·

@Sarel. Afrikaans het ongelukkig ontstaan uit n mengelmoes van tale…indien leenwoorde van die begin af verbied was uit ons woordeboeke, en almal van Jan van Riebeeck se dae gevoel het soos jy oor taalvermenging, sou ons nou nog hollands gepraat het en nie afrikaans nie…

Jan ·

Dis nou rerig ‘n dom idee.

Verspreiding moet die geld by die klient kry. Regte geld. Dan moet Verpreiding dit by Kragvoorsiening “koop” wat op sy beurt dit weer by Kragopwekking moet “koop”. Daardie geld is Monopoly geld. Nou ontstaan die geveg: hoeveel moet die een die ander betaal? Wie oorheers die verskaffingsketting?

Dit berus op die “verdeel en heers” teorie. Dit werk vir die vyand, is ESKOM nou hulle eie vyand? Die enigiste rede daarvoor is dat ESKOM ontbondel word en stuk-stuk verkoop word aan bv. China.

Dan ook: dit skep drie burokrasië: elkeen met sy eie hoofbestuur, Finansies, Mislike Hulpbronne ens. Teen drie keer die koste want hulle soek almal top salarisse.

SAA het dieselfde met SAA, SAA Technical, SA Express en Mango gedoen en dit was ‘n flop.

Is maar die ou storie, as sentralisiasie nie werk nie, desentraliseer hulle. Plaas hulle maak reg wat stukkend is en so neuk hulle voort.

Eendrag maak mag!

United we stand, divided we fall.

JA ·

Presies Jan, ek stem 100% met jou saam. Die maatskappy waarvoor ek 42 jaar gewerk het hier in Sasolburg het ook hierdie simpel ding gedoen jare terug deur die hele groot maatskappy in “Besigheids Eenhede” op te deel. En ewe skielik kyk elke “Besigheids Eenheid” net na homself instede daarvan om die “Back Pocket” van die maatskappy in geheel in ag te neem. Stupid….Baie stupid.

George ·

Een ding wat soos ‘n paal bo water staan is dat ons kan nie met Eskom en kraglewering in hierdie land aangaan soos dit nou is nie, dit is verseker. Ek stem met Dawie, maar dan sal hulle verseker Eskom in drie maatskappye moet verdeel, waarvan een verantwoordelik vir die verspreiding van krag EN die invordering van rekeninge is.

As betaling van krag nie aandag kry nie, sommer massief aangespeek word nie, kan die oefening maar net sowel gelos word. Ook kan daar nie toegelaat word dat krag geroof of gratis soos ‘n toelaag aan verbruikers beskikbaar gestel word nie.

Ons is dan nou al daar by die ANC se sosialisme en ideologie.

Wille Wragtig ·

Die Regering en Eishkom lieg vir ons. n Forensiese ondersoek binne-in Eishkom sal Bosassa soos n Sondag piekniek laat lyk. Beter beheer op steenkool lewering kan R40 miljard per jaar bespaar. Dank 35 000 oortollige werkers af en bespaar nog R30 miljard per jaar. R70 miljard sal die R420 miljard in 6 jaar afbetaal.

humor ·

Ek stel voor dat een deel van Eskom verantwoordelik sal bly om voort te gaan met lewering aan die nie betalende minisipaliteite en woonbuurte en sien en klaarkom sonder om die betalende belastingbetalers daarby te betrek. n Ander Eskom moet afgesonder word vir die betalende korps en hulle moet uitgelos word. Voorts kan die regering die gene subsidieer wat solilere krag wil implimenteer. Ha ha. Dit sal werk

David ·

Dít sal die beste nuus ooit wees ! Dit sal privaat kragstasies’n lewensreg gee en munisipaliteite kan by enigeen krag koop. Dit sal ook heeltemal moontlik wees om oortollige privaat sonenengie aan die netwerk te verkoop, soos in Duitsland.

Distribusie moet ook bemagtig word om agterstallige munisipale kragrekenings oor te neem, koopkrag te installeer en die gat toe te stop. As hulle nie die rekenings kan verantwoordelik bestuur nie, neem dié reg weg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.